Leeuwenboschfontein | Waar die stilte met jou praat
Waneer jy die Kaapse berge by Worcester rond agterlaat en koers kies binneland toe, raak die wêreld sommer gou-gou plat.
Hier en daar is nog ’n steiltetjie in die pad, maar kort voor lank sprei die Karoo sy karos oop en sien jy net dorre bossies, gras, en hier en daar ’n kliprantjie weerskante van die pad.
Op die oog af lyk dit vaal; die veld se bekoring kom meld hom nie sommer aan nie. Dis ’n skoonheid wat jou kilometer ná kilometer sag maak deur hier ’n vygie en daar ’n aalwyn in blom te wys.
Aan die linkerkant van die pad lê die tone van die Onder-Karoo en na regs draai daar elke nou en dan ’n pad weg na die een of ander Klein-Karoo-dorpie.
So ’n ent anderkant De Doorns is nóg so een wat jou Montagu toe neem – dis hom wat jy moet vat om by Leeuwenboschfontein te kom.
Op dié plaas van 1 188 ha kan jy jou woonwa langs ’n dammetjie onder ’n wilgerboom trek. Dan kan jy jouself vir die volgende dag of twee baie besig hou met 4x4- en staproetes, of sommer net eenvoudig in jou kampstoel sit en die bergpatryse, Karoolangstertjies en koningrooibekkies deur jou verkyker dophou.
Leeuwenboschfontein is nie ’n tipiese Karooplaas met boktroppe, lusernlande en ’n paar skaaphonde agterop ’n wit Toyota-bakkie nie. Dis ’n gasteplaas, en die veld is slegs die tuiste van ’n troppie springbokke en binnekort, sodra die wildheinings klaar is, ook rooihartbeeste en sebras.
’n Paar 4x4-roetes (wat wissel van ’n graad 3 tot ’n graad 5) kronkel teen die rantjies uit en bergfietsryers kom toets ook gereeld hulle vernuf op dié gedugte tweespoorpaadjies.
As jou voertuig sy sout werd is, kan jy met die klippad tot heel bo by die uitkykpunt ry. Daar’s ’n hut met vensters reg rondom en ’n braaiplek in die middel. Van hierbo af sien jy vier, vyf reekse kliprantjies waarvan elkeen se skakering van blou ’n bietjie meer uitgewas is totdat die verste een byna met die skoon lug saamsmelt.
Na die anderkant toe sal jy in die laat winter steeds sneeu op Matroosberg sien lê. Soggens kraak ’n dik laag ryp onder jou voete as jy in die kampterrein rondloop, maar sodra die son uitkom, is dit sommer wárm.
Gelukkig is daar ’n groot dam op die plaas waar jy met jou eie kajak of tjoepie kan gaan rondplas, en hengelaars kan daar lyn ingooi vir kurper. In die hoofhuis se agtertuin is ook ’n swembad wat die bestuurder, Wessel Badenhorst, op warm dae vir die kleingoed voltap.
Hy en sy vrou, Bets, sorg dat die dinge op Leeuwenboschfontein glad verloop. As jy gelukkig is, het sy net voor jou aankoms ’n baksel karringmelkbeskuit uitgedroog en kan jy ’n pakkie vir R30 by die ontvangskantoor koop. Die basiese dinge soos hout, ys, aartappelskyfies en vuurhoutjies is ook hier te kry.
Wessel is gedurig aan ’t opknappingswerk in die kampterrein doen. Die houtafskortings tussen die staanplekke is sy handewerk en dit staan só geplant dat die wind nie saans jou braaivuur blus nie. Teen elke afskorting is ’n werkoppervlak aangebring, sowel as ’n waterkraan (suiwer fonteinwater), elektriese lig en kragpunt.
Die uitleg van die badkamers (twee vir mans en twee vir vroue) is ook eers mooi bedink voordat dit van balke, riete en skadunet aanmekaargeslaan is.
Dié geriewe lyk nie soos die ablusieblokke in groot kampterreine nie.
Elke hokkie is ’n alles-in-een, met ’n wasbak, stort en aantrekplek in een kamertjie, en ’n toilet net om ’n hoekie of agter ’n volgende deur. Dis soos ’n kombinasie van ’n gewone gedeelde ablusieblok en ’n private badkamer.
Die kampkombuisie is in dieselfde styl gebou en die binnekant is altyd koel en in ’n effense skemerte gehul – ’n goeie wegkruipplek in die hitte van die dag. Daar is twee yskaste, twee wasbakke (met warm water) en ’n houttafel waarby jy jou tamaties en uie vir die hamburgers se smoor kan sit en opkerf. En net ingeval jy voel jy mis uit op die plaasgevoel omdat jy nie ook nou buite langs die vuur staan nie, het die kombuis twee groot vensters met ’n uitsig oor die veld.
WegSleep sê: Sleep gerus hier in vir skoon lug en mooi uitsigte, dis skaars 25 minute se ry tot terug op die N1.




