Dit is regtig nie moeilik om vir jou ’n lig met ’n staander te maak wat jy in die kampterrein kan gebruik nie. Ek het die verduideliking in fases opgedeel om dit makliker te verduidelik.
Jy gaan nodig hê:
- 4m PVC-pyp met 'n dikte van 40mm (R30)
- 1 elmboog-koppeling (R4)
- 2 Y-koppelings (R26)
- 1 buisie PVC Weld (R20)
- 1 lig (R25)
- hakies (R10 vir 'n pakkie van 5)
- 5m elektriese koord (R35)
- 1 driepuntprop (R7)
Mooi stewig
Neem eerstens ’n PVC-pyp en sny twee stukke van 30 cm elk en nog ’n stuk van 43 cm af. Neem nou ’n elmboogkoppeling ( a ) en las die twee 30 cm-pype aan mekaar sodat dit ’n 90º-hoek vorm.
Jy gaan ook twee Y-koppelings ( b ) nodig hê: Sit een op elke oop punt van die twee stukke 30 cm-pyp en voltooi dan die driehoek met die stuk 43 cm lange PVC-pyp. Gom nou al die koppelpunte met PVC Weld vas.Soos ’n straatlig
Sny ’n stuk PVC-pyp van 50 cm en skroef ’n reghoekige plastieklig ( c ) aan die een punt vas. Só ’n lig kos maar sowat R25. Draai ’n hakie ( d ) in elk van die kort pype in die driehoek om die lig se elektriese koord uit die pad te hou.
Trap vas
Jou braailig se voetstuk bou jy só: Vat ’n stuk 50 cm lange PVC-pyp en sny die onderkant skuin af sodat dit ’n skerp punt maak wat jy maklik in die grond kan vaskap. Plak ’n reguit koppeling ( e ) aan die ander punt van dié stuk pyp en sny nog ’n stuk PVC-pyp van 1,2 m lank wat dan jy dan vertikaal in die koppeling indruk.
Die driehoek wat jy gebou het pas nou op dié lang pyp se ander punt, gevolg deur die stuk pyp met die lig aan.
Jy kan ook die lig laat regop staan deur die pyp met die lig aan met ’n reguit koppeling aan die lang pyp te heg – dan is die driehoek nie nodig nie.
Die hele storie gaan jou nie meer as R70 uit die sak jaag nie.Nog ’n paar modifikasies

Indien jy glad nie die staander wil gebruik nie, maar sommer net die lig bo die braaiplek aan ’n boomtak wil ophang, kan jy aan die bokant van die stuk pyp met die lig aan twee hakies ( f ) indraai.
As jy wil, kan jy drie hakies ( g ) in die 43 cm-pyp inskroef waaraan jy jou braaigereedskap kan ophang.
En as jou drankie die heeltyd wegraak of omgestamp word, kan jy daarvoor ook ’n klein skinkbordjie teen die braailig vassit. Skroef twee L-brackets
( h ) teen die 1,2 m lange pyp vas, en skroef dan bo-op elkeen ’n potplantpierinkie ( i ) vas.



