Gekoopte kinders en die skole???
Nuwe forum onderwerpe
Sedert die wetgewing wat bepaal dat jou kind net na 'n sekere skool in jou area mag gaan, afgeskaf is/nie meer toegepas word nie het daar groot kompetisie tussen skole ontstaan om hulle getalle op te hou en die ergerlike siekte van "kinders koop" het ontstaan. Veral as jou kind uitstekend vaar in sport en veral rugby. Maar jy moet dit tog nie so kras stel nie, ou Willempie, daar word eintlik "beurse toegeken"; die heuning-om-die-bek -smeer term.
Wat 'n siekte. So vanaf die middel van Aimee se graad sewe jaar het ons al beplan waar sy haar Grootskoolloopbaan moet deurbring en het toe op die skool waar sy tans is besluit ( sy is nou in graad nege) na 'n relletjie met van die skole in ons omgewing waar ons woon, oor beskikbare plek, want die beurskinners kry eerste keuse. Heelwat van die graad sewes, in daardie jaar het op die dag toe die skole in Desember sluit nog nie finale uitsluitsel gekry van waar hulle heengaan nie, want die "opveilery" was nog aan die gang sodat 'n skool gevind kan word wat bereid is om die hoogste koopsom te betaal. Dit het naderhand so 'n gebreggery geword tussen die kinners dat die een vir meer gekoop wil word as die ander een.
Die rede waarom ek nou hierdie sakie hier aanraak spruit voort uit 'n gesprek in die gesin so twee aande gelede, waar Aimee toevallig noem dat daar 'n nuwe meisie in die skool is, sy baie talentvol is, goed in omtrent al die sportsoorte en haar ouers druk haar baie. Op my vraag waar sy vandaankom, antwoord Aimee dat sy van een van die buurskole kom. Laat verlede jaar het dieselfde gebeur met drie seuns wat net voor die eindeksamen begin het, skielik van dieselfde skool hier opgedaag het.
Ek ken my kind se skool al lank en ons het op die skool besluit o.a. omrede daar nog al die jare goeie morele waardes toegepas is en die skool nooit in die siektegroef verval het van kinders koop nie. Nou vermoed ek dis besig om te gebeur.
Ek het natuurlik ook met die laaste vier jaar wat ek tot einde 2008 in die onderwys was, eersterangs met die siekte kennis gemaak. Ironies genoeg. By die Engels medium GDE skool waar ek vir drie jaar was, het dit nie gebeur nie. Die skool het 'n 100% deelnamebeleid in plek gehad. Elke leerling moes aan ten minste een somer- en een wintersprtsoort, asook een kultuuraktiwiteit gedurende 'n akademiese jaar deelneem. Op sportgebied, kultuur en akademies het hierdie skool uitstekend presteer. Die skool was ver van die huis en ek besluit toe om aansoek te doen vir 'n pos nader aan die huis. Aimee was ook toe in haar laaste jaar op learskool en baie aktief met naskooldinge. Ek kry toe 'n pos by 'n Afrikaanse Grootskool naby die huis waar die kopery plaasvind en raai wat? Die sportprestasies en akademiese resultate is gemiddeld swakker as by die Engelse skool en die kinners, nie almal nie, so min of meer die helfte, behandel die onnies en ander kinders soos varke. Nodeloos om te seg; ek het my gou daar uit die voete gemaak.
Soos die draad aangaan sal ek maar nog van my ervaringe en menings deel oor die onderwerp, maar ek sal graag wil hoor wat julle kampeerders se opinie is t.o.v. die koop-sakie???
Groetnis daar by jou.
Hi daar,
Verlede jaar toe ek my kleinsus by 'n Engelse skool wou inskryf, was daar 'n tamaaie bohaai omdat ons nie in die skool se "diensomgewing" woon nie. Bah! Ek vra toe sommer vir die hoof uit oor van die kinders wat ek kan sien nie in Durbanville woon nie. Nee, seg hy, dis spesiale gevalle van minder bevoorregde buurte. Ek antwoord hom toe sommer mooi terug en sê: spesiale sportgevalle?
In elk geval, wat ek probeer sê is dat my sussie nie toegelaat kon word nie, omdat sy EEN STRAAT te ver van die skool se diensomgewing gewoon het. Terwyl 'n "minder bevooregde" kind wat toevallig kan vinnig hardloop en letterlik tiene van kilometers weg van die skool af woon kon daar skoolgaan.
