Victoriabaai-kampterrein | Ai, ek wens ek was nou daar...

Die padbordjies langs die N2 wys dat ons al hoe nader aan George kom.
Paaie draai weg na plekkies soos Tergniet, Groot-Brak en Glentana, en elke nou en dan sien jy die see tussen die ruigtes uitsteek.
Dis tyd om Lucas Maree se Kiekies-konsert in die CD-speler te laai en deur die
liedjies te woerts, totdat jy die kitaarakkoorde van “Victoriabaai” herken:
Gedagtes vat my soos ’n kolk wat draai deur die newels na Victoriabaai…
Net hier anderkant, by die Engen-vulstasie, draai jy af na dié klein versteekte baaitjie en vyf minute later is jy daar.
Ons hou stil by die beskutte strandjie. ’n Zoeloe-man met ’n oranje beffie en knuppel oor die skouer groet ons: “Ah! Madame! Nice bakkie, lekker vir die surf boards.” Dit is Peacemaker Nompante, die “burge-meester” van Victoriabaai. Hy doen glo al 16 jaar lank hier diens en kan seker met rede aanspraak maak op dié titel.
Hy sal jou ook beduie waar om by Lionel, die kampopsigter, se kantoor te betaal, terwyl hy sing-sing oor die geparkeerde motors waghou.
Victoriabaai is een van dié branderryplekke in Suid-Afrika, maar jy hoef nie ’n klomp Billabong- en Instinct-plakkers agterop jou kar te hê om hier tuis te voel nie. Die strand het ’n paar goeie plekke vir lyn natmaak en die kampplek se ligging teen die koppe bo die strand is iets om oor huis toe te skryf.
Die staanplekke lê op drie terrasse – twee aan weerskante van die strand en een ’n bietjie meer beskut in ’n klofie. Die ingangshekke bly gesluit en net kampeerders kry ’n sleutel.
Die beste staanplekke is regs bo die strand. Dis gelyk en daar’s welige gras. Links onder jou lê die swemplek, en doer oorkant, al teen die kop langs, kronkel die treinspoor waar-op die Outeniqua Choo-Tjoe-stoomtreintjie altyd geloop het voordat vloedwaters die spoor beskadig het. Hier reg onder is die pier waar jy vir steenbras en kabeljou kan hengel, en net langs dit ’n getypoel.
Op hierdie terras het elk van die 19 staanplekke sy eie ablusiegerief, met ’n kragpunt, lig en opwasbak teen die buitemuur. Dit voel byna soos by die huis as jy jou badsakkie die eerste aand op die stortmuurtjie uitpak met die wete dit is in niemand se pad nie.
Elke staanplek het ’n geboude braaiplek reg voor op die rand van die terras, van waar jy tot in môre kan sien. Is dit dalk die kliptroon waarvan ou Lucas sing – waar hy sit en weer hoop kry vir die lewe?
Selfs al is die weer sleg, kan jy staatmaak op ’n paar branderplankryers wat ’n ent see-in ronddryf en wag vir daai grote wat van regs af breek. Elke nou en dan kom ’n surfer teen ’n waterbult afgeswiep. Party duik ná ’n entjie van die branderplank af en roei terug; ander ry in die wit skuim tot op die strand en draf dan in die skemerte teen die houttrappies uit – reguit na ’n warm stort.
Terwyl ’n mens van hier bo af staar, kan jy nie help om te dink hoeveel dié lappie grond onder jou Crocs werd is nie. Maar nou is dit alles net joune.
WegSleep sê: Hier is ’n getypoel vir kleuters, lekker branders vir jou tienerseun en ’n menseredder vir jou tienerdogter.





