Waarom word woonwa-yskaste nie gebou met iets wat kan keer dat kos nie van die rakkies afgly terwyl jy ry nie?Hier is ’n eenvoudige oplossing: Maak vir elke yskasrakkie ’n tralie.
Jy benodig ’n wit pvc-pyp (die soort waarin die elektriese bedrading in huise gesit word), ’n maatband, ’n ystersaag en vir elke rak een stelletjie relingknoppies. Die ysterwarewinkel noem dié knoppies simple fit adapters. Dit pas oor die twee punte van ’n ronde gordynreling en die een knoppie het ’n skoef binne-in waarmee jy dit kan wyer of smaller stel.
Meet die breedte van die yskasrak en saag ’n stuk van die pyp af wat jy gaan nodig kry, sit ’n ‘vaste’ knoppie aan die een kant en ’n knoppie wat kan in-en-uitskroef aan die ander kant.
Die pvc-pyp is ’n klein bietjie dik om maklik by die knoppies in te pas. Ek het met ’n ystersaag vier kepies aan elke punt gemaak en kon toe die pypies se openinge effens kleiner druk sodat dit lekker styf by die knoppies inpas.
Sit die pyp met die gordynknoppies aan die voorkant van die rakkie en draai die verstelbare knoppie totdat dit stewig is. Dieselfde oplossing werk net so goed met ander oop rakkies in die woonwa.
Dit is ook belangrik om die yskas vooraf aan te skakel sodat dit goed koud word om vir ’n mate van inkrimping te vergoed.
Wanneer jy vir ’n langer tyd by een plek oorstaan of die yskas wil skoonmaak, kan jy die pypies maklik losdraai en verwyder.