My probleem met kinders koop is slegs wanneer ander moet benadeel word. Anders as dit, kan 'n skool maar 'n kind koop nes hy wil ~ so lank as wat die kind nie anders behandel of bevoordeel word, omdat hy gekoop is nie.
Interessante onderwerp. Gelukkig is my kinders nie meer skoolgaande nie, maar ek weet van hierdie kanker in die samelewing. Wat my pla is die langtermyn-effek wat dit op kinders kan hê ; die sielkundige impak dat 'enigiets gekoop kan word' ; hoe gaan daardie kinders in 'n normale samelewing en gemeenskap funksioneer ; watter impak gaan dit hê wanneer diegene universiteit toe gaan ? 'n Mentaliteit van 'as ek goed in sport of een of ander akademiese area is, loop ek op water' ; ek is nie 'n 'gewone' mens nie ? En as die realiteite van die lewe hierdie 'bevoorregtes' tref ; hoe hanteer hulle dit ?
Ek voel ek jammer vir diegene wat direk daardeur benadeel word, soos genoem. Moenie enige illusies hê dat die kinders wat nie 'sterre' is nie, dieselfde behandel word as die 'gekooptes' nie...
Die situasie is ongesond na alle kante toe ; teelaarde vir minderwaardigheidskomplekse asook meerderwaardigheidskomplekse en allerhande sosiale verhoudingsproblematiek. Maar soms dink ek die risiko is meer vir diegene wat dink die lewe 'skuld' hulle alles omdat hulle so oulik en slim en goed is... Daar is vele voorbeelde ; die onlangse geval die die vier hier van die bekende skool in die ooste van Pretoria is maar een. En steeds word hulle voorgehou as 'engeltjies...'
Dis maar net my 2c...
Ja-nee Nikky, so praat hulle 'n klomp bollie om plek oop te hou vir die ingevoerdes.
Johan, wat jy daar seg is baie waar. Sielkundige probleme tel sommige van die kinders wel op. Veral as hy/sy om een of ander rede nou nie meer goedgenoeg is en die beurs word nie hernu nie. Die algemene sielkundige probleem wat baie van hulle ervaar, veral die seuns, is grootkopkry en boelieagtigheid. Nou kyk, hy boelie nie net sy maats nie, maar die onnies loop die ergste deur. Dissiplineer jy hom, kry jy die ouers op jou kop en word jy tot met dood gedreig, soos ek dit ervaar het gedurende 2008. Hulle is gewoonlik die groot klasontwrigters. Die dogters nie soveel nie, maar die rammetjies se aanhangsels join hulle in die "help die klas onbeheerbaar maak" campaign. Die gevolg is dat onderrig erg in die wiele gery word terwyl die bestuur van die skool net hulle skouers optrek.
Die ander ernstige probleem wat ek het is dat ek my kind se skoolfonds ten volle betaal. Al R14500 daarvan. Die gekooptes kry dit of gratis, of so te seg gratis. My kind is ook 'n expert op haar sportgebied, maar omrede dit nie 'n erkende skolesportsoort is nie, kwalifiseer sy nie vir 'n beurs nie. Wat 'n grap. Maw. ek subsidieer 'n saak waarin ek geensins eers seggenskap het nie. Ek help ander ouers se skoolfonds betaal sonder dat ek 'n keuse het of ek dit wil doen of nie. Net om vir julle 'n voorbeeld te gee van hoe pateties hierdie stelsel toegepas word, die volgende: My vriend Barn se seun was in 'n naburige skool wat ook kinners invoer. Hy was 'n goeie rugbyspeler, vir die 1e span skrummie gespeel. Die skool voer toe 'n ander skrummie in en plaas vir Wessel op senter. Die ingevoerde se "alles" word betaal. Tot sy verblyf en etes, sy klere word gratis gewas en gestryk en hy kry 'n sakgeldjie. Alles uit die skoolfonds uit. Barn moes die volle skoolfonds betaal. So gedurende Julie van daardie betrokke jaar bel Barn die skoolhoof en seg so terloops vir hom dat Wessel 'n beurs by 'n ander skool aangebied is, wat nie die geval was nie. Raai wat? Binne 'n dag is al Wessel se uitstaande skoolfons afgeskryf.
En dan hou ons elke Maandagoggend plegtig saalopening en lees en bid en praat oor skoolreels en ander morele dinge. Wat 'n klug.
Sjoe! My kinders was in 'n privaatskool en ek het regtig nie geweet van al hierdie dinge nie. Dit is net soos die universiteite!
