Meiringskloof | Kamp soos Jopie Adam

Die Meiringskloof-natuurreservaat in die Oos-Vrystaat is een van daai plekke waar jy jou wa kan staanmaak en vir die res van die naweek net in die rustigheid en ruigtes verdwyn.
Die Meiringskloof-natuurreservaat buite Fouriesburg lyk soos ’n plek waar Jopie Adam kon wegkruip. Om die waarheid te sê, tydens die Anglo-Boereoorlog het ’n paar boeregesinne se vroue en kinders hoog bo in die kloof onder ’n krans kom skuiling soek, en vandag nog bied dié plek jou die geleentheid om van die samelewing te ontsnap vir ’n paar dae.
Tussen al die rykmanspeelplekke in die Oos-Vrystaat lê die bekostigbare Meiringskloof in ’n pragtige kloof. Dis nie eens 2 km buite die dorp nie, maar jy bevind jouself op ’n plek waar die natuur nog die oorhand het. Die hele gebied, met sy lappe en lappe pienk en wit kosmos en landerye vol sonneblom, is ook enige fotograaf se droom.
Kom kamp en kruip weg
Onder die blaredak van jou staanplek is jy omring deur inheemse bome soos witstinkhout, ouhout en wildeperske. Verder agtertoe toring die sandsteenkranse.
Elke staanplek het ’n stewige sementbraaiplek met ruim pak- en werkplek. Jy het ook jou eie kragpunt, maar die klompie krane staan versprei tussen die staanplekke. Tog is dit maar net ’n paar treë tot by die naaste kraan, waar jy vars bergwater uit een van die vyf fonteine in die kloof tap.

Die twee groot sandsteen-ablusieblokke – een vir mans en een vir vroue – is bymekaar en binne ’n minuut of drie se stap van al die staanplekke af. Binne-in is die geriewe ruim, met storte, baddens, toilette en wasbakke. Hier is ook ’n waskamer.
By die hek is die ontvangskantoor en kampwinkeltjie. Dit is weekdae van 8 vm. tot 16 nm. oop en oor naweke net tot 12 nm. Hier kan jy van skottelgoedseep, tandepasta, lekkergoed en koeldrank tot ’n gloeilamp en ’n Basotho-hoed koop.
Reg langs die winkel woon een van die park se regterhande, Jafta Nyama. Die hek altyd beman en kan jy enige tyd vir ’n sak hout gaan aanklop. Daar is ’n swembad in die kampterrein, sowel as ’n vlakker een vir die kinders. Dié afkoelplek is Pierre Visagie, ’n prokureur van Bethlehem, en sy vrou, Hanlie, se heil oor ’n naweek. Die gesin haak sommer maklik op ’n Vrydagmiddag die karavaan om die paar kilometer Fouriesburg toe te sleep vir ’n bietjie sielsrus.
“Ek’s mal oor die plek,” sê Pierre. “Daar is baie te doen, maar die rustigheid en pragtige omgewing doen dit vir my. Met die swembad is die kinders ook gewax.”
Onder die bome by hulle karavane is lede van die Goudveldse Ghoeroes-karavaanklub gesellig aan die kampkos maak. Dié “ontlaai-en-kuierklub” vir onderwysers is in 2004 gestig. Vir baie van hulle is dit nie die eerste besoek aan Meiringskloof nie. “Dis nie lekker hier nie, dis báie lekker,” sê Piet Roets, ’n stigterslid van die Ghoeroes. “Hier kom die mense behoorlik van die werk af weg en word daar nie shop gepraat nie. Ons kan rus, die natuur geniet en stap.”
Reg langs die ablusieblokke begin ’n klompie staproetes – jy kan kies of jy vir ’n halfuur, ’n uur of twee dae wil besig wees. Die korter roetes loop deur die bosryke kloof en lei jou van ’n reuse-holkrans, wat in die Anglo-Boereoorlog ’n skuilplek vir vroue en kinders was, tot by ’n waterval, strome en kranstonnels wat deur water uitgekerf is.
