Bush 'n Buck
Nuwe forum onderwerpe
Moet met Skippie saamstem, sal graag eers wil hoor wat is die terugvoer van mense wat die kampplek op die proef gestel het. Ek het al te veel keer 'n bloutjie geloop met pragtige webtuistes, en glo nou dat persoonlike terugvoer die beste bemarker vir my is...
Al wat my terug sit is...
Our Caravan Park is opening on the 1st of December 2010. Due to a huge demand for early bookings, we have started taking bookings now for December
Ek stem Skippie. Dit is soms so dat die webwerf te pragtig lyk en dan steek die plek heel af. 'n Mooi werf is ook soms 'n aanduiding dat die ouens die hele ding reg aanpak. Ek is soms bang om 'n plek te probeer wat gladnie 'n werf het nie - liewe genade, dis mos 'n maklike ding om te doen en nie meer so duur nie.
Ek sal hom nogal 'n probeerslag gee, maar sal moet sien wanneer...
Groete,
Jacques
Ek stem Jacques. Ek sal dit ook sommer n "go" gee en bespreek. Vroeg volgende jaar.
Manne
Ek weet van die plek van so 3 jaar terug se jag sessie. Luuks Luuks Luuks!!!
Die Kampe wat op hulle web werf genoem word was die akkomidasie vir die jagters Destyds. Daar word nie meer gejag op plaas en is so teen die begin laas jaar oop gestel vir die publiek om as groepe die kampe kan bespreek. Dit was nog op daai stadium nog net u droom en lugkasteele toe die eienaar net 5 boskamplekke wou inrig en het toe nooit weer daarvan gehoor of weer daarna toe terug gegaan.
Dit was vir my nogal nuus toe ek die draad lees en sien hoe hulle droom waar geword het. As hulle kamp staanplekke is waar hulle vir my destyds uitgewys het, gaan ek vir julle se, dit gaan baie lekker wees, so regte luukse boskampery in die bos. Hierdie is u baie luukse lekker privaat plaas wat hulle onskep het. Glo vir my, die plek kom nie goedkoop nie, maar alles wat jy sien, doen en wat ook al, dit is elke cent jou geld werd.Daar gaan jy op die hande gedra word. Veel verder sal ek nie meer kan uitbry maar ek gaan uitvind vir toekomstige kampe.
Eddie
Dit klink goed Eddie! As die mense se aanslag reg is, sien ek net goeie dinge wat kom.
Hou ons asb op hoogte van wat jy verder uitvind.
Dankie,
Jacques
Hi Manne!
Wel my plek is bespreek van die 27 April tot 2 Mei. Ek sal gaan kyk hoe lyk dit daar en my terug voering gee. Sal julle op hoogte hou
Dit klink goed Karel - ons hou dop vir jou terugvoer.
Dis net die pad soontoe wat my nog pla... 
Groete,
Jacques
Gaan die paasnweek kamp by Bush 'n Buck naby Brits. As iemand onlangs daar was, laat weet my hoe dit was asseblief.
Ons het net eendag daar gaan inloer, is baie mooi maar omtrent geen skadu nie, die bome is nou aangeplant en nog baie klein, alles in die kamp plek is nog splinter nuut, sal ook nog daar wil gaan kamp
Ons het paasnaweek daar gaan kamp. Dit was oor die algemeen baie lekker. Die kleedkamers was net (na my mening) nie genoeg nie. Dit is egter baie netjies. Hierdie tyd van die jaar het die kaal koeltebome glad nie gepla nie. Die diens is puik. Daar was probleme met die elektrisiteit en water, maar alles is onmiddellik aan aandag gegee.
Daar is BAIE om te doen. En die kostes is baie billik - amper verniet. Ons het gaan wild kyk. Daarvoor huur jy 'n gholfkarretjie teen R 35 per uur. Rêrig. Dis al. In 'n uur het ons koedoes, zebras, rooibokke en blesbokke gesien.