Ja-nee Willie, ek stem saam met jou heel laaste opmerking. Dubbele standaarde! Hulle leer ons kinders om korrup te wees is maar reg.
My sus en swaer is albei onnies in 'n groot Afrikaanse skool op die platteland. As ons weer kuier, gaan ek 'n bietjie meer hieroor uitvind.
Vraag is net: Hoe gaan ons hierdie siekte uitgeroei kry? Dit pas nie by beskaafde mense wat hulleself Christene noem nie!
Adri,
Mens kan sekerlik lank oor die saak debateer. Uiteindelik speel ons as ouers ook 'n groot rol in hierdie opset, want as die ouers nie saamstem met die 'koop' nie en nie die proses ondersteun nie, sal dit nie werk nie. Ja, ek aanvaar dat elke ouer die beste vir sy / haar kind wil hê en 'n opleiding by hierdie of daardie skool met 'n reputasie sal dalk goed wees. Dit mag so wees - in die kort termyn - maar soos jy tereg noem, word korrupsie en swak besigheidsbeginsels dan gekondoneer deur hierdie gedrag, en die kind word deur middel van voorbeeld geleer dat sodanige gedrag 'aanvaarbaar' is. En dis dan met hierdie kondisionering dat die jong volwassene die lewe ingaan, en sulke gedrag as 'goed en reg' sien en self aktief daaraan deelneem in die besigheidswereld sonder om dit enigsins te bevraagteken. Die fondasie is dan so tuis, van so vroeg af as laerskooldae, gelê. So herhaal die geskiedenis homself net met die volgende generasie, en so word die gesonde en bewese waardestelsels ondermyn en stuk-stuk vernietig. En jong prima donna's word die wereld ingestuur...
Tragies, maar die hedendaagse werklikheid.
Johann
Ek stem saam met jou. Jy slaan die spyker op sy kop. Ons as ouers moet absoluut 'n voorbeeld vir ons kinders en natuurlik ander om ons wees.
Peet
Ja-nee Adri. Dit gaan erg by sommige, indien nie almal van hierdie skole nie.
Dubbele standaarde is die inding en dit word onder "Christelike Hoher Onderwys Grondslag" soos die skole hulself bemark, verdoesel.
Julle sal verbaas wees oor hoeveel geld in die kopery van kinders ingepomp word en die ouers wat vol skoolfonds betaal, moet maar opdok of jy kry gou-gou 'n aanmaning en word gedagvaar vir uitstaande skoolfonds.
Een interressante ding wat ek opgemerk het by die Engels medium skool waar ek was, soos hierbo genoem, was dat gemiddeld 72% van die leerders 100% skoolfonds betaal het terwyl die gem. % by die ander Afrikaanse skool hoher was. Die Engelse skool se skoolfonds was wel hoher, maar hulle het nie kinners gekoop nie. By die Engelse skool het elke onnie 'n rekenaar in sy klaskamer gehad, gekoppel met internet. In die personeelkamer was daar 'n vertrek met nog tien ekstra rekenaars, sodat jy in afperiodes daar kan gaan sit en werk, as jy dit sou verkies. Daar was op daardie stadium drie rekenaarlokale, gekoppel met internet, waar leerders gedurende pouses en na skool kon gaan sit en inligting versamel vir skooltake. Hulle mog net nie op Facebook toer nie. Nuwe geboue was aangebou. die biblioteek aansienlik opgeknap en tegnologies verbeter ens. in die drie jaar wat ek daar was.
By die Afrikaanse skool kon so om en by een derde van die onnies nie 'n rekenaar werk nie. Daar was een rekenaar in die personeelkamer wat virusbesmet was en op 'n stadium opgehou werk het. Daar was een rekenaarsentrum wat slegs aangewend was om Rekenaarprogrammering as vak aan te bied.
By sommige van die ryker skole gaan dit darem so 'n bietjie beter, verstaan ek, wanneer dit by hierdie fasiliteite kom.
Koshuise word omskep in Sportakademies met binneshuise krieketbane waar die gekooptes van ver af, gehuisves word. Die ander skole wat nie oorspronklik koshuise gehad het nie, kry ook nou verblyfplek. Daar word ten duurste verbou en verbreek aan skoolgeboue om dieselfde fasiliteite te verskaf as die skole wat het. To live up to the Jone's. Selfs huise langs, of oorkant skole word uitgekoop en aangewend as kommunes om die gekooptes te huisves en die arme pligsgetroue ouer wat gereeld sy skoolfonds betaal finansier dit. Effe van 'n goor spul, is dit nie?
