Die Eiland- en die Vanderkloof-woonwapark
Nuwe forum onderwerpe
Dit het vandag in die Volksblad verskyn.
Skandemakers versuur oorde vir besoekers
2009-12-23 04:26
KIMBERLEY. – Terwyl ernstige kritiek oor die vervalle toestande in minstens twee groot munisipale woonwaparke langs riviere in die Noord-Kaap uitgespreek word, handhaaf private woonwaparke in die provinsie ’n hoë standaard.
Veral die Eiland-woonwapark langs die Oranjerivier op Upington het sedert verlede week kwaai onder skoot gekom oor dagbesoekers en “onbetaalde plakkers” wat hulle wangedra het.
Selfs oorsese besoekers wat in woonwaens kampeer, word deur diefstal en intimidasie geteister.
Inwoners oorkant die rivier is woedend oor die buitensporige lawaai wat deurnag voortduur.
Vakansiegangers word aangemoedig om die Eiland- en die Vanderkloof-woonwapark te vermy.
Albei dié munisipale woonwaparke se swaarverdiende reputasies is binne enkele jare deur molesmakers, rumoeriges, rommelstrooiers, vuil ablusiegeriewe en verswakte infrastruktuur vernietig.
Gister het ds. Johannes Landman van Gauteng hom by die vloedgolf beswaardes gevoeg wat die Eiland-woonwapark – ’n eertydse juweel onderweg na Namibië – as ’n broeiplek van “drankmisbruik, hoereerdery en rumoer” bestempel het.
Die afgetrede predikant het gesê hy het gisteroggend ná slegs drie dae opgepak. Toe hy sy voorafbetaalde geld terugeis, is die versoek geweier.
“Dagbesoekers het die plek oorgeneem. Hulle mors, suip en verkeer openlik seksueel met mekaar in die openbaar.
“Kondome, sanitêre doekies en gemors dryf in die swembad. ’n Mens kan nie waag om buite met jou kinders rond te stap nie.
“ ’n Dag nadat die polisie my verseker het dit is amptelik dat alle dagbesoekers langsaan na Reitz-park gaan, is vier persele hier deur hulle beset.
“Klipharde musiek word tot 02:00 gespeel.”
Landman het gesê ’n groepie Oostenrykers het so onveilig gevoel dat hulle ná ’n paar dae opgepak het.
Eergisteraand is ’n skroewedraaier gebruik om by ’n Duitse egpaar se motor in te breek. Al hul paspoorte en dokumente is gesteel.
Veiligheid bestaan nie. Verlede week moes ’n Pretorianer ’n private veiligheidswag huur om sy woonwa te beskerm.
’n Inwoner van Vanderkloof het gesê talle kampeerders het die plaaslike woonwapark langs die Oranjerivier verlede week verlaat nadat ’n groep polisiemanne glo een aand nakend tydens ’n jaareindgeselligheid in die swembad baljaar het.
Gebreekte waterpype het ’n waterkrisis op Vanderkloof veroorsaak.
“Die dorp het vanjaar min besoekers. Die belastingbetalersvereniging wil in Februarie ’n trust stig waarin belastinggeld gehou word totdat die dienslewering verbeter.”
By die private Oewer-woonwapark langs die Oranjerivier in Orania is dit vanjaar besonder bedrywig, aangesien van Vanderkloof se beswaarde woonwakampeerders hierheen uitgewyk het. Enkele plekke onder die boomryke staanplekke is nog beskikbaar. Dagbesoekers word slegs onder streng beheer toegelaat. Hier vind geen voorvalle van wangedrag plaas nie.
By die Riverside-buiteklub en -woonwapark buite Ritchie langs die Rietrivier word geen dagbesoekers toegelaat nie.
Dié private vakansieoord het ’n vierster-gradering van die toerismegraderingsraad gekry.
’n Woordvoerder het gesê mense met woonwaens wat nie tevrede met die dienslewering in munisipale woonwaparke by Riverton of by die Groot Gat was nie, klop dikwels hier om ’n staanplek aan.
Hier vind nie moleste plaas nie. Gesinne kan rustig met hul kinders ontspan.
Ook by Oranjerus van mnr. Hennie en mev. Riana Blaauw, ’n private vakansieoord langs die Oranjerivier buite Upington, word onrusmakers nie geduld nie. Dagbe- soekers word nie toegelaat nie.