Daar is 'n gholf driving range, warm swembad, tennisbaan. En die kinders het die fietse geniet. Oor die naweek het hulle ook 'n springkasteel en slip-'n -slide opgeslaan.
Met ons vertrek het die dame by ontvangs ook gesê dat hulle die fasiliteite in die wintermaande gaan opgradeer.
Ons sal beslis weer gaan.
Dankie vir die terugvoer Heleen!
Hoe lyk daai pad anderkant Brits?
Groete,
Jacques
Hi Almal!
Jip ons was self ook daar gewees van die 27ste april tot 2 de Mei. Die oord was baie netjies en dit kan jy ervaar die oomblik as jy instap by ontvangs. Louise mede eienaar van bush 'n Buck help graag en probleme word onmiddelik aangespreek. Die badkamers was netjies en ons het altyd warm water gehad. Dit word gereeld skoon gemaak en die feit dat alles basies familie badkamers is is vir my 'n plus punt. Ons het nie probleme gehad met oorvol nie want daar was nog redelik baie staan plekke oop. Behalwe vir die een stort kraan wat los gekom het terwyl ek probeer stort het wat ek sommer gou gefix het met die bobbejaan spanner nadat mamma gou bakkie toe gehardloop het was alles nice. Ons het ook 4 keer die golf karretjies gehuur teen 'n bilike R35 per uur. Ons het Blou wildebeeste, Zebras, Koedoes en Gems bokke gesien. Ons het ook 'n paar keer met die fietse gaan ry en maak nie saak hoe onfiks jy is nie die pad is gerieflik om te ry. Die klubhuis is baie nice ons het daar gaan kyk hoe wen my span die sharks (jammer sharks ondersteuners).
Die warm swembad was aan die koue kant maar voldoende vir die kinders. Baie mooi putt putt baan. Ek het die driving range geniet R20 vir 50 balle. As jy op die driving range staan wei die koedoes so oor die gras voor jou.
Die staan plekke is redelik gelyk en mooi gras. Koelte bome is bietjie aan die min kant veral vir die sommer maar vir die tyd van die jaar was dit voldoende.
Al wat my bietjie gepla het dis naby aan die R511 Thabazimbi pad so dit raak nogal besig met tye. Dan die goorste gedeelte is die pad van brits tot na Kokoriba. Party plekke moet jy stop en jou kar in eerste sit en maar kies deur watse pot hole jy gaan ry.
Verder kan ek die oord voorskryf vir enige iemand wat 'n naweek wegbreek soek nie ver van die huis nie. Sal dit aanbeveel vir my vriende ook. Gee Bush 'n Buck gerus 'n try!
Hallo Kêrels. Ek is nuut hier. Wil net vir julle sê ons ervaring was nie so aangenaam nie. Hier volg my bydrae.
Kamp Staaldraad - Bush 'n Buck Noordwesprovinsie
Einde November 2011 maak ek klaar by die werk. Dis 'n Woensdag en ek en vroulief het beplan om die Donderdagoggend te gaan kamp vir 'n paar dae. Ons het rondgebel en besluit dat ons Bush 'n Buck naby Beestekraal wil gaan uitprobeer. Ons skakel en bespreek 'n plek, maar toe breek die kar en ons kanselleer. Die volgende dag kry ek die kar reg en ons bespreek weer, maar van die Maandag af tot die Donderdag.
Maandagoggende vertrek ons van die huis af en kom so ongeveer 12:00 by Bush 'n Buck aan. Ons word vriendelik ontvang en na 'n staanplek verwys. Die staanplek is nie heeltemal toeganklik vir ons Exclusive nie en ons vra of ons op 'n ander staanplek kan staan. Ons word vertel dat ons enige staanplek kan gebruik en slaan toe op 'n ander staanplek kamp op. Toe ons uit die kar klim word ons oorval deur die vliëe. Honderde van die peste sak op ons toe.