Ek dink die ouers, wat gereeld skoolfonds betaal, moet voet neersit en eis dat reg en geregtigheid geskied.
Jammer ek val in julle sop ...
Ek dink ons moet erken dat skole (net soos kerke) vandag 'n BESIGHEID is. Dit gaan nie meer oor onderwys en opvoeding nie ... wel, ten minste nie primer nie!!!
Dis ook 'n feit dat hoe beter 'n BESIGHEID in die ope mark presteer en hoe bekender sy PRODUK (in hierdie geval die skool se naam) word, hoe groter word die aanvraag na die produk en hoe hoer (hoekom werk die alternatiewe karakters nie?) prys kan die BESIGHEID dan daarvoor vra!!!
So kan sogenaamde "meer bekende goeie skole" byvoorbeeld meer skoolgeld vra as sogenaamde "minder bekende swak (????) skole". Op die ou einde word dit 'n bose kringloop vir oorlewing vir groter en kleiner skole.
Dan natuurlik moet ons ook onthou dat daar aansienlik meer status verbonde is daaraan om die skoolhoof van 'n sogenaamde "bekende skool" te wees! So het ons mos maar almal ons ego's!!
Ek dink nie ons kan die regering daarvan beskuldig dat hulle ALS verkeerd doen nie ... maar sover dit onderwys en onderrig (en nog 'n paar ander kritiese goed) aangaan kan hulle beslis baie beter doen soos byvoorbeeld ... "go back to basics!!!!"
My se oupa het altyd geseg mens moenie kampdrade op jou plaas sommer net verwyder sonder om vooraf uit te vind waarom hulle in die eerste plek daar gespan is nie ... dis presies wat met onderwys gebeur het: Die sogenaamde "voedingsarea"-beginsel is verwyder sonder om eers ondersoek in te stel oor rede waarom dit aanvanklik in plek gestel is ... die gevolg is hierdie "ongesonde" kompetiese gemors waar skole kinders moet koop om te oorleef (en die hoofde) se ego's te streel!!!
Footloose, jy's welkom. Spring sommer boots & all in. Ek wens meer mense wil dit doen.
Johannvs, wat vir my totaal onaanvaarbaar is, is hoe 'n mens, as ouer, 'n prys op jou kind se kop kan plaas. Geen wonder meeste van die kinders ontwikkel later ernstige sielkundige probleme nie. Hulle word eintlik niks anders as alledaagse gebruikartikels wat gekoop en verkoop kan word nie. In die ontwikkelingsproses van die kinders het so-iets beslis geen positiewe uitwerking op hulle selfbeeld en persoonlikheidsontwikkeling nie. Indien hulle wel so dink, is dit van korte duur.
Flippit, ek sou niks daarvan gehou het as my pa my aan 'n ander skool wou verkoop nie.
Haha! Goeie punt, footloose.
Tegnies werk dit dan goedkoper uit om jou kind na private "homeschooling" klasse toe te stuur en hulle by sportklubs te laat aansluit. Dan kry jou kind die kwaliteit van albei, sonder die "politics" van 'n skool.
Hello Nikky
Jy slaan die tentpen oppie kop. Die sportkant van skole moes lankal soort van geprivatiseer gewees het, sodat die skole hulle op akademiese onderrig kan toespits en ophou om die onderwysers met 'n lot tjol te oorlaai.
Presies! Weet jy hoeveel keer het van my onderwysers hul klasse gekanselleer omdat hulle moes gaan sport afrig of na 'n interskole toe moes gaan? Dis werklik belaglik.
Net 'n "klip in die bos" praat van kinders koop en verkoop;
Is dit nie wat gebeur as mens begin werk, jy verkoop jou kennis/dienste aan die hoogste bieder?
Ek het in my lewe al baie personeel "gekoop" - jy teiken iemand wat jy weet is baie goed in sy veld en maak hom 'n aanbod wat hy nie kan weier nie? Presies dieselfde gebeur in sport waar spelers gekoop word vir 'n klub, provinsie ens.
Soos Footlose se, alles draai om geld/oorlewing deesdae. Dalk moet ons net bespiegel oor die ouderdom waneer so iets moreel reg is.
Miskien is hoerskool nie te vroeg dat n kind begin leer dat hy/sy sekere vaardighede/kennis het wat bemarkbaar is en sodoende hulself voorberei vir die volwasse wereld waar hul hulself bemarkbaar moet maak - hetsy in sport, ake of entrepeneurs.