In dié vakansieoord, wat ook ’n vierster-gradering van die Toerismegraderingsraad gekry het, word streng teen mense opgetree wat die kampreëls verontagsaam.
Oujaarsaand dans almal deurnag om die nuwe jaar te vier. ’n Gemoedelike vakansiestemming heers onder die bome, maar geen wanorde kom voor nie.
- Volksblad
Verskoning vir my rekenaar (of ekself) wat so sukkel om die letter groottes reg te kry.
Hi Teunsie,
Ek is baie bly om jou kommentaar oor die Eiland te hoor. Dit was jare terug een van ons gunsteling kampe maar het regtig baie agteruit gegaan. Dit sal goed wees as iemand die plek bietjie begin opknap. Die reel wat dagbesoekers daar uithou, sal baie help, solank dit toegepas word
Hi teunsie,
Jammer om die draer van slegte nuus te wees, maar alles wat ons lees, is ongelukkig nie altyd waar nie.
Op 5 maart het ek die volgende brief aan tourism@kharahais.gov.za, gestuur:
Ek het sopas u aankondiging in Wegsleep gelees dat geen dagbesoekers
meer by die Eiland toegelaat word nie.
Volgens my inligting is dit onwaar.
Ek stuur 'n brief wat ek namens die klaer aan Caravan & Outdoor
Magazine gerig het;
U terugvoering sal verwelkom word.
Nog geen terugvoering nie, maar volgens ‘n vriend wat einde Feb daar gaan inloer het, het dinge versleg, nie verbeter nie.
Ons het toe vanoggend gou gaan loer hoe dit nou by die Eiland lyk.
Daar word blykbaar probeer om dinge te verbeter. So ver ons kon sien, is daar 'n ordentelike heining aan beide die rivier en die teenoorgestelde kant vd park aangebring. Die ablusie blokke was mooi skoon. Die kamp self was slordig met papiere bottels, stompies ens wat orals rondle.
Ons het geen blanke woonwa kampers gesien nie, maar wel 'n klompie VBs en 'n groot weermag tipe tent wat lyk soos 'n kontrakwerker kamp.
Die mense by die hek en kantoor was nugter en vriendelik.
Sal maar wag tot ons bevestiging van 'n betroubare bron kry, dat hulle toegangsbeheer wel werk.
Boffin, Dankie vir die inligting oor die Eiland. Die toegangsbeheer bly maar 'n probleem MAAR daar word nog steeds daaraan gewerk. Wat gebeur het is dat hoewel daar nie dagbesoekers toegelaat word nie het die besoekers gewoon 'n huisie gehuur en en 'n klomp vriende genooi om vir hulle by die huisie te kom kuier. Dit het eintlik die toegang net goedkoper gemaak.
Ons het die gewilde Kalahari Kuierfees verlede week gehad en dit het op 27 September tot 'n einde gekom. Oor die tyd is daar letterlik duisende mense deur die Eiland. Ekself was nie na die Kuierfees by die Eiland gewees nie maar ek kan dink dat die opruiming teen eerskomende naweek afgehandel sal wees. Ek sal more by die Munisipaliteit gaan seker maak.
Teunsie, verskoning dat ek nou eers jou berig lees. Daar is nou weer 'n nuwe verantwoordelike persoon nadat sy voorganger bevordering gekry het. Toe ek hom gister vir iets anders gesoek het was hy juis by die Eiland gewees. Ek is seker dat die probleem met die papiere waarvan Boffin praat aangespreek is - wel ek hoop so, maar sal more seker maak. Tans is daar 'n nuwe dryf vir toerisma in die Noordkaap. Die Wêreld Toerisma dag word hoeka vandag in Kimberley aangebied.
Dus, kom kuier wie is nou bang vir 'n bietjie warmte?
Dries,
Baie dankie vir jou terugvoering. Ek is bly daar word aandag gegee aan die klagtes oor die Eiland. Dit was in die verlede een vd puik oorde in die land en met 'n bietjie LTC kan dit weer so wees.
Al wat die plek kort is 'n bietjie dissipline
Dries,
Die ironie van jou vorige bydrae dring nou eers deur: "Die vorige opsigter het bevordering gekry"
Amper soos die Eskom Elite wat die organisasie in die grond in ploeg en dan reuse bonusse daarvoor ontvang.
