Silver Rocks | O, die zonkie...
O, die zonkie...
Ongeveer vyftien minute se ry noord van Bela-Bela lê Silver Rocks se kampplekke effens verhewe bo die Groot-Nylrivier wat rustig verby vloei.
Eddie van der Berg, die eienaar, vertel die plaas was oorspronklik 500 ha groot, maar hy het nog 20 ha duskant die rivier bygekoop vir die woonwapark.
Eddie is ’n ou hand met woonwaparke. Hy was die oorspronklike eienaar van Mbizi, en sy kundigheid is ook in die nuwe oord te bespeur. Elke staanplek het ’n lig, woonwakragpunt en vullisdrom. Van die staanplekke het ’n ronde geplaveide plek waar ’n losstaande staalbraai staan.
Die badkamers lyk of dit deur ’n argitek ontwerp is: dié gebou se lyne pas merkbaar goed in by die omgewing. As ’n badkamer vyf sterre kon kry, was dié een heel bo-aan. Die oppervlakke langs die gesigwasbakke is van gepoleerde graniet en die storthokkies is ruim. Hier is ook twee gesinsbadkamers, met een vir mense in
rolstoele; en langs die badkamers is ’n opwasvertrek.
En dan is al die paadjies tussen jou staanplek, die badkamers en ontvangs geplavei. Langs die badkamers is ’n swembadjie met ’n klouterraam, wipplank, trampolien en swaaie. Oorkant, nader aan die staanplekke, is ’n winkeltjie met basiese items soos blikkieskos en hout.
’n Putt-putt-baan is nie die grootste attraksie by ’n kampeerplek nie, maar dié een is pynlik netjies én nogal ’n uitdaging – jy gaan beslis jou voorgee ná een rondte verbeter. Die baan is langs die kampplek uitgelê en kyk ook uit oor die rivier.
Op ’n oop kol langs die kampplek staan drie donkies en twee sebras in gelid in ’n koeltetjie – dit lyk of iemand hulle so geparkeer het. Buite dié “binnekring”, ’n ent verder in die bos, staan ’n blesbok wat kort-kort ’n snorkie gee.
Fanie van Blerk, die oordbestuurder, ry later die middag die kamp binne vir ons wildsrit. “Jy sien daardie drie donkies? Dit is eintlik die buurman s’n. So saam met die sebras kan hulle mos teel. Ek dink ’n mens noem dit dan ’n ‘zonkie’; maar ek dink nie ’n zonkie kan op sy beurt verder voortplant nie – jy weet, dis soos ’n muil?”
Ons ry uit die kamp, oor ’n bruggie, en draai af op ’n smaller grondpaadjie. Die bos is ruig en ’n mens sien die diere moeilik. Skielik trek Fanie die handrem op, spring uit die Land Cruiser en gee twee groot treë tot langs ’n jong boom. “Kyk hier,” sê hy en breek ’n sytak van die boom skoon af. “Hierdie noem ons die lekkerbreekboom. Hy breek altyd mooi netjies af waar jy hom vasvat en buig.” Fanie hop terug in die Cruiser en ons ry verder. “Daar staan ’n vaalboom, ’n
enkeldoring en ’n dikbas; en daai is ’n sekelbos wat so lekker vuurmaak.
“Ek het besef toeriste hou van interessante stories as ’n mens so in die bos ry. Hulle wil nie weet dit is ’n Faurea saligna as jy dit kan uitwys as ’n boekenhout nie. Daar staan ’n drolpeer, maar moenie my vra hoekom dáárdie naam nie...

“Hier is diere ook: kameelperde, blouwildebeeste, elande, luiperds en selfs bruinhiënas.” ’n Elandpaar staan kniediep in die geil gras. “Weet jy hoe ken ’n mens die verskil tussen ’n elandkoei en -bul uit? Die koei het lang, dun horinkies. As ’n eland lekker oud word, dan kry hulle sulke rooierige krulhare op die voorkop.”
Doendinge
Reël ’n wildsrit vir die gesin saam met Fanie en leer nie net meer oor die wilde diere nie, maar verbreed sommer ook julle boomkennis. Dit kos R75 p.p.; kinders bo 12 betaal halfprys; en die jongeres ry verniet.

Katrol ’n swartbaars in. Reg langs die Silver Streams-lodge is ’n groot dam met van dié visse. Neem maar ’n foto van die vis, want jy moet hom teruggooi.
Ontspan met styl by die lodge. Eet in die restaurant of kom kyk jou gunstelingsport op die grootskerm.
Kyk of jy die raasblaar, wildesering, koedoeklapper en ghwarrieboom in die kampplek kan uitken.




