Mokala Noord Kaap.

alit
Super sleper
Aangesluit: 11/11/2009
Inskrywings: 583
Gebruiker van lyn af.

Ons het vir `n paar dae gedurende middel Desember 09 by Mokala gaan kampeer.(Dit is mos SANparke se nuwe wildtuin wat Vaalbos vervang het) So `n paar indrukke: Die Wildtuin is nie te groot nie maar daar is baie wild te sien en heelwat voëls wat waargeneem kan word.Die Ontvangs en Chalets is nuut en modern onder grasdak en die personeel was vriendelik en hulpvaardig. Die kampeerarea (slegs 5 staanplekke)was egter teleurstellend. Mokala is gevestig op `n ou wildsplaas en die kampeerarea was `n bestaande kamp wat net so oorgeneem was. Dit lyk of SANparke geen poging aangewend het om dit enigsins op te gradeer nie. Die badkamers is oud en afgeleef, sonder teels onder `n platdak. Daar is net een kraan in die kampeerarea en geen skottelgoed opwasgeriewe nie. Terwyl dit mooi bosveld is,is koelte by die by die staanplekke maar skaars. Die area het baie potensiaal en ons vertrou dat SANParke spoedig die kampeerarea gaan opgradeer. Want in die bestaande vorm, skiet dit ver te kort by die standaarde van SANParke waaraan ons gewoond was. Groetnis

Groetnis.
Alit
Wees altyd bedagsaam teenoor ander.

Thomas Hanekom
Groentjie
Aangesluit: 24/11/2009
Inskrywings: 17
Gebruiker van lyn af.

Goeie dag Alit

My ouers kamp gereeld daar en praat kort kort met die bestuurder en so. Daar is bleikbaar planne vir verbetering  aan die kampeer plek. Ek verstaan dit word gedoen op 'n ander deel waar die publiek eers uit gehou word. Dit het glo meer staan plekke met nuut geboude ablusie. Die kwesie met skaduwee dink ek sal nog lank 'n probleem bly want sien daar is mos nie baie bome in daardie wereld nie. Gee hulle maar kaans. Daar is reeds meer gedoen as op die ou Vaalbos reservaat.

groete

 

Thomas Hanekom

Lydenburg

Stoffel
Diknek
Aangesluit: 11/11/2009
Inskrywings: 1045
Gebruiker van lyn af.
Plek: Kleinmond

Ek kan bevestig wat Thomas hierbo noem - 'n nuwe moderner kampeerterrein is tans in aanbou.  Ek is eerskomende Saterdag- en Sondagaand in Mokala bespreek (in 'n selfsorg-chalet in Mosu Lodge) en hoop om 'n bietjie meer inligting oor die nuwe kampeerterrein te bekom.  Tydens my laaste dagbesoek aan die park in November 2009, was die dame by Ontvangs maar baie vaag oor die nuwe kamp - amper asof dit 'n geheim is.  Toe Bontebokpark se ruskamp 'n paar jaar gelede opgradeer is, was geen besoekers toegelaat om te gaan besigtig wat hul daar doen nie.  Ek het egter 'n lekker gesprek met die destydse parkhoof (Bongani Mnisi) in sy kantoor gehad oor planne vir die park vorentoe - en uiteindelik het hy toestemming aan my verleen om na die aktiwiteite in die nuwe ruskamp te gaan kyk.  Ek hoop om Deon Joubert (Parkhoof van Mokala) die naweek raak te loop en meer inligting oor die nuwe kampeerarea te bekom - wie weet, dalk selfs te gaan kyk.

Henk Smit
Groentjie
Aangesluit: 04/04/2010
Inskrywings: 33
Gebruiker van lyn af.
Plek: Bloemfontein

 Stoffel

Ek kom nou eers op die artikel af en is nuuskierig oor die park.

Hoe was die naweek toe gewees en wat het jy daar gesien?   En hoe was die grondpad gewees, kan n mens daar kom sonder skade?   Die ander erugvoer wat ek al gekry het was baie uiteenlopend van matig tot so sleg dat jy glad nie n karavaan moet sleep nie?

Cheers

Henk

heinlag
Diknek
Aangesluit: 11/11/2009
Inskrywings: 628
Gebruiker van lyn af.
Plek: Meyersdal Alberton
Ek sleep 'n Echo Kavango met 'n Prado D4D VX

Hi Henk

Ek was by Mokala in Aug 2009. Ek sal nie aanbeveel om met `n normale karavaan die park te besoek nie. Jy sal skade optel.  Ek was daar met my veldwoonwae en het dit baie geniet.

Ek hoop hulle sal die boskamp nog behou!

 

Groete

Hein

 

 

 

Stoffel
Diknek
Aangesluit: 11/11/2009
Inskrywings: 1045
Gebruiker van lyn af.
Plek: Kleinmond

Henk

Jammer dat ek nou-eers op jou vraag reageer.  Ek het egter in die afgelope maande selde op die forum ingeloer, en doen nou bietjie meer gereeld so omdat ek die tyd het.