Aan die einde van die dag is dit uiters noodsaaklik dat 'n jong volwassene hulself kan bemark om in die huidige omstandighede 'n inkomste kan genereer.
Dit help nie meer om al die kennis/grade/vaardighede ens. te he nie, dit gaan nie vir jou 'n inkomste gee nie, dit is slegs jou bemarkbaarheid wat gaan bepaal of jy finansieel 'n sukses of nie, gaan wees
Arie, in beginsel stem ek saam met jou, maar nie op skoolvlak nie. Selfs nie eers op hogerskoolvlak nie. Ek is van mening dat indien die kind voel hy is bemarkbaar is in sy betrokke sport, hy eerder by 'n klub kan gaan aansluit en homself daar beskikbaar stel. Dan is hy op die regte plek. Die skole, is na my mening, nie die plek om 'n kind bloot te stel aan individuele kopery nie. Die kinders kan dit nie verwerk nie en dit het 'n negatiewe uiterking op die hele skoolgemeenskap. Wanneer 'n ou groot is, is dit 'n ander saak. Jy bemark jou skills en daarmee jouself. Niks fout daarmee nie. Dan is jy op die regte tydstip in jou lewe om "in die sweet van jou aanskyn, jou brood te verdien". 'n Skoolkind is beslis nog ver daarvandaan.
Op skoolvlak is die gesamentlike/sosiale sportmangees belangriker as die bemarkbaarheid van die individu. Die gekooptes/ingevoerdes, veral die wat so rondvlieg tussen die skole, dra geensins by tot die globale sportmangees van die skool nie. Dit gaan net oor homself en hoeveel hy kos. En die onderwysers het die stryd om baie van hulle deur 'n standerd te kry, met 'n merske gesukkel.
Dit dra ook by tot inkonsekwente toepassing van dissipline by 'n skool. In baie gevalle kan die kinders nie 'n voet verkeerd sit nie. Indien hulle wel oortree, word daar baie keer oge toegeknyp terwyl die onnie dit moet ontgeld. Die ander leerders sien dit en begin op dieselfde manier optree, want daar gebeur mos niks. Ek het persoonlike ervaring daarvan.
My attetude is die volgende; en dit is soos dit by die skool waar my dogter tans is, vir jarre toegepas is. Net so by die Engelse skool, hierbo genoem: "As jou kind in my goeie skool wil kom skoolgaan, waar akademiese prestasie hoogdy vier en die sport en kultuuruitslae heelwat bo gemiddeld is. Waar daar respek is vir gesag, meerderes en maats. Waar alles met liefde, toewyding en 'n passie gedoen word en waar hinders waaruit daar selfvertroue en 'n goeie selfbeeld straal rondbeweeg, waarom moet ek jou kind betaal om soontoe te kom? Die skoolfonds is R XXX per jaar meneer. Ons sal jou begaafde kind baie graag daar wil he, maar speel gou met jou inskrywing. Daar is al 'n waglys.
Goeie skole trek goeie kinders soos 'n magneet. Hulle hoef nie ingevoer te word en ten duurste daarvoor te betaal nie. Goeie skole gebruik die kinders tot hulle beskikking, die wat daar skoolgaan om hulle maksimaal te ontwikkel en ploeg dan met hulle eie kallers wanneer hulle hul skool bemark.
Toe ek op skool was, so 15 jaar terug, was dit 'n voorreg as 'n groot (bekende) hoërskool jou vra om daar te kom skoolgaan. Hoekom? 1.) Omdat my ma en ouma nie daardie skoolfonds kon bekostig nie, 2.) Dit was 'n voorreg want ek is grootgemaak om dit as 'n voorreg te sien, nie as my reg nie.
Al die klagtes hierbo oor kinders se optrede en maniere, dui vir my net op een ding: ouers handhaaf nie meer disipline by die huis nie. Die kinders word nie meer grootgemaak om hul medemens te respekteer nie, en as jy 'n talent het (hetsy sport of akademies), dan is jy "special" en kan op ander trap. En ek stem saam met julle dat (die meeste) skole nie hierdie saak juis verbeter nie.