Groete
Ek is nie seker of julle bewus is daarvan nie, maar Eiland is nou 'n ATKV oord. Die vorige bestuurder van Natalia aan die Suidkus is daar aangestel.
Ek glo dit sal nie te lank neem voordat die plek weer soos in dae van ouds en selfs beter wees nie!
Groete
Hans.
Hans,
Ek wonder of ons van dieslfde Eiland praat? Ek weet die een in Limpopo is nou ATKV.
Dit sal wonderlik wees as die een by Upington ook oorgeneem word, maar ek twyfel.
Ouch!!!
Ek sien nou!!
Ek was nog nooit daar nie, maar kan nou onthou van die vorige drade oor die plek, jammer!
Groete
Hans.
Na aanleiding van die opmerkings oor die bevordering van die persoon wie voorheen verantwoordelik was vir die Eiland, net dit: Die persoon het talle ander korporatiewe verantwoordelikhede gehad waarvan die Eiland maar net een was. Voordat ons kommentaar oor die meriete van sy bevordering kan lewer benodig ons inligting oor die ander nege-en-negentig persent van sy korporatiewe verantwoordelikhede.
Dries,
Jou verdediging vd persoon wat die Eiland so ten gronde laat gaan het, begin bietjie persoonlik raak. As die bestuur vd Eiland net 1% van sy posbeskrywing ingesluit het, dan is ek nie verbaas dat kampperders nie meer soontoe wil gaan nie.
Ons is nie vyandig gesind teenoor die Eiland nie.
Maak seker dat daar die nodige dissipline is sodat kampeerders weer veilig sal voel en nie verwag dat hul toerusting gesteel word deur onbeheerde dagbesoekers nie, dan sal die plek weer ondersteun word.
Jou stelling:"Soos by alle ander woonwaparke is hier nie bordjies wat aandui
Nee wag, ons het ses ander goeie woonwaparke in en om Upington. Nog 'n ander een hoewel kleiner is Sakkie se Arkie, wat reg oorkant die Eiland is. Met ander woorde jy kan presies dieselfde Oranje rivier bedoelende dieselfde gedeelte van die rivier ervaar, feitlik in die dorp, trouens in die dorp.
Ek is 'n gereelde gebruiker van al die woonwaparke waarvan ek praat. Die afgelope twee naweke het ek by die nou bekende Oranje Rus gestaan. Ek kuier ook gereeld by Katakoeroe, Kathula Lodge en so kan ek aangaan.
Ek moet sê, ek lees Dries se reaksie oor
Hierdie berig in die Volksblad is voorafgegaan met twee ander berigte oor dieselfde voorval een op 19/12/2009 en een op 22/12/2009, ook in die Volksblad. Ek het persoonlik met van die kampeerders op Die Eiland gaan praat voordat ek met die oordbestuurder gaan praat het. Daar is elemente in die berigte wat waar is. Maar nie een van die berigte is feitlik 100% korrek nie. Ongelukkig is daar ook negatiewe voorvalle wat nie in een van die berigte genoem word nie, wat ook tans aandag geniet.
Op die oomblik is daar ‘n probleem met die veiligheid van kampeerders se goedere by Die Eiland op Upington. Vir die afgelope paar weke is daar ‘n skerp toename in diefstal by Die Eiland. Die indringers sny gate in die omheining wat van lemmetjiesdraad gemaak is. Daar is selfs ‘n skootrekenaar uit ‘n tent uit gesteel.
Die nuwe bekwame oordbestuurder, mnr Charl April, het onmiddellik, binne die raamwerk van die huidige begroting, met korrektiewe stappe begin om ‘n herhaling van die voorvalle te voorkom. Eerstens is daar alreeds begin om ‘n palasade-heining op te sit. Tweedens is daar alreeds kwotasies ingewin om die sekuriteit uit te kontrakteer na privaatmaatskappye. Oor die res van die regrukstrategie wil ek nie nou al praat nie veral omdat sekere aspekte nog eers deur die Munisipaleraad goedgekeur moet word.
Dit spyt my om aan kampeerders te rapporteer dat die Die Eiland nou deur ‘n moeilike tyd gaan. Ek is oortuig dat meneer April Die Eiland gaan omskep in ‘n veilige oord waarskynlik op ‘n 3-ster standaard. Ek onderneem om ons forumiete op hoogte te hou van die vordering.
