Gee my net (die regte) krag
Ek staan gereeld in ’n kampterrein waar net 220V-kragsokke is, en dan kan ek nie my 12V-toestelle (soos ’n buitelig) gebruik nie. ’n Mens kan bloot ’n omskakelaar gebruik, maar dan is daar net plek vir een toestel. Ek is ook skrikkerig om dit aan my kar se battery te koppel, want dit gebruik te veel krag. Daarom het ek dié plan gemaak, sodat ek meer as een 12V-toestel op ’n slag kan gebruik.


1. Monteer twee koperpypies soos dié aan die agterkant van ’n gewone huisgeiser op ’n houtblokkie en sit stukkies rubber van 5mm dik tussen die plankie en die koperpypies in. Slaan die pypies effens plat. Hoe langer die koperpypies, hoe meer toestelle kan jy koppel.
2. Maak ’n aansluitsok (adaptor) aan die agterkant van die houtplankie vas en koppel die sok en koperpypies met twee elektriese drade aan mekaar. Skroef die draadjies aan die koperpypies vas met verbindingsogies en skroewe vas wat jy by enige ysterwarewinkel kry.

3. Die volgende stap is om die driepuntprop van die omskakelaar by die kampterrein se sok in te prop. Die ander deel prop jy dan in by die sok aan die agterkant van die plankie. Dan skakel dit die elektrisiteit om van 220V in 12V.

4. Vat nou ’n krokodilklamp en haak die een klamp (negatief) aan die een koperpypie, met die ander een (positief) aan die ander koperpypie – en die teenoorstaande punte aan twee koperpunte van die toestel se kragpunt. Jy kan ook hakies bo-aan die plankie inskroef om dit op te hang.



