Ek het vir my ’n travel blanket – die soort wat jy vir beskerming oor die voorkant van jou woonwa trek wanneer jy sleep – van PVC laat maak.
Die PVC is maklik om te was en skoon te hou. Aan die binnekant het ek ’n hondekombers laat vaswerk om te keer dat die PVC teen die woonwa skuur.
Ek het ritssluiters aan al die openings vir die voorste trekhandvatsels, voor die venster en die neuskas se deur laat aanwerk. Aan die kombers se kante is ook lang ritssluiters. Met die ritssluiters kan jy alles makliker oop- en toemaak en dis makliker om die gedoente op te sit en af te haal.
Aan die onderkant van die neus het ek vier hakies, twee aan weerskante van die A-raam, vasgebout. Op die kombers is ooreenstemmende ogies wat daaraan vashaak. Dit help om die kombers styf te trek.