Regoor Die Eiland aan die anderkant van die rivier, letterlik in die dorp, is daar Sakkie se Arkie wat ‘n kleinerige oord is maar baie netjies en skoon. Om Upington is daar nog ses ander oorde om van te kies, waarvan twee 4-ster oorde is.
Leon, aangesien ek nie oor die feite rondom Vanderkloof beskik nie wil ek bogenoemde inligting herhaal op ‘n draad wat net oor Die Eiland handel. Alle nuwe inligting sal ek ook daar bekend maak. Ek hoop jy sal verstaan mater, dit was wel een berig maar dit is twee verskillende oorde wat honderde kilometer (ongeveer 450km) uitmekaar is en aan twee totaal verskillende munisipaliteite behoort.
Ek kan nou rapporteer dat vier sekuriteitswagte van ‘n privaat sekuriteistsmaatskappy vanaf vanaand (23/12/2009) tot en met 11/01/2010 bykomend tot die bestaande munisipale sekuriteit Die Eiland vir 24 uur per dag sal patrolleer. Meneer Charl April, die bestuurder, is tans besig met nog ander bykomende maatreëls.
Dries,
Hmm dit lyk my jou jobbie as kampvegter vir Die Eiland begin mou moeilik raak?
My databasis het nie saam met Wegsleep s’n verdwyn nie en ek haal jou aan:
>Dries Botha: Gepos 18/1/2009 7:48 AM (#109455 - In antwoord op #108616)
Plek: UPINGTON
Teunsie, baie dankie vir jou objektiewe terugvoer oor die Eiland. Die plaaslike owerheid het ‘n regulasie dat geen dagbesoekers toegelaat word nie, ook nie teen enige tarief nie. Ek sal graag die feite wat jy meld onder die verantwoordelike mense se aandag wil bring. Terloops die verantwoordelike persoon by die plaaslike owerheid is ook ingeteken op ons forum, juis omdat die publiek se kommentaar so belangrik vir hom is.
Hopelik sal jou volgende besoek stil en rustig sonder die teenwoordigheid van dagbesoekers wees.>
Ek sien darem dat jy darem nie die keer vir Ds Landman en die Volksblad as rassiste beskryf nie.
Sterkte
Ons het laatmiddag Sondag 27 Des by Die Eiland arriveer vir twee nagte waarna ons vroegoggend op Dinsdag 29 Des vertrek het. Met die uitsondering van twee asblikke wat omgedop gele het (vandat ons daar gekom het tot en met ons vertrek) was die kamp skoon. Die ablusie was skoon en netjies maar daar is hier en daar opknappingswerk nodig. Ons het geen las van dagbesoekers gehad nie, daar was nooit een in sig nie.
Die Upington omgewing se mense is hartlik en vriendelik.
Tyro, ek is nie 'n kampvegter vir Die Eiland per se nie maar wel vir objektiwiteit, regverdigheid, perspektief en die waarheid. Dit is nie, was nie en sal nooit 'n waarborg kan wees dat 'n oord geen probleme in die toekoms (in hierdie geval, 'n jaar later) sal ondervind nie. Kan jy of enigiemand anders hier vir ons 'n waarborg gee dat enige ander oord nooit vorentoe probleme sal kry nie? In Die Eiland se geval weet ek dat rassisme 'n rol speel, en ek verwys nie na die jongste voorval nie. Terloops, die laaste is ook nog nie gesê oor Ds Landman nie.
Net om dinge in perspektief te plaas. Ek het by Oranjerus gekamp die afgelope paar dae. Op oujaarsdagaand is daar uit 'n kampeerder se karavaan gesteel nadat die booswigte deur die heining gekom het. Sal ons in Februarie met die hergradering Oranjerus se gradering verlaag? Sal ons 'n skinner-veldtog teen Oranjerus begin? Sal ons die bestuur van Oranjerus op dieselfde wyse bykom as in Die Eiland se geval? Hopelik nie.
Ongelukkig kon ek nie oor oujaar en nuwejaar by Die Eiland 'n draai maak nie. Maar wat ek wel kan sê is dat een van die oordbestuurder se planne naamlik om die gras by die ingang van Die Eiland aanhoudend nat te gooi sodat dagbesoekers nie daar sal lawaai nie, het gerealiseer, want met terugkoms is ek by Die Eiland verby en die spreiers het gesprei en die water het gestaan. Of dit gewerk het weet ek nie, maar hy het ‘n plan gehad en dit uitgevoer. Ook, met my verbygaan na Oranjerus was voertuie en voetgangers deur die verkeersbeamptes (nogal) weggewys van Die Eiland af. Soos op 'n ander verwante draad gemeld was ek by toe die ekstra onafhanklike sekuriteit gereël is. Sal ek die gewilde ding doen en hierdie feite verswyg? Jammer, my gewete laat dit nie toe nie.
