Reyneke Park | Vrystaat!

Soos Mrs Ball’s se naam sinoniem is met blatjang, is die Reynekes van Kwaggafontein in Bloemfontein se naam sinoniem met karavane en kampeer.
Reyneke Park is ’n ou familie-besigheid: Les Reyneke het grootgeword op die hoewe aan die rand van die stad waar Reyneke Park lê. Sy ma, Tracey, verhuur al dekades lank karavane hier en hy het die karavaanpark en kampplek, asook chalets en oornagkamers, sowat 12 jaar gelede begin, vertel sy seun, Les junior.
“Bloemfontein is ’n lekker halfwegstop Kaap toe,” sê Rodney Cave van Pretoria. “Ons het verlede jaar presies op dieselfde plek gestaan.”
Hy en sy vrou, Sheila, sleep al 30 jaar lank karavaan en is saam met drie van hul kleinkinders op pad see toe.
Soos baie van die kampeerders het hulle skemertyd aangekom en slaap hulle net oor. Net die kampstoele en die kinders se fietse is uit die groot Jurgens Exclusive gehaal. Aandete is ’n pizza wat sommer hier by hul karavaan afgelewer is – Mr. Delivery se rooi bromponie ry teen ’n R40-fooitjie die 8 km van die stad af hierheen.
Net om die draai van die Cave-egpaar het Adriaan Labuschagne, ’n landmeter van Nelspruit, sy vrou, Pierrette, en hul twee kinders stilgehou. Dit was’n lang trek van Jeffreysbaai af vir hulle.
“Ons slaap net oor,” sê Adriaan. Hy glo die eerste dag van die reis moet die verste wees; die tweede dag moet jy minder ry. “Met die reis af het ons by Gariepdam geslaap; nou slaap ons hier.
’n Mens wil net ’n plek hê met krag en waar jy kan slaap, hierdie is perfek. Ek wou afhaak om in te gaan stad toe, maar dis nie meer nodig nie – ons het ook die afleweraar se scooter voorgekeer.”
Die park se grasstaanplekke is rondom 12 klein ablusieblokke aangelê.
Elke ablusieblok het ’n afsonderlike badkamer vir mans en vroue (met ’n stort, toilet en wasbak) en ’n opwaskamer met warm water vir skottelgoed. Die buiteligte help as die karavaan en tent ná sononder staangemaak word.
In die park is ’n swembad, trampolien, klimraam en glyplank, pool-tafel en wasmasjiene. Hier is maar min groot koeltebome teen die hitte.
Vir die gesin of groep wat wil braai, is die braaiplekke by die staanplekke straks ’n bietjie klein. Groot steaks sal in skofte gebraai moet word, of ’n mens moet by die groter braaiplekke gaan braai.
Daar is ook ’n lapa waar groter groepe om die vuur kan kuier. Die ontvangskantoor is sommer ook ’n snoepwinkel en drankwinkel – alles in een.
Wanneer die kantoortjie sluit, neem Naas van Rensburg, veiligheidsbeampte, by die hek oor. Naas sê hy kan nie stilsit nie. Waar daar gesukkel word met die afhaak of opslaan, sit hy hand by.
Al sit die kamp hier reg langs die besige N8, was hier nog nie ’n inbraak of diefstal nie, sê hy. Dit neem nie lank nie, dan is ’n mens die geruis van die verkeer ook gewoond.
Doendinge: Maak ’n draai by die Nasionale Botaniese Tuin in Raytonweg; besoek van Bloemfontein se museums en geskiedkundige geboue, of bekyk die stad van Naval Hill af.
WegSleep sê: Soos Rodney sê – dis ’n lekker halfwegstop.



