Kry jy die wind van voor?
WegSleep #16 | Oktober 2009
Chris Smit

’n Konstruksie wat die paal haal

Die teleskopiese pale wat as standaard saam met die karavane verkoop word, is 1,4 m lank en pas só inmekaar dat net 60 cm van binneste en buitenste pype oorvleuel. Die konstruksie is dus nogal buigbaar en daarom nie so stewig in ’n stormwind nie.

Ek het drie versterkte, verstelbare pale (a) vir my karavaan se stoeptent gemaak wat loodreg met die wa se sypaneel loop en saam die dakraamwerk van die tent vorm. Dié tentpale gly nes jou standaard-teleskooppale inmekaar en het binne-in ’n “remskoentjie” wat teen die binnekant van die paal vasdruk wanneer jy die pale draai. Al verskil is dat my pale langer gesny is sodat daar meer van die een pyp in die ander een inpas en sodoende die speling op die paal wanneer die wind waai, beperk.

Die binne- en buitepyp is elk 2 m lank. Die pale skuif inmekaar sodat 1,8 m van die een paal binne die ander een pas, en 20 cm-enkelpyp aan elke kant uitsteek wanneer die tent opgeslaan is. Ek sit ’n sluitring (Jubilee clamps) om die binneste pyp daar waar dit by die buitenste pyp uitkom om te keer dat dit dieper inskuif wanneer die wind daaraan pluk. Terselfdertyd hou die remskoentjie die pyp van die binnekant af op sy plek.

Die kort paaltjie (b) wat in die hoofankerstuk teen die middel van die woonwa se sypaneel inpas, het ’n plastiekpunt gehad. Dié het tydens ’n storm morsaf gebreek en ek’t besluit om ook hiervoor my eie paal met ’n stewige (en dikker) staalpunt te maak. Ek moes die onderste gat in die ankerstuk groter boor om die staalpen te laat inpas.

Ek het die vier skuins pale (c) wat dwars tussen die dakraamwerk se drie lang pale inpas met twee enkellengte-pale vervang omdat die oues geneig was om by die lasplekke te  los te kom in die wind.

Die twee pale (d) wat loodreg uit die middelste dakpaal grond toe loop, staan in voetstukke (e) om te keer dat dit rondskuif. Jy kan ook vir die buitenste vier hoekpale sulke voetstukke maak. (Kyk in WegSleep #9 se Plan B hoe om dié voetstukke te maak.)

 

Dié dinge help ook

Gooi jou net uit. Stormstroppe help nie veel nie. Ek span eerder ’n net bo-oor die stoeptent wat ek op soveel plekke kan anker as wat ek reken nodig is.

Doen die twist. Die skuiwers op jou tenttoue werk met weerstand – wanneer jy die tou styf trek deur die skuiwer teen die tou op te stoot, trap elkeen van die twee ogies in die skuiwer teen ’n knak in die toumateriaal vas en hou die spulletjie in posisie.

Maar selfs dié goedjies kan mettertyd losser skuif as die wind te veel aan die tenttoue pluk. Draai die skuiwer ’n ekstra slag om die tou nadat jy dit vasgetrek het sodat daar nog meer weerstand is. Dit sorg dat die skuiwer ’n stewiger greep op die tou kry.

Kamp-kettie. Gebruik stukke opgeknipte motorbinneband in plaas van die standaard-rubberringe tussen die tenttoue en -penne. Hulle rek baie makliker en dien as skokbrekers wat keer dat die tentpenne sommer uit die grond pluk.

 

Jy hoef nie sáám net die wind te huil nie

Die maklikste is om jou woonwa met sy neus reg in die verwagte windrigting te trek, maar jy moet ook leer om windskerms optimaal te gebruik. Ons staan byvoorbeeld elke jaar by Leentjiesklip aan die Weskus aan die noordelike kant van die ablusieblok, waar jy skuiling teen die Suidooster het.

 

Jy moet ingeteken wees om oor hierdie storie to gesels. Klik hier om aan te meld.

© Kopiereg 2010 WegSleep. In Suid-Afrika uitgegee deur Media24.