'n Vriendelike kêrel met die naam Sibusisu kom bied hulp aan met die opslaan van die tent. Hy help my verskriklik baie en vertel my dat ek eers moet bel as ek die winkeltjie wil gebruik aangesien hulle dit slegs op versoek vir ons sal oopmaak. Ons merk toe op dat ons die enigste mense in die woonwapark is wat vir my so 'n bietjie verbaas aangesien die dametjie by wie ek die bespreking gedoen het by my die indruk gelaat het dat daar darem nog plek vir ons is. (Ek voel sy kon ons gewaarsku het dat ons die enigste mense in die park is en dat daar dus minder fasiliteite beskikbaar sal wees of dat sekere dinge nie in werking sal wees nie). Sibusisu sê ook vir ons dat hy 'n skrynwerker is en dat hulle besig is om 'n nuwe restaurant te bou by die swembad. By navraag oor waar die warmwater swembad is, kry ons aanwysings en word ook vertel dat hulle nie tans die water warm maak nie aangesien hulle eers besig is om die water te filtreer en dat dit drie dae neem en dat hulle nie voor dit klaar filtreer is die water kan verhit nie. Dit is 'n teleurstelling maar ons besluit om die beste van 'n slegte saak te maak en die tyd as 'n tydperk van rustigheid te benut. Ons word ook verwittig dat net een van die ablusieblokke se water verhit is. Dit is vir ons aanvaarbaar in die lig van die feit dat ons die enigste mense in die woonwapark is.
Ons eerste gedagte is dat die woonwapark baie netjies is en dat die ablusiegeriewe baie netjies en skoon is. Die gras is lieflik groen elke staanplek het 'n kraan en kragpunt en alles is in puik werkende toestand. Daar is ook 'n braaier by elke staanplek en alles lyk amper militaristies perfek. Die water in die ablusieblok word met 'n vuur verhit en is slegs baie lou toe vroulief gaan stort. Darem nie so koud dat sy verkluim nie en ons besluit om maar eerder die stort in die Exclusive te gebruik. Die toilette en badkamers word gereeld skoongemaak en die personeel is baie vriendelik.
Teen vroegaand besluit ek om 'n vuurtjie aan te steek. Ek koop hout en brikette by die kantoor en steek 'n vuur aan. Die vliëe raak rustiger en die nagwag kom stel homself aan ons voor. Sy naam is Ngone en hy kom van Zimbabwe af. Hy werk nog net twee dae daar. Net toe ons die vleis op die vuur sit kom maak hy homself so twintig treë van ons af rustig terwyl 'n vriend by hom aansluit. Hulle sit en gesels net hard genoeg dat hulle gesprek soos 'n eentonige gedreun die hele tyd in die agtergrond ons versteur en om eerlik te wees voel dit vir my asof hy dalk my vleis wil hê. Nadat ons geëet het, besluit ons om maar te gaan slaap weens die steurende gepraat. Die oomblik toe ek die stoele indra verkas die vriend en die nagwag en dit raak stil. Ons gaan slaap en ek word seker drie maal in die nag wakker. Teen drie uur die oggend merk ek op dat die ligte rondom ons kampplek afgeskakel is. Dit laat my so effens bekommerd. Nuwe wag werk slegs twee dae daar, kom van Zimbabwe af... Maak maar self die somme. Die volgende oggend besluit ons om maar Brits toe te ry, gewapen met 'n lysie van goed wat ons moet kry. Insektegif vir die vliëe, 'n vliëeplakkie, 'n waaier vir die hitte en om die vliëe uit die tent en woonwa te probeer hou, so bietjie roomys vir die aand en nog 'n bietjie vleis. Ons bring toe sommer nog 'n paar kosdingetjies saam vir die volgende twee dae. Op pad uit by die hek meld ek die swembad en die nagwag se manewales en sê ek wil nou nie moeilikheid maak nie maar dink ek moet dit net meld aangesien dit vir my effens vreemd en later selfs verdag was. Alice-Ka by die kantoor vertel my dat hulle dit sal aanspreek en sê vir my dat die swembad se water warm moet wees en dat sy nie bewus is daarvan dat die filtrering 'n probleem is nie.
