Elke somervakansie, wanneer ’n mens smiddae in jou woonwa lê en rondrol van die hitte, verwens jy jouself dat jy nie maar die week voor julle vertrek lugreëling laat installeer het nie. Jy moet elke nou en dan opstaan om jou kop in die yskas te gaan druk en teen dié tempo gaan die voorraad Coke-en-ys ook nie lank hou nie.
Nee wat, hou op sweet en swets en kry vir jou karavaan ook ’n “verkoelertjie”.
Hoeveel kos lugreëling?
Die taak, onderdele en arbeid ingereken, kan jou enige iets van R4000 tot R8000 uit die sak jaag. Die prys hang af van watter soort woonwa jy het en watter sterkte lugreëlaar jy verkies.
Die grootte lugreëlaars wat vir woonwaens geskik is, wissel tussen 9000 en 12000 BTU (British Thermal Unit). ’n Lugreëlaar se BTU dui op die hoeveelheid termiese energie (of hitte) wat deur die stelsel uit ’n sekere ruimte verwyder kan word. Eenvoudiger gestel: ’n Groot woonwa gaan ’n lugreëlaar met ’n hoër BTU nodig hê om die binneruim doeltreffend koel te hou.
Wat is die beste plek vir ’n lugreëlaar?
Die algemene reël is: Hoe hoër, hoe beter. Die duurder verdeelde eenheid (split unit) kan byna op enige plek in ’n woonwa inpas.
Die binne-eenheid weeg maar ongeveer 5kg en kom gewoonlik teen die voorkant van ’n kas vas, met die pype wat deur die kas na die vloer en dan onder die wa langs na die buite-eenheid in die neuskas loop.
As daar nie in die neuskas plek is vir die boks nie, kan dit oop op die A-raam of op ’n spesiale rak agterop die woonwa gemonteer word.
Dit is noodsaaklik dat dié boks genoeg lugvloei kry sodat dit nie oorverhit nie, maar die warm lug van binne af voldoende kan uitblaas.
’n Venstereenheid (een boks wat aan weerskante van die sypaneel vaskom) is nou wel goedkoper, maar die motortjie binne-in maak ’n geraas wanneer die lugreëling aan is. Dié soort lugreëling word gewoonlik onder op die vloer of bo-op ’n kassie teen die raamwerk van die woonwa se sypaneel vasgesit.
Omdat koue lug daal, werk dié eenhede nie altyd so goed nie. Jou bene koel af, maar jou bolyf bly warm.
Wat is fout met my lugreëling?
Wanneer jou lugreëlaar nie meer koue lug uitblaas nie,
is een van drie dinge gewoonlik die oorsaak. Maak eerstens seker die kragpunt waarby jou woonwa ingeprop is, lewer wel 220V.
Kyk dan of daar genoeg ruimte om die buite-eenheid is om die warm lug te kan uitblaas. As jy nog steeds nie die sondaar kon opspoor nie, het jou lugreëlaar moontlik ’n lekplek.
In só ’n geval is dit beter om die eenheid so gou as moontlik na ’n werkswinkel te neem, want as jy dit aanhou gebruik, kan dit groot skade veroorsaak. ’n Tegnikus kan die lugreëlaar se pypies vir ’n lekplek toets met ’n appa-raat waarvan die vlam heldergroen verkleur wanneer dit met die lugreëlaar se nie-vlambare gas in aanraking kom.
Dit kos ongeveer R500 tot R700 om die gas te laat vervang. As jy egter die lugreëlaar met lekplek en al laat loop het, kan die stelsel mettertyd vogtige lug van buite af insuig – een druppel water is genoeg om die gasvloei binne-in die stelsel heeltemal te stop en dan sal jy maklik R2500 moet opdok om die pypies te laat droogskoonmaak.
Skakel dus jou lugreëlaar se verkoeler af en gebruik net die waaier-funksie as jy nie dadelik by ’n tegnikus kan uitkom nie. Jou gesin gaan dalk brom, maar op dié manier spaar jy geld vir nog ’n paar roomyse by die kiosk.
Maak seker
Dit is noodsaaklik dat enige elektriese installasie in ’n woonwa altyd veilig en volgens SABS-standaarde gedoen word.
’n Lugreëlaar kry gewoonlik sy eie driepunt-kragpunt binne-in die wa en dié moet ook deur die woonwa se aardlekkasie gaan.
Jaco van den Berg is die eienaar van die Pretoria-Oos-woonwakliniek (www.ptaooswoonwakliniek.co.za).
.jpg)



