Klein Sambane | Klein Sambane se groot lekker
Hier kamp jy tussen die Groot Vyf vir die prys van ’n pizza.
Waar wil jy eerder wees op ’n Vrydagaand?
a) Aan tafel by ’n werkfunksie langs die gladde man van die bemarkingsafdeling, of
b) onder die sterre op ’n wildplaas langs ’n vuur waar die hardekool gloei en die rooibokke net anderkant die doringbos wei?
(As jy “a” geantwoord het, is jý waarskynlik die windsak van die bemarkingsafdeling en kam jy jou hare nes jou baas s’n.)
Haak jou wa en sit die stuk in na Klein Sambane naby Hammanskraal waar jy vinnig van die stad sal vergeet.
Hoe lyk dit daar?
As jy dikwels wens jy kon rustig langs ’n kampvuurtjie sit terwyl die son oor die Bosveld sak en die neushoringvoëls in die doringbome doen wat dit ook al is wat neushoringvoëls doen, is hierdie die plek vir jou. Klein Sambane is werklik klein.
Dis nie soseer ’n karavaanpark nie, maar eerder ’n groen graseilandjie wat Ephraim Vermaak as ’n kampplek tussen die Bosveld-bossies op sy wildplaas, Xombana, ingerig het.
Xombana is ’n deel van die Dinokeng-wildreservaat wat uit ’n versameling wildplase bestaan. Die plase saam is omhein, maar die onderskeie eienaars het besluit om die grensdrade tussenin tot niet te maak sodat die wild binne die groter gebied kan rondloop.
Die plan is om uiteindelik die Groot Vyf hier te vestig. Hier is reeds renosters, buffels en luiperds, maar die leeus en olifante ontbreek nog.
Die kampplek by Klein Sambane is nie omhein nie, dus is dit nie ongewoon as die wild vlak by jou karavaan verbyloop nie.
Die gereeldste besoeker by die
kampplek is egter Vlerkies, ’n nuuskierige volstruiswyfie wat in die omgewing van die kampterrein rondswerf en selfs onder jou stoeptent kom kuier waar sy gretig na jou beskuit (en selfs opwasmiddel) loer.
Hoe ver is dit?
Klein Sambane lê net meer as 40 km buite Pretoria en as jy ’n verskoning kan uitdink om jou kollega se afskeidspartytjie Vrydagmiddag te ontduik, kan jy na ’n uur se ry voor die ingangshek staan – dis nou as jy nie die spitsverkeer tref of by padverleggings opgehou word nie.
Watter geriewe is daar?
Hier is staanplek vir tien karavane en elke staanplek het sy eie kragpunt. Maar jy sal nooit las hê van rumoerige bure nie. Wanneer jy jou bespreking doen, word die hele kampterrein vir die duur van jou kuiertjie in jou naam bespreek.
Jy kan natuurlik ook ’n groepbespreking doen sodat jy en ’n paar vriende saam kan gaan kamp en laataand nog hard lag om die vuur sonder om ander mense te pla.
Die doringbome is groot genoeg om baie koelte te gee en die netjiese klinksteenablusieblok is skoon, met twee storte en twee toilette.
Die geboutjie dien ook as ’n kombuis. Buiten vir die yskas om jou bederfbare proviand vars te hou is daar ook ’n opwasbak en ’n braaiplek onderdak waar jy jou tjops oor die kole kan gooi, al skeur die hemele oop vir ’n somer-donderstorm.
Op die solder is daar beddens vir ses lede van jou aangetroude familie wat wil saamkuier, maar nie hulle eie kampgoed het nie (R70 p.p.p.n.).
Aan die een kant van die kampplek is ’n baksteen-braaiplek en ’n sirkel van sementstene waar jy ’n groot kuiervuur kan aansteek. Die vuurmaakplek in die middel van die sirkel is groot genoeg vir ’n vuur wat die aandag van ’n soekgeselskap in die Amasone sal trek.
Hoewel die kampplek al die basiese geriewe het, kan jy ook vooraf met Ephraim reël as jy wil hê hy moet etes verskaf.
Klein Sambane is bedoel vir kampeerders wat van die geraas van die stadsverkeer en saans se TV-nuushooftrekke wil ontsnap.
Hier is nie dinge soos ’n speelparkie vir kinders of ’n minigholfbaan nie. As jy meer afleiding soek as wat die rustigheid van die natuur bied, moet jy dit saambring.
Hoe kom ek daar?
Volg die N1 noord van die Zambezi-afrit by Pretoria vir 31 km tot by die Hammanskraal-Boekenhoutkloof-afrit. Dit kos R15,50 om deur die tolhek te gaan.
Draai regs oor die snelweg en draai ná 250 m links op die Rust de Winter-pad. Dié pad loop deur die reservaat.
Maak seker Ephraim weet jy is op pad sodat hy die hekwagte kan aansê om jou deur te laat. Ná 11 km lê die Safari Mall aan die linkerkant.
Moenie soek na ’n kolossale gebou met parkeerplek vir derduisende motors nie. Dis nie ’n inkopiesentrum soos die Centurion Mall nie, maar eerder ’n stowwerige lappie aarde met ’n paar geboutjies wat ’n drankwinkel, vulstasie en supermarkie insluit.
Die ingangspad na Klein Sambane lê skuins oorkant die Safari Mall aan die regterkant van die pad.
Wat nog?
Op Xombana is daar ook ’n Bosveldteater waar kun-stenaars soos Mel Botes, Anton Goosen en Dozi van tyd tot tyd optree. Jy sal vir Ephraim moet vra of daar ’n vertoning is wanneer jy daar wil kamp, maar dis nie nodig om vooraf kaartjies te bespreek nie. Hulle kos tussen R100 en R250 elk.
Nuttige skakels




