Ek het ’n groot probleem met die uitlaatpype van die wasbakke in my woonwa. Die wasbak se uitlaatpyp is onder die woonwa te kort afgesny, met die gevolg dat vuil water op jou staanplek uitloop en jou tentarea binnestroom en poeletjies maak wat vlieë lok.
Ek weet nie of die vervaardigers van party woonwaens net suinig is, of nie dink nie.
Die handewasbak binne die woonwa se pyp is amper lank genoeg, maar dit is so styf vasgemaak met kabelstroppe dat jy dit nie in ’n opvangkan se opening kan kry nie. ’n Mens kan nie die handewasbak vir tande borsel gebruik sonder dat die tandepasta-water oral op die grond onder my woonwa is nie.
Ek het met die eenvoudige idee gekom om die uitlaatpype te verleng sodat die water wat ons gebruik in ’n opvangkan opeindig, en nie op die vloer nie.
Jy benodig ’n 25mm-buigbare leipyp (die gewone is 20 mm), lasse, kabelstroppe, PVC-gom, en metaalhakies wat die pyp vashou terwyl jy ry.
Sny die lengtes van die pype sodat dit lank genoeg is om by die opvangkan uit te kom. Gom die een ent van die verlengingspyp aan dié van jou woonwa se uitlaatpyp met die PVC-gom vas.
Die metaalhakies onder die woonwa se bakwerk klamp die ente van die pype vas sodat dit nie rond fladder as jy ry nie. Die kabelstroppe hou die pyp in die lengte aan die bakwerk van die woonwa vas. Die pype het nog nooit losgekom terwyl ek ry nie.
Sit die uitlaatpype in ’n opvangkan onder jou woonwa ná jy kamp opgeslaan het, en maak dit elke oggend leeg.