Ons wil by die hek uitry en vind dat daar niemand is om oop te maak nie. Daar is 'n slot aan die hek en ons kan dit nie self oopmaak nie. Alice-Ka loer by die deur uit stap na agter en kom terug. Nike gebeur vir 'n verdere 5 minute nie. My vrou klim uit en probeer kyk of die slot nie dalk net ingehaak is nie maar sien dat dit wel gesluit is. Sy stap na Alice-Ka toe en vra of hulle kan oopmaak. Na nog 'n minuut of so verskyn daar 'n kêrel en hy maak die hek oop. Ons ry Brits toe en doen ons inkopies en gebruik sommer die geleentheid om ons kampeertoerusting effens aan te vul by Brits Woonwaens.
Ons kom so na 12:00 weer by Bush 'n Buck aan. Die plek is warm en die woonwa nog warmer na die toestaan van die oggend. Ons sit die waaier aan en maak die vensters oop. Slaan 'n paar vlieëe dood en gaan soek toe 'n skadu plekkie onder 'n boom. Later gaan ons swembad toe. Die water is koud en die hele plek is vol werkers wat daar besig is. Ons koel af in die swembad en gaan terug kampeerplek toe. Ons is uiters verveeld en besluit ons sal die volgende oggend 'n golfkarretjie huur om na die wild te gaan kyk aangesien dit te warm is om te ry op die hitte van die dag.
Die aand maak ons weer vuur. Die nagwag daag op en groet uit die verte. Ons hoor niks weer van hom nie en sien net nou en dan wanneer hy opstap om na 'n draad te gaan kyk of 'n verdagte geluid te gaan uitkyk. Ons sê vir mekaar dit is gaaf, hulle het met hom gepraat. Die vliëe het gaan slaap en die vuurtjie brand lekker. Ek en vroutjie drink whisky en ek besluit om die woonwa se tenk vol te maak sodat ons 'n stort kan vat voor ons die kop gaan neerlê. Ek sien water onder die woonwa uitkom en begin hond se gedagte kry. Ek vra vroulief moet binne kyk wat aangaan en sy gil: "Die hele karavaan is onder water!" Ek draai vervaard krane toe en ons droog vloere op. Al ons kartondose onder die banke waarin ons ons toerusting bêre is nat. So ook die ekstra kussings vir die dinet wat omskakel in 'n dubbelbed. Na ongeveer 'n driekwartier is alles behalwe die kussings droog en ek bel Lucas by Brits Woonwaens en vra dat hulle die volgende dag dringend iemand uitstuur om die pyp reg te maak aangesien dit een van die items was wat hulle aan gewerk het om onder waarborg fabrieksfoute reg te maak. Ons kom ooreen dat hulle die volgende dag iemand sal uitstuur. Ek stap vuur toe. Die vuur het gevrek en my whisky se ys het gesmelt. Ek steek die vuur weer aan en gooi nuwe ys in my whisky, sluk dit vinnig af en gooi nog so 'n dubbeltjie en sê vir vroulief, vanaand gaan ons nie vroeg slaap nie. Sy stem in en ons sit by die vuurtjie wat nou lekker knetter. Ons geniet die stilte behalwe vir die geraas van die verkeer op die besige Thabazimbi pad wat reg langs die woonwapark verbyloop.