Tyro, twee ouens (2 uit 3000 forumiete) het destyds my persoonlik bygekom omdat ek nie agter hulle wou aanpraat nie. Ek sal nooit ten koste van my gewete agter 'n ander ou aanpraat nie, ongeag van die hoeveelheid bydraes wat 'n ou al op hierdie forum gemaak het en ongeag daardie persoon se gewildheid of ouderdom. Ek het egter baie respek vir al drie die aspekte: bydraes, gewildheid en ouderdom.
Terloops, wat was jou bedoeling met jou bydrae hierbo? Het jy iets te sê gehad oor Die Eiland of wou jy my bykom? Ek sien nie ‘n enkele feit oor Die Eiland in jou bydrae nie.
Tyro, kom ons kom ooreen om te verskil oor Die Eiland en kuier lekker saam oor al die ander kamp- sake en gebeure.
Dries
Ek waardeer jou openhartige en eerlike bydrae. Dit gebeur soms dat iemand as gevolg van persoonlikheids verskille ongelukig raak met die bestuur van 'n betrokke kamp, en dan die kamp [regtelik of verkeerdelik] "beswader" op die forum.
As ons nie die ander kant van die storie hoor sal ons nooit weet wat die ware toedrag is by die betrokke kamp nie.
Ek glo hoe meer ons kan hoor van verskillende partye uit verskillend oogpunte - hoe meer ingeligte besluit sal ons kan maak oor waar om te bly.
Persoonlik al 'n paar keer by die eiland oorgestaan op pad Namibia toe [of op pad terug] en nog nooit probleme gehad nie, selfs oor Kersfees en/of Nuwejaar.
Mens moet natuurlik noodwendig toegewings maak oor ou/nuwejaar vir die jong klomp en ook die oueres wat nog jonk van gees is - kom ons gun hulle maar bietjie uithak op so jolige tyd?!
Doen so voort!
Arie
Op die oomblik is daar ‘n probleem met die veiligheid van kampeerders se goedere by Die Eiland op Upington. Vir die afgelope paar weke is daar ‘n skerp toename in diefstal by Die Eiland. Die indringers sny gate in die omheining wat van lemmetjiesdraad gemaak is. Daar is selfs ‘n skootrekenaar uit ‘n tent uit gesteel.
Die nuwe bekwame oordbestuurder, mnr Charl April, het onmiddellik, binne die raamwerk van die huidige begroting, met korrektiewe stappe begin om ‘n herhaling van die voorvalle te voorkom. Eerstens is daar alreeds begin om ‘n palasade-heining op te sit. Tweedens is daar alreeds kwotasies ingewin om die sekuriteit uit te kontrakteer na privaatmaatskappye. Oor die res van die regrukstrategie wil ek nie nou al praat nie veral omdat sekere aspekte nog eers deur die Munisipaleraad goedgekeur moet word.
Dit spyt my om aan kampeerders te rapporteer dat die Die Eiland nou deur ‘n moeilike tyd gaan. Ek is oortuig dat meneer April Die Eiland gaan omskep in ‘n veilige oord waarskynlik op ‘n 3-ster standaard. Ek onderneem om ons forumiete op hoogte te hou van die vordering.
Regoor Die Eiland aan die anderkant van die rivier, letterlik in die dorp, is daar Sakkie se Arkie wat ‘n kleinerige oord is maar baie netjies en skoon. Om Upington is daar nog ses ander oorde om van te kies, waarvan twee 4-ster oorde is.
Passeerde vakansie Upington om gery weskus toe. Het een aand oorgestaan by Die Eiland. - Die goedkoopste staning vir ons hele toer, R50-00 vir my en my vroulief saam vir die nag! Die kamp was redelik goed versorg, MAAR: Teen daardie lae tariewe, kom die locals in as dagbesoekers, en kom daar geraas maak! En kan hulle nie raas nie, so op 'n Maandag-aand. En dan gebruik hulle sommer die ablusie-geriewe van die kampeerders.
