Ons was onlangs genoop om ’n klein skottelbraai te koop, omdat ons onseker was oor die toestand van die braaigeriewe by ons vakansiebestem
ming.
Dié braaitjie het baie voordele: Dit gebruik baie min houtskool, is maklik om skoon te maak, en dit is boonop lekker lig en pas maklik onder die karavaanbank in wanneer ons oppak.
Dis ook baie makliker om met dié klein braai ’n lekker hopie kole aan die gang te kry.
Ek voer heel eerste die onderkant van die braai met ’n laag foelie uit sodat dit die kole en as kan opvang en die skoonmaakproses vergemaklik.
Daarna sit ek die braai se ronde kolerooster in die skottel, en steek ’n stukkie Blitz bo-op dit aan. Nou sit ek ’n groot koffieblik waarvan die bodem uitgesny is, bo-oor die Blitz, gooi die houtskool binne-in die blik en wag totdat die kole reg is.
Al wat oorbly, is om die blik op te lig – die kole sal net reg val sodat jy die braairooster kan bo-oor sit en jou vleisie gaarmaak.