Die res van die aand verloop sonder enige insidente en na ons gebraai en geëet het besluit ons om die skottelgoed buite op die opwasrakkie te los en maar te gaan inkruip. Ek slaap soos 'n baba en word eers sesuur die volgende oggend wakker. Daar is geen krag nie. Ek besluit om solank die waterpyp reg te maak, gaan haal my gereedskap en maak die kas se panele oop. Die pyp het uitgetrek en ek sit dit weer aanmekaar en laat weet Brits Woonwaens hulle kan maar los ek het klaar die probleem opgelos. Ek stap uit om die watertenk vol te maak en sien daar is nie water nie. Ek bel die selnommer vir die oord om te vra of hulle bewus is dat daar geen krag en water is nie en hulle verwittig my dat Eskom die krag afgesit het om daaraan te werk en dat dit eers agtuur die aand weer gaan aankom. Ek sê vir hulle dat ek 'n probleem het want ons sit met 'n 280 liter yskas vol goed wat nie in die hitte die dag gaan deursien nie. Hulle bied aan dat ek hulle yskas kan gebruik en dat hulle die kragopwekker sal aanskakel om vir ons water te voorsien. Hulle sal ook by ons 'n draai kom maak. Dis op die stadium dat ek en vroulief mekaar een kyk gee en soos een man sê: "That's it! Nie 'n oomblik langer nie. Ons gaan maar pak en ry". Ek probeer 'n paar maal tevergeefs om die mense van die oord in die hande te kry om vir hulle te sê ons gaan maar oppak en begin toe maar skoonmaak en oppak. Daar is steeds geen water nie en gelukkig het die Exclusive 'n halwe tenk vol water, sodat ons die skottelgoed en tafels kan was voor ons dit wegpak.
'n Rukkie later kom die oord se dames daar aan op 'n golfkarretjie en vra verbaas of ons dan nou oppak. Ek sê vir hulle, ja dit was nou vir ons net een te veel, aangesien ons nie eers kan koffie maak nie. Hulle vra my of ons dan nie gas het nie en ek verduidelik dat ons wel het. Voor ek kan verduidelik dat ons nie toegerus is om koffie te maak daarmee nie aangesien ons 'n koffiemasjien gebruik en ons yskaste werk slegs op krag behalwe die draagbare enetjie wat van batterye kan werk, maar daar is nie genoeg plek in nie en dit laat ons met 'n hele dag waarin ons niks kan doen nie, draai hulle gesteurd om en ry weg.
Ons pak toe maar klaar en na 'n uur of so is daar steeds geen water nie. Sibusisu kom daar aan en wil weet waarom ons oppak. Ons verduidelik en vra of hy kan help om water te kry aangesien ek steeds nie die oordbestuur op hulle telefone in die hande kan kry nie. Die selfoon gaan net dadelik op voicemail. Binne vyf minute het hy die generator aan die gang en kondig aan dat daar water is. Ek bedank hom en gee hom 'n tip vir die tent opslaan en die hulp met die water. Ek maak die tenks in die Exclusive vol en ek en vroulief vang 'n vinnige stort. Daarna haak ons en verlaat die oord so net na 11:00.
Ons is nie mense wat baie kla nie en het al in oorde gestaan waar daar baie swak ablusiegeriewe is. Dit is waarom ek die Exclusive gekoop het. Solank daar water en krag is, is ons gelukkig.
My probleem met Bush 'n Buck is dat ek voel ons is nie heeltemal eerlik behandel nie. Hulle moes ons gesê het dat ons alleen sou wees en dat die oord nie ten volle in werking sal wees nie. Selfs dan sou ek dit miskien nog kon hanteer, maar die krag wat die hele dag af is en die feit dat daar nie water is nie, is heeltemal onaanvaarbaar. Ons bly self op 'n plaas en Eskom laat weet ons lank voor die tyd as hulle aan die krag gaan werk. Die oord was dus bewus daarvan en het ons nie gewaarsku nie anders kon ek reëlings getref het om my eie kragopwekker saam te neem. Ek het ook die indruk gekry dat die bestuur half naar vir ons was toe hulle sien ons pak op en besluit het nou gee hulle ons sommer ook nie meer water nie. Dit is jammer dat die oord wat soveel belofte inhou bederf word deur dinge soos die. Persoonlik dink ek hulle moes nie besprekings geneem het onder die omstandighede nie.
