Pappa,waar’s ons nou?
Jou vrou het gepleit dat julle aanwysings vra, maar jy was vasberade om sélf te navigeer – en toe verdwaal jy! Dis tyd om ’n GPS aan te skaf. Jy hou dalk net jou huwelik ook op die regte spoor...
Teks Sophia van Taak; Foto’s Verskaf

Ja, jy kán sonder ’n GPS klaarkom. Seevaarders en ontdekkingsreisigers het immers eeue lank die hele wêreld deurkruis met niks meer as ’n handgetekende kaart en ’n kopmas nie. Maar waarom sal jy sukkel as jy eenvoudig ’n “tannie” in jou kar kan hê wat vir jou presies beduie waar om te ry? (Nee, ons praat nie van jou skoonma nie. – Red.) ’n GPS maak die lewe makliker – mits jy die regte een vir jou behoeftes het en weet hoe dit werk.
Wat het ek nodig?
Wanneer jy begin rondkyk vir ’n GPS, kan jy die modelle volgens ’n paar kriteria vergelyk.
Hou dié dinge in gedagte:
’n Gidshond in jou hand ’n GPS se hoofdoel is om vir jou ’n roete van punt A na punt B uit te werk en jou dan met maklik verstaanbare aanwysings soontoe te lei. Die meeste modelle is só geprogrammeer dat jy ’n adres of jou bestemming se lengte en breedtegraad kan intik, óf jy kan uit ’n lys voorafgebergde adresse kies waarheen jy wil ry.
Op sommige GPS’e kan jy ook bloot met jou vingerpunt op ’n plek op die kaart tik om ’n eindbestemming te identifiseer. Dis ook nuttig as die GPS ’n lys het van die Plekke Van Belang (PVB’s) in jou direkte omgewing en jy dan daaruit kan kies.
Waar’s ons nou? Met behulp van die toestel kan jy jou huidige GPSkoördinate en naaste straatadres uitvind. Die meeste GPS’e het ’n “Waar is ek?”of “Help my!” funksie wat jou in staat stel om met die druk van ’n paar knoppies die kontakbesonderhede van jou naaste polisiekantoor, dokter, hospitaal, nooddiens en AA-padbystanddiens te bekom.
Is daar slaggate in die pad? Maak seker jou GPS se padkaarte gaan nie jou kredietkaartrekening in tamatiestraat laat eindig nie. Elke GPS het ’n klompie kaarte wat reeds gelaai is, maar die opgraderings en kaarte vir ander lande moet jy koop. Maak eers jou sommetjies en kyk watter produk se kaartpakket jy op die lang duur kan bekostig.
Wat doen hy nog?
Hou dié lysie in gedagte as jy ’n produk met meer as net die gewone funksies wil koop.
Wat sien ek alles? Word PVB’s soos hospitale, restaurante, kampterreine en polisiekantore op die kaart vertoon? En kan jy sommer op die toestel dié plekke se kontakbesonderhede naslaan of moet jy steeds 1023 van jou selfoon af bel?
Hoe slim is hy? Is die GPS se aanwysings só akkuraat dat jy presies by die regte adres beland, of vat hy jou net tot in die regte straat, maar dan moet jy steeds ’n U-draai maak omdat jy reeds by die plek verbygery het?
’n Ander pad? ’n Goeie GPS behoort blitsig vir jou ’n alternatiewe roete uit te werk indien jy van sy voorgestelde een afwyk. In dié geval moet jy dan ook kan kies watter soort roete jy wil volg (byvoorbeeld die vinnigste of die kortste). Jou GPS moet jou die keuse gee om sekere bedrywige hoofroetes en tolhekke te vermy.
Indien jy op pad na die kampplek toe eers by ’n plaasstalletjie wil inloer, moet die GPS só ’n kleiner halte as ’n punt op jou aangepaste roete kan bereken en jou steeds van daar af tot by die eindbestemming lei.
Werk hy maklik?
Soos met enige tegnologie maak dit nie saak hoe oulik die toestel is nie; wat regtig tel, is of jy dit sonder ’n gesukkel kan gebruik.
Wat staan daar? Hoe helder vertoon die aanwysers en ikone op die skerm? Kan jy dit steeds in direkte sonlig lees, en verander die skerm se beligting outomaties wanneer dit aand word of as jy dalk by ’n donker parkeerarkade indraai?
’n Groter, reghoekige skerm sorg vir beter sigbaarheid, maar sulke GPS’e kos gewoonlik ook ’n bietjie meer as die gewone vierkantig modelle.
Het jy tik as ’n vak gehad? Die letters op die meeste GPS-toetsborde vertoon bloot alfabeties in rye onder mekaar.
As jy egter baie op ’n rekenaar werk en aan ’n Qwerty-toetsbord gewoond is, is dit beter om ’n model te kies waarop jy kan kies watter toetsbord jy wil gebruik.
Man, waar’s daai ding nou? Maak seker die GPS se spyskaarte is logies ingedeel, met soortgelyke funksies wat saam op een skerm gegroepeer is. Jy behoort ook nie te veel keer op die skerm te tik om van die een spyskaart na ’n ander oor te skakel nie – dié dinge moet binne hoogstens drie stappe gedoen kan word.
Stap vir stap Jy het nou jou bestemming ingetik, maar wil net gou seker maak waarlangs die roete min of meer loop voordat jy dinge aan die blikbrein oorlaat. Daar is ’n paar maniere waarop jy dit kan doen: sommige GPS’e zoem uit en wys vir jou ’n groter gebied met die roete wat al die pad van jou vertrekpunt af tot by die bestemming aangedui is.
Ander kan weer vir jou die pad wat jy gaan ry, in ’n reeks beeldgrepe uitspeel wat elke punt waar jy moet draai, chronologies aandui.
Die beste opsie is egter om op die skermpie na ’n vinnige demonstrasie van die roete te kan kyk – presies soos wat jy dit gaan ry. Party GPS’e kan ook vir jou die aanwysings punt vir punt uitskryf – dit is baie nuttig as jy vinnig vir iemand oor die telefoon wil verduidelik hoe om iewers te kom.
Gaan die nie my aandag aftrek nie?
Nee. Dit is juis die ding wat GPS’e ’n voorsprong gee op ’n gewone kaartboek– sodra jou roete uitgewerk is, hoef jy eintlik nooit weer na die kaart op die skerm te kyk nie.
Staan hy stewig? ’n GPS het ’n voetstuk wat teen jou motor se voorruit vassuig. Dit behoort van kant tot kant te kan stel en dalk selfs heeltemal in die rondte draai sodat jy die GPS teen die regte hoek kan staanmaak om die skerm duidelik te lees. Kyk ook of jy die GPS maklik kan inklik en weer uithaal – sonder om daaraan te pluk en in die proses ook die stuurwiel te ruk.
In jou moedertaal Jy kan kies in watter taal die toestel vir jou die aanwysings voorlees terwyl jy ry. Van die slimmer modelle sê ook vir jou vroegtydig om van bane te verwissel as jy binnekort moet afdraai.
Die nuutste GPS’e kan selfs vir jou die straatname uitlees soos dit op die skerm verskyn.
Luister na my Buiten vir die intydse kaart wat op die skermpie wys, kan ’n GPS ook ander inligting deel sonder dat jy jou oë van die pad af hoef te haal.
Sommige modelle herinner jou om ’n slag af te trek en bene te rek, waarsku as jy vinniger as die spoedgrens ry, en herinner jou selfs om hom saam te neem wanneer jy langs die pad vir ’n Wimpy-burger stop (sodat hy nie gesteel word nie).