Ons woon in Pietermaritzburg. Seker die een plek naas Gauteng waar skole 'n "naam" het en waar leerders "aangekoop" word. En die meeste van hierdie skole is Engels, omdat die meeste mense in hierdie omgewing Engelssprekend is. Van wat ek hoor pas meeste van die skole die "voerarea" redelik goed toe, behalwe wanneer dit by Afrikaans-sprekende kinders kom. As hulle uitblink in sport of akademie dan staan hulle 'n redelike goeie kans om by een van die Engelse hoërskole (colleges) in te kom, want sien, ons het net een Afrikaanse hoërskool.
My oudste begin sy graad 0 in 2012 (as die Here wil) en ons het 'n keuse van 3 laerskole waarheen ons hom kan stuur. En dit is goed, ons het reeds een gekies met goeie standaarde, moreel en akademies, want sien, by die ander skool was daar laas jaar nog 'n paar "steek" gevalle onder die kinders. Maar ek is ook vertel dat as hy in hierdie goeie laerskool is, dan is sy kanse om by van die Engelse kolleges in te kom beter. Dis nou deur middel van 'n beurs. En ek wil dit graag vir my seunskind hê want ons kan nie R30 000 per jaar betaal om hom self daar te plaas nie. En ek sien dit nie as "koop/verkoop" van my kind nie, net 'n goeie kans wat benut moet word vir die toekoms, want die matrieksertifikaat beteken darem nog iets.
Maar... kom hy nou nie in by een van die kolleges nie, dan is ek nie te teleurgesteld nie, want nou so 'n paar weke terug hoor ek Engelse ouers gesels oor waarheen hulle hul seunskinders wil stuur, en almal stem saam - hulle wil gaan aanklop by die Afrikaanse hoërskool. Want "steek-gevalle" of de not - hul kinders word daar nog geleer om ander te respekteer, en hulle word nie te groot vir hulle skoene nie, hul word teruggedruk in hul skoene.
Dit laat my dink, ja... dit laat my dink...
Dit bly maar 'n moeilike vrragstuk ... en ek moet bieg, daar is seker voor- en nadele van die "kinders koop"-stelsel. Skole behoort egter primer op opvoeding en onderwys ingestel te wees ... sport behoort 'n by-produk te wees ... nie andersom nie!!!
Ek stem ook saam met Arie: Hoer skole (lees maar die alternatiewe karakters in asb) behoort kinders op die "regte lewe" voor te berei. Ek seg al lank al dat ons skole stelsel dit nie doen nie ... waarom is dit so dat daar 40 kinders in 'n Gr 1 klas is en wanneer hulle in matriek kom is hulle nog steeds 40?
Myns insiens behoort daar maksimum 15 kinders in 'n Gr 1 te wees ... terwyl hulle maar 75 - 80 JONGMENSE in 'n matriek klas kan sit ... op universiteit is daar in elk geval somtyds 200 studente in 'n lesinglokaal, en dis skaars twee maande nadat hulle op die skoolbanke was!!!
MAAK DIE KLASSE PROGRESSIEF GROTER HOE VERDER DIE KIND VORDER!!!
(Dieselfde redenasie kan dalk by die "koop"-stelsel gevolg word: Koop in laerskool behoort nie plaas te vind nie ... maar eers kom ons seg na St 8 kan dit dalk plaasving????)
Ook maar bly ek's nie die Minister van onderwys nie!!!!
Hello julle.
Elize, jy en Footloose raak die sake aan wat saakmaak en wat die verskil kan maak.
Die grootste probleem gaan gepaard met die algemene dissipline en die toepassing vam die skoolreels deur die bestuur van 'n skool.. Soos Elize tereg genoem het sit ons vandag met ernstige gerdagsprobleme in skole wat spruit uit die basiese opvoeding van die kind by sy ouerhuis soos, gehoorsaamheid, stiptelikheid, respek vir onderwysers an mede leerders en om dit te waardeer wat vir jou aangebied word. 'n Ander tekortkoming wat ek ook in die laaste vier jaar wat ek onderwys gegee het, opgemerk het en wat ek nie voorheen ervaar het nie, is dat die kinders nie van vroeg af geleer word om verantwoordelikhied te neem oor sy eie lewe nie. Ek het die ervaing gehad dat tot matriekleerders se ouers, gewoonlik die mammas, my telkemale nadat die sperdatum verstryk het om tekene en ander werkopdragte in te handig, my kom spreek het om uitstel te vra. Die kind doen dit nie self nie, ma kom vra.
'n Ander groot probleem is dat ouers eerder hul kind sal probeer verontskuldig in 'n saak en die onnie(gewoonlik eerste) of die skool verantwoordelik hou oor 'n issue. Dit word nie objektief benader nie, die onnie of die skool is eenvoudig die skuldige party.