Van die beginpunt van die staproetes in die kampterrein kan jy vir 2 km tot aan die verste punt van die diep kloof stap en hier met ’n hoë kettingleer (nie vir kleintjies of vir hoogtevreeslyers nie) teen die kranse uitklouter vir ’n stappie na die dorpsdam met sy groot swartbaars en karp. Jy mag hier hengel. Hier, bo-op die plato, is uitkykpunte van waar jy die Malutiberg kan sien, asook die kloof en die kampterrein doer onder.
Meiringskloof het ’n ryk voëllewe en jy kan soggens ’n Piet-my-vrou hoor roep of ’n bontroklaksman, rooivlerkspreeu, jangroentjie of Kaapse glasogie tussen die boomtakke sien fladder.
Vir ’n nag in die bos kan stappers op die kort roetes in die Swaeltjienes, ’n sandsteenhut, oornag. Die Swaeltjienes lê naby die kampterrein in die kloof. Hier is plek vir 14, braaiplek, ’n kouewater-veldstort en twee long drops.
As jy die tweedag-roete wil aanpak, slaap jy in ’n oornaghut (vir 6 mense) in die aangrensende Didibeng-bergpark, of in die somermaande is daar slaapplek vir groter groepe in ’n lapa.
Net uit by die kamphek is Jaap Kerkhoff en sy seun, Fritz, se Ventersberg-perdestalle. Teen R85 per uur of R160 vir twee uur kan jy vir jou ’n perd opsaal. Hier kan ervare ruiters en beginners in die saal klim vir sirkelroetes van ’n uur of drie, ’n skemerkelkierit, maanligrit, dagrit, oornagrit en selfs ’n rit van drie dae in die omgewing en in die Didibeng-bergpark.
Dié gebied van 120 km² is al vir tien jaar deel van die Meiringskloof-natuurpark. Dis ’n uitsonderlike geologiese gebied wat deur vulkaniese aktiwiteite van miljoene jare gelede gevorm is. Kampeerders kan vir R80 per voertuig ’n dagbesoek aan Didibeng bring. Hier is van maklike tot hardebaard-roetes vir 4x4’s, met uitkykpunte en piekniekplekke langs die pad. Een van die roetes kronkel tot bo-op Ventersberg (2 260 m).
Didibeng is die tuiste van verskeie voëlspesies. Hier is 47 spesies aangeteken en witkruisarende en lammergiers is ook op die lys. Hier is nog ’n paar staproetes as jy reeds dié in Meiringskloof kafgedraf het. In die veld sien jy ook kleinwild en hier’s ’n dam met swartbaars en karp.
Nog ’n uitspanplek. Didibeng-bergpark se Ouhout-kampplek langs ’n bergstroom is basies, met 20 staanplekke, ’n lapa en ’n ablusieblok met storte, baddens en spoeltoilette. Hier is nie krag nie, maar wel ’n donkie vir warm water.
Dís waar dit begin het
Dit was die eerste bestuurders – wyle ds. Japie le Roux, ’n afgetrede Zimbabwe-sendeling, en sy vrou, wyle Sans le Roux – se droom om van Meiringskloof ’n plek te maak waar mense opnuut die eenvoudige dinge in die lewe waardeer. In ’n besoekersboek is oom Japie se boodskap aangeteken: Gaan sit rustig buite, geniet die uitsig en kyk op.
Oom Japie het nooit die kampterrein self besit nie, maar sy jongste dogter, Susan Pretorius, en haar man, Wynand, het die kloof van 26 ha in die 1980’s van die munisipaliteit gekoop. Daarna het die Le Roux’s die ou munisipale piekniekplek begin omskep in die kamp- en uitspanplek wat dit vandag is.
’n Dekade gelede het Jaap en Jo Kerkhoff, twee oudweermaglede, as bestuurders oorgeneem. Die bewaringswerk wat die Pretoriusse met die hulp van die Kerkhoffs hier doen, is merkwaardig.
