Skurwekop | Sonskyn, braaivleis en Skurwekop

Wanneer jy in Kaapstad woon, is die see naderhand nie meer snaaks nie en soek jy ’n andersoortige bestemming om jou opgewonde te maak. Vir ’n hele paar dae het dit in my kop gemaal: “Ons gaan plaas toe!” en Vrydagmiddag ná werk het ek voet in die hoek gesit Robertson toe.
Hoe ver is dit? Die Skurwekop-afdraai is 150 km vanaf Kaapstad. Sowat 5 km voor Robertson draai jy regs van die R60 by die bordjie vir die Goree-vallei. Dis nou as jy die N1 tot by Worcester vat en dan by Worcester oos draai Robertson toe. As jy nie té laat by die werk wegkom nie, kan jy ook oor Franschhoekpas by Villiersdorp om ry, dis net sowat 50 km verder.
Los dit andersins vir die Sondagmiddag se terugrit, want waarom sal ’n mens só ’n mooi pas in die donker wil ry?
Wat kan ek daar doen? Leen jou buurman se kano of belê in daai roeiboot wat jy nog altyd wou hê, want met die Breërivier aan jou voete is roei net die ding. As jy nie jou eie vaartuig wil saampiekel nie, kan jy by die buurplaas ’n kano gaan huur. Jy sal egter moet gou spring, want teen ’n tarief van net R100 vir die hele naweek, word dié kano’s gou opgeraap.
As roei na te veel moeite klink en jy net lus is om in die water te lê, kan jy kies tussen die rivier en die swembad. Die voordeel van die swembad is dat jy sommer van daar ’n ogie kan hou oor Johantjie op die trampolien en Sussie op die swaaie.
Saans en soggens vroeg is dit tyd om die lyne nat te maak. Dan gooi die manne sommer van die bootsleephelling af vir die grotes.
Jy kan gisteraand se lekker tjoppie gaan afwerk op die bergfietsroetes of jy kan Skurwekop gaan uitklim as jy werklik ywerig voel. Dit sal jou so ’n uur en ’n half neem om bo te kom, maar die inspanning is beslis die moeite werd. Van daar bo af kan jy sien tot in jou verste gedagtes – voor jou lê uitgestrekte landerye, met die Breërivier wat tussendeur koers kies. Daar is ook ’n kanaal wat eers langs die rivier vloei en dan tussen die wingerde inkronkel en van hier bo af kan jy mooi sien hoe die kampterrein presies tussen die twee ingewurm lê.
Klim die kop vroegoggend uit terwyl dit nog koel is. Sit en kyk hoe die son opkom en hoor hoe die plaas aan jou voete wakker word. Teen die tyd wanneer jy terugkom in die kampterrein, is jou waardering vir ’n stewige ontbyt en ’n lekker stort net soveel groter.
Maar as jy die soort mens is wat eers opstaan ná die ander al ontbyt gehad het, is daar darem ’n heel mak 2,8 km lange staproete wat jy kan gaan doen, net om darem te kan saampraat oor die naweek op die plaas.
Die 4x4-geesdriftiges kan vir Derik Prins van Zevenfontein 4x4 by * 082 294 3103 bel. Op sy plaas is ’n roete met ’n moeilikheidsgradering van 2 tot 3. (’n 4x4 is dus noodsaaklik, met hier en daar die gebruik van laestrek.)
Jy kan ook sommer die quad saambring, want Robertson Ryskool doen veldroetes deur die wingerde langs die Breërivier. Bel vir Inel * 072 2917 631 of Sanet by * 082 402 7088.
Daar is natuurlik ook nog die Rooiberg Wynkelder net buite Robertson en die Klipdrif-fabriek in die dorp waar jy brandewyn kan proe en middagete kan eet.
Wegsleep sê: Lieflik landelik. Onthou om die Tabard in te pak – die muskiete kan langs die rivier lastig wees.