Privaat skole, en ek praat nou van die gevestigde Colleges, bied beurse aan soos julle genoem het, maar dit geskied op totaal 'n ander wyse en doelstelling as die beurstoekenning/kopery by die gewone Departementele skole, maak nie saak of dit Afr. of Eng.-medium skole is nie.
Volgens my mening word die aspek van wen en "beste wees" totaal oorbeklemtoon by hierdie koopskole. Wen is nie die belangrikste nie, maar deelname in 'n goeie gees is. Indien 'n skool dit kan regkry om totale deelname te bevorder onder al die leerders. SAL "wen" en "eerste" self volg, maar die klem bly nog steeds op deelname in 'n goeie gees. Ek het dit ervaar by die genoemde engelse skool waar ek vir drie jaar was. Geen noemenswaardige atletiekprestasie was in 2004 hier te bespeur nie. Drie jaar later was hulle eerste in hul distrik en word opgegradeer na die "groot skole "katagorie toe.
Footloose, die grootte van die klasse en die kwaliteit van onderrig is juis wat my grootste bekommernis is in my vermoede dat daar 'n kopery-siekte by Aimee se skool begin ontstaan. Ek het gesien met van die ander skole wat ontplof het hier in ons area hoe dit die twee aspekte beinvloed het. Nou ja, dit het nie alles te doen met die kopery nie, maar word ook beinvloed deur die "demand" van 'n spesifieke gemeenskap. Sommige, indien nie almal van die koopskole manipuleer ook die "soort" leerder wat hulle by hul skole wil kry deur die "beursstelsel.
Elkgeval, 'n lekker onderwerp om oor te gesels.
Geniet julle naweek.
Moet se, soos in alles in die lewe is hierdie 'n komplekse saak wat nie sommer 'n maklike eenvoudige oplosing sal he nie.
Wat gesindheid teenoor die lewe, en mense betref glo ek nie dit is die onderwyser of skool se taak nie, ons as ouers moet darem seker die verantwoordelikheid van die kind se opvoeding op ons self neem?
'n Kind wat reg opgevoed is [en ek ealgemeen hier - daar sal altyd uitsonderings wees] sal sy mede leerders en opvoeders altyd respekteer. dit betekin nie dat hy dinge nie mag bevaagteken nie, maar at dit op die regte manier met respek gedoen al word, of so kind dan nou gekoop is hetsy deur akademiese of sport prestasie, sal hy met die regte opvoeding - trots wees op sy prestasie/vermoens sonder om grootbek te aak en ander te vertrap. as die kind van kleins af geleer was [met voorbeeld] dat sy prestaies net moontlik was deur die genade van Bo sal die erkening altyd daar wees!
Maar ja soos hier bo genoem ie aak is te kompleks om ommer maklik opgelos te word.
Moet dan ook se ek is bly my kinders skool en universiteit dae is jare terug al verby, het nou een kleinkind op universiteit, een op hoer skool, een op laerskool en twee wat binne kort hul skool loopbaan gaan begin - en ek raak partykeer baie bekomerd oor die dinge wat mens hhor en lees.
Weereens kan ons maar net vertrou en glo athulle veilig sonder te groot probleme daar sal deurkom.
'n Ou draad, maar nog steeds relevant.
Ek word nou weer 'n keer warm in die nek oor hierdie sakie.
Tienertjie se skoolfonds is hierdie jaar oor die R18 000. Skoolboeke en ander benodigdhede se koste beloop al R3800 tot dusvêr.
Dan sit daar kinners op dieselfde skoolbanke wat niks betaal nie?????
Dink ek sal die hoof bel en ook maak soos my vriend Barnie. Sê vir hom Aimee is 'n "beurs" aangebied by 'n buurskool. Wat gaan hy daaromtrent doen? My Tienertjie het klaar haar merk goed gemaak by daai skool. Meer as baie van die gekooptes.
Willem jy moet nie nou klae nie, wag tot jou kind verder gaan leer.
My seun is nou in sy tweede jaar op PUKKE vir Chemiese Ing.
R 24580 (Klasgeld), R 23760 (Verblyf), R30000 (Sakgeld en kos), R12650 ( Petrol 2 tenks per maand) = R 90990 ongeveerd dit is nog nie wat jy so af en toe ekstra saam stuur na sy woonstel (kamer) toe nie. Wees bly oor wat jy nou moet betaal jou skok kom nog.