Gaan draai op die dorp
Fouriesburg lê in die Brandwaterkom, wat gevorm word deur die Witteberg aan die westekant en die Rooiberg in die noorde. Die Lesotho-grens (Caledonspoort-grenspos) is slegs 10 km van die dorp af en die Klein-Caledon kabbel hier verby. Dis nie ’n groot dorp nie en hier is nie ’n Pick n Pay of Woolies nie, maar meer as een algemene handelaar, ’n slaghuis uit die boonste rakke, drankwinkels, vulstasies en kitsbanke.
Fouriesburg was tydens die Anglo-Boereoorlog die Vrystaatse hoofstad. Dié proklamasie is nooit tersyde gestel nie en Fouriesburgers praat steeds graag van hul dorp as die hoofstad.
Onder die talle sandsteengeboue is pres. M.T. Steyn se “presidensie” en die NG kerk (1894) op die plek waar Paul Kruger en sy kommando kamp opgeslaan het in die Basotho-oorlog van 1865.
Sowat 20 km buite die dorp, op die pad na Clarens, is Surrender Hill. Dit is op dié koppie waar generaal Marthinus Prinsloo en 3 000 Vrystaatse burgers op 5 Julie 1900 vasgekeer en tot oorgawe gedwing is. Deesdae is die koppie bekend vir die gelyknamige marathon wat jaarliks in Februarie plaasvind.
In die middel van die dorp, sommer so skuins oormekaar, sit die inligtingsentrum en die geskiedkundige hotel wat Clive en Martie Craig in een van die dorpsbakens omskep het. Vir brosjures, kaarte en reisinligting, plaaslike kuns en handewerk, of aspersies, kersies en ingemaakte produkte, is die inligtingsentrum die regte plek. By die hotel kan jy, benewens ’n ete of ’n ietsie in die kroeg, ook by Clive-hulle meer uitvind oor die verskeidenheid toere en dagtoere wat hulle aanbied, en ook inligting oor selfry-uitstappies kry.
Reg rondom Fouriesburg – letterlik in elke windrigting – lê ander dorpe, elk met sy eie besonderse besienswaardighede en doendinge.
Bethlehem: Dié dorp lê 52 km noord van Fouriesburg (op die R26). Bakens sluit in die NG Moederkerk, Strapp-gebou, stadsaal, en vier damme in die omgewing en die Wolhuterskop-natuurreservaat.
In die reservaat is verskeie kort roetes wat jy te voet, per fiets of te perd kan aanpak. Hier stap en ry jy in die Oos-Vrystaatse grasveld tussen 11 bokspesies en sebras. By die hek kan jy een van Blackie Swart se perde teen R60 per uur opsaal. Toegang is R42 per voertuig en R12 vir ’n fiets of ’n perd.
Clarens: Die toeristedorp (36 km op die R711) is bekend vir sy natuurskoon, kunsgalerye en eetplekke. Van Clarens af is dit ’n kort rukkie se ry tot in die Golden Gate Hoogland- nasionale park en van daar is dit weer ’n kort entjie tot by die Basotho-kultuurdorp. Dit is ’n replika van ’n 18de-eeuse Basotho-dorp waarin die lewe van toeka deur akteurs in tradisionele drag uitgebeeld word. Hier is deur die dag toere en inligtingsessies (R30; kinders R20) en ’n teetuin.
Ficksburg: Die kersiehoofstad (46 km op die R26) is ook ’n dorp met ’n ryk geskiedenis. Vanjaar word die jaarlikse Kersiefees, die oudste en grootste oesfees in die land, van 19 tot 21 November gehou.
As jy nie by die fees gaan uitkom nie, besoek die Iona-kersieplaas tussen Fouriesburg en Ficksburg. Hier kan jy kersielikeur, schnapps, kersies in stroop, vars kersies en enige denkbare kersieproduk van die grootste kersieplaas in Afrika proe.
Rosendal: Hierdie plekkie kom op dreef as ’n kunsdorpie met galerye en eetplekke. Dit is hier waar 7de Laan se Chris van Niekerk die Ou Handelshuis, Koffiestoep en Rosendal-teater het. Van die land se voorste kunstenaars kom draai gereeld hier vir vertonings.



