Weenen Natuur Reservaat
Nuwe forum onderwerpe
Het enigiemand al by Weenen Natuur Reservaat in KwaZulu-Natal Midlands/Berg area oorgestaan?
My man het 'n paar jaar gelede daar fiets gery en toe het ek nou onlangs in Wegsleep weer gelees van die klein kampeerterrein op Weenen Nat.Res. gronde. Daar is blykbaar 12 staanplekke waarvan 7 elektrisiteit het. Ons gaan vir die naweek van 23-25 Julie daar kamp. Ek wil graag vir ons twee seuntjies die wilde diere wys (hopenlik op 'n veilige afstand, want klein R sal hulle sommer stormloop) en ek dink dit sal 'n ondervinding wees om een van die "staproetes" te stap. Die dame deur wie ek bespreek het sê ons het tot dusver die kamp vir onsself, daardie naweek.
Enige inligting is welkom. Ek is baie opgewonde. Hoop my man gaan ook so voel aangesien dit vir hom 'n verjaarsdag verrassing is.
Sjoe, dit klink wonderlik - dankie vir die terugvoer Elize!!
Is dit 'n maklike pad vir 'n padkaravaan?
Groete,
Jacques
Ja Jaques, die hele pad tot daar was teer. Die kantoor is by die hek, nie eers 100m nie. Dan is die eerste deel van die pad na die staanplekke teer/gruis, en daarna goeie grondpad. Ons het 'n 1981 Jurgens Fleetline I so rowwe pad is nie vir ons nie. Die selfry-roete in die park is hier en daar bietjie rof, maar as jy dit stadig vat sal jou kar dit maak. Daar is ook 'n roete vir LDV-voertuie, wat ons natuurlik nie kon ry nie.
Ah, baie dankie Elize!
Groete,
Jacques




Ek sleep 'n Jurgens Fleetline I met 'n Citroen Xzara Picasso 2.0 Diesel
Ons was daar en al weer terug. Dit was heerlik!
My man het die opset onthou van toe hy fiets gery het, maar ek nie. Die ontvangskantoor by die hek is in dieselfde gebou as die ablusieblok en buite kombuis. Dit is redelik eenvoudig maar skoon en netjies. Met baie warm water! Wel ons was die enigste kampeerders, so daar was meer as genoeg.
Omdat ons klein seuntjies het, het ons sommer die krag staanplek oorkant die ablusieblok gekies. Die staanplekke se gras is netjies kort gesny met kaal bome (dit is tog winter) hier en daar op 'n staanplek. Jy moet mooi trap dat die bok-landmyne jou nie uitvang nie, en as jy dink jy weet waar hulle is, dan verras die bokke jou met nuwes die volgende oggend. Hou ook 'n ogie uit vir Acacia dorings.
Van ons staanplek kon jy net-net die een watergat sien en die volstruise wat dit hul permanente "woning" gemaak het. Dit was ook baie snaaks om saans 'n diep "ho-ho-ho" te hoor, soos leeus soms maak, en te moes uitvind dis die volstruis mannetjie! Die jakkalse het ook nie op hulle laat wag nie, en my man is oortuig dit was een van die buinrug jakkalse wat ons kom beloer het een aand.
Die volgende aand het ek en hy 'n kort entjie met die pad afgestap. Daar was iets groots wat in die veld weg van ons af gestap het. Toe ons omdraai om terug te gaan kamp toe, bars 'n bul van 'n vlakvark hier neffens ons uit 'n stormwaterdrein en nael oor die pad dat jy net stof sien staan. Ek was asvaal geskrik.
Ons het Saterdag- en Sondagoggend die self-ry roete gevolg en is aanvanklik bietjie teleurgesteld. Koedoes, koedoes, en nogmaals koedoes, so hier, daar en orals in groepies van vier of vyf. Amper soos rooibokke in die Kruger. Maar toe sien ons die rûe van twee witrenosters (hulle het gras gevreet en nie blare/takkies nie), en daarna volg zebras, hartebeeste, kameelperde, nog vlakvarke en elande. Voëls was ook te sien: van volstruise witbors kraaie, tot 'n tipe wewer, 'n arend (?) en spreeus. Sondagoggend net voor ons kamp opgeslaan het, het 'n reier in een van die bome by die ablusieblok kom sit en die petalje dopgehou.
My man was ook beindruk met die hoeveelheid plante diversiteit en hy beplan al klaar om iewers in Oktober weer te gaan kamp om die veld uit te kyk. Daar is drie piekniekplekke waar jy rustig kan sit en vleis braai en die natuur om jou bekyk.
So in kort - dit was 'n heerlike wegkom kans, en die seuns was in vervoering met die baie diere.
.