Volgende keer sal ek eerder na 'n oord gaan wat homself bewys het en waar ek voel ons word as klante waardeer selfs al is die fasiliteite dalk effens swakker.
Hi Wernher,
Welkom hier.
Kamp julle gewoonlik van 'n Maandag - Donderdag?
Ek dink baie min mense doen veral as dit nie skoolvakansie is nie, so mens moet maar 'n lee kamp verwag by klein plekkies.
Dit klink of die bestuur tog wel julle wou help?
Groete,
Jacques
Hallo Jacques
Dit gaan nie oor die hulp nie maar oor die feit dat hulle bewus was van die kragprobleem. Hulle moes dit aan my gestel het en die keuse gegee het of ek wou kom of nie. Ek aanvaar as iemand my geld vat dat hy my 'n volle diens aanbied.
Daar is kampe wat nie in die week kampeerders inneem nie en ek het respek daarvoor. Ander is so vol dat jy nie daar kan inkom somder om lank voor die tyd dte bespreek nie
Die week tariewe by Bush 'n Buck is meer as die naweektariewe en ek verwag dat ek dan dieselfde diens en fasiliteite kry. As dit nie moontlik is nie, moet hulle dit as 'n naweek alleen oord bedryf.
As ons geweet het die oord gaan dolleeg wees en die swembad gaan koud wees en die krag gaan afwees en as gevolg daarvan gaan ons sonder water wees sou ons nie gegaan het nie.
Hulle kan ook nie sê dat hulle nie van die kragsituasie bewus was nie want toe ek voor agt navraag doen het hulle presies geweet waarom daar nie krag is nie en dat dit tot na agt die aand gaan af wees. Dit is in lyn met ons eie situasie waar Eskom ons altyd vooraf verwittig dat die krag vir 'n hele dag gaan afwees om onderhoud te doen of 'n nuwe diens in te stel. Verder het hulle geweet daar is kampeerders wat nie water of krag het nie en veral die water situasie is onaanvaarbaar. Nie eers die toilette het gewerk na dit gespoel het nie.
Nee wat. Wat vir ons 'n ontspannende paar dae moes wees het in 'n hel ontaard.
Ons was die enigste kampeerders. Ek wonder wat sou gebeur as ons meer mense was.
Ons sal nie weer soontoe gaan nie.
Die week tariewe by Bush 'n Buck is meer as die naweektariewe

Hi vriende,
Ons het die naweek van 16 tot 18 Desember 2011 by Buck n Bush gekampeer.
Pragtige plek met pragtige groen grasperke en baie wild. Een van die beste en netjieste kampeerplekke.
Maar op Saterdag middag kom daar so 24 anderskleuriges aan wat net vir een aand bespreek het in die chalets. Die chalets was van Donderdag af leeg alhoewel die dames vir my gese het almal is vir die hele naweek volbespreek. Die nuwe gaste is sommerso met hulle klere en al in die warm swembad in met drankbottels in die een hand. Hulle het soms so 5 van hulle op die trampolien gespring. Ander het met hulle onderklere geswem.Hulle musiek en gejil by die chalets is deur almal in die oord gehoor vanaf 18h00 tot ongeveer 07h00 Sondag oggend. Talle oproepe is gemaak maar geen personeel was beskikbaar nie.
Die enigste personeel wat vroeg die aand daar was, was twee dames en dit was duidelik dat hulle nie die situasie kon hanteer nie. Die Sondag oggend het die kampeerders in groeppies gestaan en die chaos bespreek. Van 06h00 af het ons begin oppak .
By ontvangs het die dame gese hulle het die musiek gehoor maar dat niemand kom kla het nie.
Hulle het geskrewe reels oor die musiek na 22hoo en ook van drank gebruik by die swembaddens maar dit is duidelik dat hulle nie hulle reels kan toepas nie.en die volksvreemdes kan beheer nie.
Jammer dat een van die mooiste kampeerplekke so moet ondergaan.Hulle sal ons nie gou weer sien nie.
