Sunset-Karavaanpark | Bakgat

Onthou jy daai “Bakgat”-Isuzu-advertensie so paar jaar gelede? Daar was ’n foto van man wat trots voor sy dubbelkajuit 2,5-dieselbakkie staan en agterop die bakkie was ’n pers veselglas-olifantjie.
Agter die toonbank by die Oliviersrust Gastehuis se ontvangskantoor op De Rust is daar ’n geraamde afdruk van daardie advertensie soos wat dit in Landbouweekblad verskyn het.
In die ander hoek van die kantoortjie is ’n groot foto van kolonel Harlan Sanders – die man met die geheime kruie en speserye-resep – en die muur is byna toegeplak met Kentucky Fried Chicken-aandenkings.
Daar is penne, skryfblokke , lapelwapentjies, toekennings vir getroue diens en ’n versameling naamplaatjies. Op al die naamplaatjies en toekennings spog Gert Olivier se naam.
Hy is die man op die Isuzu-advertensie en die eienaar van Oliviersrust en die Sunset-karavaanpark op die dorp.
Gert en sy vrou, Elsie, het die kamp en die gastehuis begin nadat hy sowat 30 jaar by KFC gewerk het. Daai olifantjie in die advertensie staan nou voor Gert se winkel, “Herrie se plek”, skuins oorkant die karavaanpark. Eintlik is die winkel skuins oorkant én langs die karavaanpark, want die karavaanpark sit weerskante van De Rust se hoofstraat.
Dit voel aanvanklik asof jy almal moet groet wat aan die ander kant van die kamp se lae grensmuurtjie verbystap en diegene wat oormatig sekerheidsbewus is, sal dalk effens kriewelrig voel, maar dit het egter vir Johan en Elbie Strydom van Pretoria min gepla.
“Dit was so lekker hier, ons het sommer besluit om nog ’n nag langer te bly. ’n Mens dink nogal die verkeer in die straat gaan jou pla, maar jy vergeet heeltemal daarvan en ontspan net,” sê Johan.
Die grasstaanplekke is so groen dat die donkies in die kampie neffens die park hul nekke onderdeur die grensdraad druk om daar te wei.
Die donkies is ’n lokpunt op die dorp. As jy vooraf met Elsie reël, sal Jafta Snyman vroegoggend die donkies kom inspan en buite Herrie se Plek op jou wag vir ’n rit deur die dorp op sy donkiekar.
Jafta sê daar is ongeveer 24 donkiekarre op die dorp wat opgekommandeer kan word om toeriste “vir ’n spin te vat” wanneer dinge bedrywig raak, veral tydens die KKNK.
Langs die hek van die karavaanpark is ’n houtkruis met vergulde naamplaatjies van die donkies wat vir oulaas uitgespan is.
Doendinge: Gaan verken die dorpie met ’n donkiekar. Ry deur Meiringspoort en gaan hou piekniek by een van die vele driffies, of gaan soek die Herrieklip.
- Gaan na die waterval, in die middel van die poort.
WegSleep sê: Koop jou braaihout by Elsie. Vir R10 kry jy ’n ordentlike sakkie droë hout met ’n dosie vuurhoutjies en twee blokkies Blitz daarby.



