
Chris Heunes van Shelly Point het ’n goedkoop manier gekry om van ’n gewone bakkie ’n gemaklike kitskamp te maak.
Daar is soveel pragtige 4x4-voertuie en kamptoerusting, maar party mense kan dit eenvoudig nie bekostig nie. Ons het ’n plan gemaak en toer en kamp gereeld in Afrika met ons tuisgemaakte kontrepsie.
Ons het ons enkelkajuit-4x4-dieselbakkie omskep in ’n slaap-, stoor-aantrek-, stort- en eeteenheid – en ons doen lang toere daarmee.
Wat is alles binne-in die bakkie?
Daar’s ’n dubbelbed met pakplek onder – in tien plastiekhouers wat op spoortjies agtertoe uitrol. Daar is ook twee watertenks (25 liter elk) onder die bed wat met ’n kraan na buite gekoppel is, en ’n yskas van 35 liter.
Klere word in twee plastieklaaie gepak en daar is ook hangplek.
Daar is ook 12V- en 220 V-kragpunte plus gaspunte. Die ligte is byderhand in die kajuit en ’n gereedskapkis word as trap- en dakleer gebruik. Dan is daar ook nog ’n gasbottel, opvoutafeltjie en eetgerei byderhand as ons gou iets langs die pad wil eet.
En die tente?
Op die dak bêre ons die “boudetent”. Twee pype skuif langs die bakkie se dakrak uit, en die tentflappe pas daaroor. Dié tent kan binne minute opgeslaan word.
Aan die kant word ’n storthokkie met teleskopiese pype opgeslaan en die water word met ’n 12V-pompie gepomp. Daar is ook ’n afdakkie (2,5 x 3 m) wat in ’n japtrap aan die bakkie se sykante vasgesit kan word. Die dakrak dra die stoele, tafels, gasbottels en groter items.
Die ontwerp is baie ekonomies en jy kan so te sê enige plek “stop-en-slaap”, sonder enige bekommernis.



