Safubi River Lodge | Wroem!

“Wanneer julle daar bo by die kampeerplek aankom, moet julle op die uitkyk wees vir Josef,” sê die vrou by ontvangs.
Ons groet haar en ry teen ’n bultjie uit op soek na Josef. ’n Mens moet mooi kyk, want Josef se groen oorpak is in dié welige plantegroei goeie kamoeflering.
Hy groet en gesels, maar verstaan nie werklik ons ons sê nie. Met die hulp van gebare en ’n paar byklanke stel ek vas ons kan op enige plek kamp opslaan.
Die kampeerplekke is op terrasse teen die koppie en die groenigheid lyk byna natuurlik. Ons slaan onder ’n soort worsboom kamp op.
Die woonwapark was seker eens op ’n tyd aan Nelspruit se buitewyke, maar vandag is dit amper ’n woonbuurt.
Nelspruit se lughawe lê naby, en elke dan en wan, elke keer tot groot vermaak van die kampkinders, vlieg ’n mikroligte vliegtuig of Cessna stadig oor die kamp..
Die stapel braaihout lyk soos ’n groot offerande, en die klipwerk sal seker nog honderd jaar hou.
Lank ná ete, terwyl die kole nog lekker gloei, verskyn Cyprian, ’n nagwag, skielik uit die donkerte.
Hy is ’n stille herinnering dat ’n mens nog in die stad is. Hy groet en verdwyn weer.
Voor een van die kampeerplekke staan ’n blink driewiel-motorfiets met ’n allemintige enjin. Die man aan wie dit behoort, stel hom voor as “Piet V8” de Wet, en sy vrou is Isabel. Hulle is van Ermelo.
“Ek wou nog altyd ’n V8 hê,” vertel hy. “Op skool het ek al my eerste flathead-Sidevalve-enjin van ’n 1937 Ford in ’n 1948 Morris ingebou.”
Hy noem sy driewiel ’n “350 cu/in Hi-veld Ferguson”. Nelspruit se klassiekemotor-klub het die naweek ’n saamtrek, en die De Wets is genooi om hulle pronkstuk te kom wys. Langs die driewiel staan ’n Ford Mustang. Piet sê hulle kamp al van 1970 af met die Ford, hoewel hy deesdae jou wrintiewaar die Sprite Scout met die driewiel sleep.
“Ons was in November op ’n Kaapse toer met die driewiel en woonwa, ’n rit van 6 000 km. Ons boude was seer, maar ons het darem kussinkies wat help. Ek ry so 100-110 km/h en kry so 6 km per liter wanneer ek sleep.
“Mense kom met hulle BMW’s en Mercs verby ons geseil, maar oomblikke later ry hulle stadiger, sodat ek hulle weer kan verby steek. Wanneer ek dan verbykom, sien jy net kameras wat na jou kant toe mik.”
Doendinge: Kruip rond in die Sudwalagrotte of ry Mpagenipas oos van Nelspruit.
WegSleep sê: Die kamp is naby die stad, maar voel sommer ver weg.