Ons moet betaal om vir die kinders die beste te kan gee.
Sterkte
Theunis, ek sit in dieselfde bootjie met die seun. Gelukkig bly hy in die huis, al eet hy steeds R80 000 se groceries 'n maand op....
Ek hoop julle het goeie finansiele beplanning toegepas vir die oefening?
Van die dag van hulle geboorte af, anders is dit byna onmoontlik.
Willemien wat kla jy. Klein spinnekop se kleuterskool kos R19200 vir die jaar. Dan praat ons nie eers vir al die ander ekstra klassies en aktiwiteite wat jy voor moet betaal nie. Dit is mos groot besigheid by kleuterskole. Honderde ander goed wat aangebied word deur iemand van buite, en jy betaal maar want jy wil mos nou nie dat jou kind eenkant sit terwyl die ander kinders iets doen nie. En hulle weet dit.
Al die beplanning van hulle geboorte af met 'n 10% verhooging elke jaar, dit gaan nie eers vir jou kind vir 'n jaar of miskien 1 1/2 jaar help nie. Toe ons begin het 19 jaar terug het die makalaar gese as on nou vir R60 000 uit neem is dit ok en met al die grooi het ons R129500 uitgekry. Ek sal nooit ooit weer by 'n versekerings plek vir enige van die klein kinders as daar is eendag vir hulle geld bele nie. Sit in die bank en dan is dit veilig. As jy nou 'n klein ding het gaan dit jou by die 2 miljoen miskien kos om jou kind 'n graad te laat kry.
Theunis, ja. Gelukkig kom studeer sy verniet hier by UJ. Ek en Lorraine werk albei hier. Net registrasiegeld en boeke.
Oubaas, ek kla nie. Ek is bitterlik beswaard oor die kinders wat ek moet sponsor, sien.
He, he...en een van die dae is jou koste x 2.
Jip, julle. Sit ek nou nog die musiek- en sanglesse @ R6800/jaar, die dansklasse @ R2640, die danskostuums vir die jaar @+-R6600, die nuwe atletiekklere en spikes @ R2900, die Pom-Pom dansskirt en tekkies @ R480, die nuwe skoolklere wat Saterdag gekoop moet word @ R1400 en 'n Blackberry by, Dan begin die spullietjie al na 'n onaardige bedrag toe staan.
Wonner nog steeds of moet ek nie maar die skoolhoof bel nie.
Gyfie, dit verg nogal redelike maklike finansieele beplanning, hoor.
HAAL UIT EN WYS, DADDY.
Ons 2 kinders se kleuterskool beloop R32 400.00. Dan is daar nog nie vir ekstra aktiwiteite byhgereken nie. Die kostes om kinders groot en geleerd te kry word ook nie minder nie. Ons kry daagliks pamflette van die kleuterskool af oor een of ander aktiwiteit waaraan hulle kan deel met 'n prys natuurlik.
Altyd 'n ekstra by, Gert.
By ons beloop die ekstras so ong R600/jaar.
Dan kom die "Pa se Taxi"-fooie nog nie by @ R2-85/km en die rytyd en staantyd @ R 500/uur, vir die taxidrywer, nie.
Maklik. Neem jou sleepvoertuig en woonwa se paaiemente per maand. Dit sal sekerlik naastenby 'n kind op Universiteit hou.
As ek so loer wat die manne hier ry, kan hulle maklik hulle kinders in die buiteland laat studeer. (Net tong in die kies mense, asb geen klippe, of messe in my rug nie)
Groete
Wie's aanlyn
Aanlyn gebruikers
- deonhitchcock
- JC
- Secundant
- Corriev
- Francois Malan
- Mufasa
- Andries Pretorius
- Tazz123
- Christo de Wit
- Frikadel
- EGO
- Benzan
- WilleWillemien
- Andre Beyleveld
- JM
- Stalkersa



.jpg)





.jpg)


.jpg)




Die siekte is in volle swang hierby ons, maar vind meer plaas by die groot engelse skole, ek sonder nie engels uit nie, dit is net dat hulle by verre die meerderheid is, en kan met sekerheid se, dat as ons afrikaanse skole die meerderheid was, dit presies dieselfde sou gewees het, maar hulle koop ons kinders vir die vale hier vir rugby, ons afrikaanse skole krimp So bly myne is klaar met skool. Want my m#$*r sou gepluk het.