Nkwe-woonwapark | In oom Paul se skadu

Pretoria het skaars in die truspieëltjie verdwyn of jy ry by die woonwapark se hek in. Die bestuurder, Francois Liebenberg, wag ons onder die afdak van sy permanente staanplek in. Ons betaal vir ons verblyf en vra wat beteken Nkwe nou eintlik.
“Tier!” laat hoor sy vrou, Trudie, uit die kantoor langsaan. “Ja, hier moet jare gelede tiere gewees het.”
Tierpoort is nogal hier naby, maar daar was mos nie tiere in Afrika nie, wonder ek hardop.
“Man, dis seker dan ’n luiperd,” sê Francois.
Ons kies koers na ons staanplek toe. Die kampeerterrein met sy 26 staanplekke is so groot soos ’n halwe rugbyveld en die gras is groen en welig. Groot witstinkhoutbome staan op die middellyn en vorm twee kamphelftes, met kleiner koeltebome op die doellyne.
Die staanplekke is ruim en dit verg geen spesiale toertjies om jou sleepding staan te maak nie – buiten vir ’n soort haak-en-steekboom wat die opslaan van ons daktent effens vertraag.
’n Entjie verder is daar nog ’n kampplek, maar hier het die grassnyer blykbaar nie verlede week ’n draai gemaak nie.
Kragpunte, waterkrane en braaiplekke is almal beskore. Die westelike “paviljoen” bestaan uit ’n paar ouerige woonwaens – nog met die ou geel nommerplate – in ’n ry geparkeer. As jy nie jou eie woonwa hierheen wil sleep nie, kan jy een van hulle huur.
Oorkant ons staanplek, in die tingerige akasiaboompie, is vier rooikophoutkappers besig om in ’n middellynboom ’n kommune te stig. ’n Eskader tarentale kondig skemer aan met ’n noodlanding op die rantjie oorkant ons kamp.
Die laundromat en opwasgedeelte het ’n veiligheidshek. Ná aandete was dit egter gesluit, en toe ons die volgende oggend ná ’n vroeë ontbyt wou gaan skottelgoed was, was dit steeds toe.
Die badkamers is in dieselfde rooierige klinkersteengeboutjie. Dit laat ’n mens dink aan ’n ou staatsgebou, maar die binnekant is ’n aangename verrassing. Die pynlik netjiese ablusiegeriewe spog selfs in die een hoek met ’n moderne blomruiker waarvan dekgras en plastiekblomme omtrent tot teen die dak staan. Daar is nie ’n plafon nie, want dit raak nogal warm onder die asbesdak.
Die Pienaarsrivier lê “net agter die bult” aan die suidoostelike kant van die park. Dis sowat vyf minute se stap bult-af na die swemplek in die rivier. Op die oewer is daar groot koeltebome wat skaduwee gooi oor ’n tamaai piekniekplek. Dis ook hier waar die snoepie naweke bedryf word.
Om die kampeerterrein, net buite die misdaadvoos oostelike voorstede van Pretoria, is ’n drie voet hoë vyfspoordoringheining. Is dit ál tussen ons en die elemente?
<kleur> Doendinge. Swem in die Pienaarsrivier (met jou piekniekmandjie aan wal) of durf twee staproetes* op die terrein aan.
WegSleep sê: Dis ’n rustige kampeerplek vir die Pretorianer wat net ’n entjie verder as sy voorhekkie wil sleep.