Ons wil net graag antwoord op Mnr. Stoltz se brief.
1) Ons is baie jammer dat hulle nie ingelig was dat hulle die enigste gaste vir die week was nie.
2) Ons was nie bewus daarvan dat Eskom die krag vir die dag sou afsit nie. Eers nadat ons hulle geskakel het oor die onderbreking, het ons uitgevind die krag sou tot die aand 8uur af wees. Jammer daarvoor.
3) Ons week tariewe is beslis nie meer as die naweek tariewe nie. Mnr. Stoltz het daar 'n fout gemaak.
4) Ons is baie jammer ons het julle as gaste verloor.
Graag wil ons kommentaar lewe oor Mnr. Jan Lab se brief.
Die bestuur van Bush n Buck is nie rassiste nie, ons maak besprekings vir wit of swart, almal betaal dieselfde tariewe.
Die vermelde anderskleuriges was die personeel van Eerste Nasionale Bank, ons kan ongelukkig nie verantwoordelik gehou word vir hulle gedrag by die swembaddens nie.
Ons vra om verskoning dat ons personeel nie aandag aan die lawaai gegee het nie, en nie die reels toegepas het nie.
Ons is jammer dat ons julle as gaste verloor het.
Louise,
Welkom op die WegSleep Forum.
Dankie vir jou terugvoering, maar iets wat volgens my nie genoem is nie "Wat gaan julle doen om dit reg te stel"
Verskonings word aanvaar maar aksies moet gewys word.
Graag wil ons kommentaar lewe oor Mnr. Jan Lab se brief.
Die bestuur van Bush n Buck is nie rassiste nie, ons maak besprekings vir wit of swart, almal betaal dieselfde tariewe.
Die vermelde anderskleuriges was die personeel van Eerste Nasionale Bank, ons kan ongelukkig nie verantwoordelik gehou word vir hulle gedrag by die swembaddens nie.
Ons vra om verskoning dat ons personeel nie aandag aan die lawaai gegee het nie, en nie die reels toegepas het nie.
Ons is jammer dat ons julle as gaste verloor het.
Louise
Ek verstaan nou nie baie mooi nie.
As jy die reels maak en dit word gebreek en doen niks daaraan nie, IS jy verantwoordelik PUNT.
Julle gaan meer gaste veloor as net die genoemdesen toekomstige gaste
Groetnis.
Graag wil ons kommentaar lewe oor Mnr. Jan Lab se brief.
Die bestuur van Bush n Buck is nie rassiste nie, ons maak besprekings vir wit of swart, almal betaal dieselfde tariewe.
Die vermelde anderskleuriges was die personeel van Eerste Nasionale Bank, ons kan ongelukkig nie verantwoordelik gehou word vir hulle gedrag by die swembaddens nie.
Ons vra om verskoning dat ons personeel nie aandag aan die lawaai gegee het nie, en nie die reels toegepas het nie.
Ons is jammer dat ons julle as gaste verloor het.
Louise
Ek is nou verdwaal.
""ons kan ongelukkig nie verantwoordelik gehou word vir hulle gedrag by die swembaddens nie.""
As jy die reels neer lê en niksdoennie IS jy verantwoordelik PUNT.
Groetnis
Baie dankie vir al die terugvoering.
Ons gaan van nou af strenger optree teenoor gaste wat nie die reels nakom nie.
Die personeel gaan ook beter opleiding kry om gaste te vermaan waar reels oortree word.
Ek is regtig jammer oor al die ongeluikkigheid.
Hi Louise,
Baie dankie vir jou bydraes hier.
Hoe lyk die teerpad deesdae uit Brits uit tot by julle?
Dankie,
Jacques
Jacques
Ons was die naweek by Thaba Morula, net so anderkant BushnBuck
Die pad is baie beter as voorheen, maar het nog so 'n paar plekke wat nie reggemaak is nie. Ek het met die terugkom by die treinspoor links weggedraai en die pad wat verby Klein Paradys loop geneem. Meer uit nuuskierigheid. Dis beslis beter omdat dit die besige deel buite Brits uitsny. Die Klein Paradys pad het net een slegte kol direk buite die dorp.