Ek verstaan dat die Eiland heel verval het paar jaar gelede, maar dat dit nou heelwat beter is. Ek kon die oord nie regtig kritiseer ten opsigte van skoon ablusies of swak staanplekke nie. Dit was op heeltemaal aanvaarbare standaard. My gevoel is dat hulle nou op 'n mespunt is, en moet besluit wie is die belangrikste: die locals wat kom raas, of mense van vêr wat potensieel 'n vakansie daar kan kom hou!!
Nee wat ... Hierdie forum se wat ook al het nie 'n idee wat aangaan nie. Ek wil nie namens Teunsie praat nie maar ek het presies dieselfde bydrae van hom voorheen gesien. Die laaste bydrae deur my was ook nie op hierdie draad gepos nie.
Nou raak dit te erg! Hier gaan misverstande kom wat vir mense n verleentheid gaan veroorsaak. Dit raak n risiko om aan die forum deel te neem.
Het gedurende die Kuierfees by die Eiland gekamp (22 Sept tot 26 Sept 2010). Was baie skepties om daar te kamp na al die terugvoerings. My ondervinding is: die sekuriteit was op standaard met die nuut voltooide lemmetjiesdraad omheining. Die ablusieblok was aanvaarbaar, kan sien daar was opgradering, 1 stort was wel verstop, daar was 'n probleem met temin toiletpapier en warmwater wat opgelos was nadat ek gaan kla het. Die probleem het ontstaan omrede die uitstallers by die fees kon ook teen 'n betaling die ablusieblokke gebruik het wat die lading toe te groot gemaak het. Die probleem behoort nie daar te wees in normale tye nie. Die oordbestuur moet net daarteen waak in die toekoms.
Ek is van mening dat ons nou weer daar kan kamp maar moet altyd probleme onder die bestuur se aandag bring. Die toegangsbeheer by die ingangshek kan verbeter. Dagbesoekers word wel nie meer toegelaat nie, maar die probleem ontstaan by die hope besoekers wat kom kuier by ingeboekte gaste. Gelukkig hou die meeste inwoners van daardie area nie van kampeer nie en boek by die huisies in waar die toeloop dan plaasvind, so dit het ons nie baie gepla in die kampeer area en ek glo dit gebeur meestal net oor naweke.
Die polisie en sekuriteit was die hele langnaweek baie sigbaar en het gereeld die kamp besoek.
Dit is 'n jaar later sedert die laaste pos oor Die Eiland (Upington) hier geplaas is. Is daar iemand wat meer onlangs daar gekamp het? Het omstandighede verbeter? Ekself het in Mei 2002 laas daar oorgestaan, maar is sedertdien (na al die negatiewe publisiteit) versigtig om weer na hierdie eens pragtige oord te gaan.
Ek is in die beplanningsfase van 'n Noord-Kaap toer en sou graag by Die Eiland wou oorbly. Maar kan ek dit deesdae met 'n geruste hart doen?
Stoffel ek hoop iemand kan vars nuus gee, het ongelukkig nie weer daar gekamp nie maar as die huidige omstandighede soos 'n jaar gelede nogsteeds is sal ek weer daar kamp. Weet nie of die nuwe oordbestuurder nog daar is nie en of hulle alweer verander het nie. Die oordbestuurder wat 'n jaar gelede daar was het my nogal beindruk.
Moontlik kan jy net seker maak of dagbesoekers nogsteeds nie toegelaat word nie soos 'n jaar gelede want dit was die probleem.
Dankie Maans. Ek vertrou dat Dries Botha ook hier gaan lees en as Upingtonner en lid van die graderingspaneel 'n bietjie terugvoer oor die jongste stand van sake kan gee.









.jpg)



Teunsie, baie dankie vir jou objektiewe terugvoer oor die Eiland. Die plaaslike owerheid het ‘n regulasie dat geen dagbesoekers toegelaat word nie, ook nie teen enige tarief nie. Ek sal graag die feite wat jy meld onder die verantwoordelike mense se aandag wil bring. Terloops die verantwoordelike persoon by die plaaslike owerheid is ook ingeteken op ons forum, juis omdat die publiek se kommentaar so belangrik vir hom is.
Hopelik sal jou volgende besoek stil en rustig sonder die teenwoordigheid van dagbesoekers wees.
Vriendelike groete uit die Noordkaap.
Dries