Ons het vir ons woonwa sy eie stoeptent van skadunet gemaak. Ek het die skadunet ’n soom gegee en ’n tweedraad-elektriese koord daarin geryg. Dis lekker stewig en ook dun genoeg om in die tentgleufie teen die woonwa se buitekant in te gly. Ons gebruik ’n gazebo se pale om dit mee te span.
Verder neem my man altyd ’n boor saam Wildtuin toe. (Dis maar waar ons elke jaar ons tentpenne inslaan – vir seevakansies huur ons ’n huis.) Die grond is ongelooflik hard en om tentpenne in die Laeveldse son te sit en inslaan, is nie ’n grap nie. Ons het een jaar by ’n ervare kampeerder geleer dat ’n boor ’n moet is. Ons gebruik ’n lang boorpunt. Dan is die tentpenne sommer tjoef-tjaf in die grond en staan die tent vinnig.