As ek weer in daardie rigting gaan sal ek weer eerder die Klein Paradys pad ry. Effens verder maar baie beter en ek dink vinniger omdat daar minder onpadwaardige plaaslike bakkies teen 20kmh ry. Dis net die laaste stuk na BushnBuck wat jy ongelukkig moet ry.
Kampgroete
Dankie Wegbreker!
Hello almal. Ek lees nou al die kommentaar wat mense hier los oor Bush n Buck en wil graag my eie byheg. Ek het al n paar keer gaan kuier by Bush n Buck en moet eerlik se, dit was nog elke keer n baie goeie ondervinding vir my gewees. Die eienaars, Roland en Louise, is die vriendlikse mense op aarde en sal enige iets doen om seker te maak almal op die oord kuier lekker.
Al die aktiwiteite het ons die heeltyd besig gehou, met die golf karretjies natuurlik ons gunsteling! Dit is darem so salig om deur die kamp te rits met die karretjies en na al die wild te gaan soek.
Die geriewe is van die hoogste kwalitiet - perfek skoon altyd, netjies, en alles wat n mens kan nodig he vir n kort vakansie of breek weg van die malle gehaas van die stad lewe. Die chalets het lekker spasie binne en buite, en daardie jacuzzi's is n heerlike genot so aan die aande van die dag.
Elke keer wat ek terug is soontoe is daar baie goeie verandering gemaak wat net bydra tot die kwalitiet van die plekkie en ek sien nou op die webverf dat n kafee oor paas naweek gaan oopmaak. Dit sal n lekker gerief wees om ietsie te eet terwyl n mens lekker lui le by die swembad.
Ek sal beslis weer daar gaan kuier, al lees ek die slegte kommentaar wat die 2 gaste gelos het van onlangse kuiers. Alle plekke het probleme op tye, baie van dit wat nie in hulle beheer is nie, en ek het al op baie plekke sulke probleme ervaar op tye. Wat die verskil maak vir my is dat ek kan sien dinge word aangevat en uitsorteer, en natuurlik al die goeie herinneringe wat ek van die plek het. Ek sien uit na my volgende kuier.
Hi daar.
Ek self het daar vir tien dae gestaan en ek het n wonderlike ervarig gehad.Ek sal weer gaan,maar kan iemand wat onlangs daar was vir my se of hulle die kamp plek toe geelektrifiseer het na die inbrake in die kampeerders se woonwaens gedurende Oktober 2011
Hierdie n aanhaling van n ander forum
Twee van ons kampers, ons en ons bure, is Sondagoggend vroeg beroof terwyl ons geslaap het! Die ander wa se tent was gesny,maar daar het mense in die tentgedeelte geslaap en die skelms het toe maar padgevat
.Dit was die eerste keer dat dit gebeur het en ook die laaste keer. Ons is besig om elektriese heining om die kamp gedeelte te installeer om ons gaste se veiligheid te waarborg.
Eerste reel die voorval en tweede bestuur se antwoord.
Wie's aanlyn
Aanlyn gebruikers
- Big G
- sakkie mynhardt
- Kobus Snyman
- Gypsey King
- thysvt
- Eddie Laing
- Kobus K
- Johan K
- chris dupreez
- BenA
- RSS
- Andries
- Theo Red
- BB









.jpg)







Ek sleep 'n 1985 Jurgens Fleetline L met 'n 2008 Isuzu 300 LX D-Tech D/C Auto
Dit lyk heel interresant as ek so deur hulle website blaai Jacques. Ek't baie lus en bespreek - daar's heelwat te doen lyk dit my. Lyk of 'n ou lekker kan kuier daar?
Wonder net hoeveel koelte bome is daar in die woonwa park?
Goeiewense - Pieter