Ek het by twee geleenthede in die ou Vaalbos Nasionale Park oorgebly (beide kere vir twee nagte elk in die chalets).  Daardie park het van die eerste oomblik af onder my vel ingekruip en ek was behoorlik hartseer toe ek verneem dat die park gedeproklameer sou word.  Ek het maar met 'n mate van skeptisisme die aankondiging dat Winterhoek ('n jagplaas), suid van Kimberley, aangekoop sou word om Vaalbos te vervang.

Om 'n lang storie kort te maak - ek was nou-al vir verskeie dagbesoeke in die nuwe Mokala Nasionale Park en het die voorreg gehad om vir twee nagte in Januarie (vanjaar) in Mosu Lodge oor te bly.  Die enkele selfsorg-eenhede wat in Mosu beskikbaar is, is puik.

Die huidige kampeerterrein (Haak-en-Steek - vernoem na die oorheersende bome in die kamp) is inderwaarheid 'n "rustic camp".  M.a.w. slegs die basiese geriewe word aangebied.  Soos reeds hierbo genoem is daar slegs 5 staanplekke en 'n baie basiese ablusie-fasiliteit.  Vir iemand wat met die basiese kan klaarkom (eintlik meer as die basiese, want jy't 'n spoeltoilet, warm water (gas) en 'n stort) is Haak-en-Steek 'n oase van rus en vrede.  Reg voor die kamp is 'n gronddam wat voortdurend besoek word deur 'n groot verskeidenheid wild waaronder buffels en witrenosters.  Daar is ook 'n selfsorg chalet (slaapplek vir 4) by Haak-en-Steek beskikbaar.

Ek stem saam dat Haak-en-Steek nie voldoen aan die standaarde waaraan 'n mens gewoond geraak het in ander Nasionale Parke nie.  Maar tydens ons besoek in Januarie het ek toestemming gevra of ek by Haak-en-Steek mag gaan inloer (slegs inwonende gaste van Haak-en-Steek mag die kamp besoek).  Terwyl ons daar was (daar was geen kampeerders op daardie stadium in die kamp nie) het 'n 4x4 met 'n boswa die kamp ingekom.  Ons het met die man en vrou begin gesels wat ons meegedeel het dat hulle jaarliks vir 'n week daar kom sit en afskakel.  Ek dink ek sal dit ook kan doen.

'n Nuwe kampeerplek (heeltemal weg van Haak-en-Steek af) word tans beplan.  Motswedi sal klaarblyklik oor privaat ablusies beskik en ook langs 'n dam gelee wees.

Hetsy Haak-en-Steek of die nuwe Motswedi - ek sal beslis nie oorweeg om Mokala met 'n gewone woonwa te besoek nie.  Ek sien nie kans om die 22km gruispad vanaf die N12 tot by die park se ingang met my woonwa te ry nie.  Dan is dit nog 'n verdere 6 km tot by Ontvangs en 'n verdere klompie kilometer tot by Haak en Steek.  Maar met 'n tent - beslis.

Dit is 'n pragtige park met uiteenlopende topografie en ekosones.  Wild is volop.  Ek soek nog net die renosters (wit & swart).  'n Pragtige siektevrye trop buffels word gereeld gesien.  Skaarser wildsoorte soos swartwitpense, bastergemsbokke en tsessebes is algemeen.  Die park beskik oor 'n besondere goeie koedoe-bevolking.

Ek reken dat Mokala is een van ons land se jongste juwele.

Susan Walker
Nuweling
Aangesluit: 16/01/2011
Inskrywings: 6
Gebruiker van lyn af.
Plek: Brackenhurst

Ons kom pas terug van 'n heerlike vakansie in Mokala. Was daar vir 10 salige dae! Ek het ook al die artikels gelees oor die paaie wat so sleg is dat 'n mens liefs nie met 'n gewone sleepwa moet gaan nie, maar glo my, ek het al baie erger paaie gesleep. Die pad was in 'n besondere goeie toestand, en ek was spyt dat ek nie my waentjie gevat het nie! Meeste mense kampeer in tente of dak tentjies. Ja, die ablusie is maar aan die treurige kant, en defnitief nie voldoende as daar so baie mense is nie.

Maar elke dag was vir ons 'n belewenis. My boet was hoog is sy skik met die voellewe. die wild is in 'n besondere goeie kondisie agv die goeie reenval wat daar was. Met die watergat so naby die kampeerplekke het ons gereeld buffels, rooi hartbeeste, zebra's, vlakvarke en waterskilpaaie gesien. Ons was ook een aand op 'n nagrit en het dit terdee geniet.

Mokala was een van ons beste vakansies, veral as jy wil gaan rus. Daar is baie skrapse selfoon opvangs en geen krag nie - net wat ons wou he. Snags is jy vermaak met die gesleskap van die bos en 'n hemelruim met soveel sterre soos wat ek lanklaas gesien het.

Die nuwe kampeerplek is duidelik aan die ontwikkel. Een van die bewaarders het ons ingelig dat elke staanplek sy eie klein ablusie gaan he.

Ek sal defnitief weer na Mokala toe gaan - daar is nou rus vir die siel!!

Wie's aanlyn

Daar is tans 0 gebruikers en 15 gaste aanlyn.

© Kopiereg 2010 WegSleep. In Suid-Afrika uitgegee deur Media24.