Kgaswane-bergreservaat | Diertjies oral!
Plek van die swartwitpens
Hoewel die Kgaswane-reservaat bekend geword het as die natuurlike habitat van die swartwitpens én deesdae ’n teelprogram ter bewaring van die spesie bestuur, is dit nie al waarvoor dié bestemming bekend is nie.
Kgaswane is skaars 3km van Rustenburg af soos die kraai vlieg; kom kyk wat hier alles in wildsbokwêreld te doen is.
Hoe lyk dit daar?
Gisteraand was die kampterrein leeg en stil, en vroeg vanoggend, toe ek die betonpaadjie teen die berg uitgestap het, was daar ook nog nie veel lewe nie.
Nou is dit al lig, maar die son se strale val nog nie oor die kom waarin die kampterrein lê nie.
Die atmosfeer is rustig, anders as die gewoel wat jy in groter oorde aantref.
Die grootte van die koeltebome wissel en party staanplekke het geen lowerbedekking nie. Sommiges het ook nie gras nie.
Elke staanplek het ’n stewige betontafel met bankies, ’n braaiplek met ’n rooster, en ’n vullisdrom.
Van die bome in die kamp het naambordjies: bosveldbloubos, haakdoring, suikerbos, harpuisboom, witysterhout en besemtrosvy.
Hier is ook nie krane of kragpunte nie, maar daar is water by die badkamers, asook ’n kragpunt – maar jy mag nie ’n koord na dié punt toe aanlê nie. Dit is seker maar vir as jy in ’n noodgeval jou selfoon moet laai.
Terwyl my keteltjie stoombolle by sy tuit uitblaas en die reuk van egte koffie in die lug hang, probeer twee voëltjies in die boskasie oorkant my aan die gesels kom, maar dieper stemme brom laer af in die kamppaadjie. Dis twee ereveldwagters.
“Môremôre,” groet hulle. “Het julle gisteraand die nagapies gesien, so net voordat dit heeltemal donker was?” “Nee, ons het net ’n jakkals gehoor,” antwoord ek.
Die een met die verkyker om die nek maak keel skoon en sê: “Ek het gisteraand die nagapies daar by ons afgeneem. Ek dink die flitslig van die kamera het hulle ’n bietjie geïrriteer. Toe ek later gaan inkruip, toe sit die een bo my tent en raas – ek is seker hy was moedswillig.”
Laatmiddag stap drie sebras van oorkant die vlei af nader aan die kamp; net links van hulle staan twee groot elande. Die tak bo ons kampvuur wip skielik op en af. Ja-nee, hier is die nagapies nou.
Vat die pad
Die voetpaadjie berg-uit is ’n nare helling en ’n mens verstaan hoekom daar ’n geen-toegang-bordjie vir voertuie aan die voet van die berg opgerig is. Dit is stil hier bo – en jy kan ver sien. die kamp lê sowat ’n kilometer laer teen die helling af en tussen die doringboomtakke steek hier en daar ’n woonwa of ’n tent onder in die kampterrein uit.
Bo-op die berg is die hele wêreld vol eienaardige kwartsiet-rotsformasies. die rots se ruwe oppervlak laat jou dink aan skurwe wintershande wat ’n bietjie Camphor-room kort.
Naby die kruin draai die Peglerae-voetpad na links af (die naam kom van Aloe peglerae, die Magaliesberg-aalwyn) – dis ’n mooi inligtingsroete. Die enkelspoor slinger genadeloos op en af oor die Magaliesberg, en elke nou en dan stap jy by ’n genommerde baken verby. In die gidsboekie (koop dit by die ingangshek vir R10) kan jy meer lees oor wat jy by elke baken sien.
’n Klein gemesselde teëltjie met ’n aalwyn en die nommer 1 daarop dui die eerste inligtingspunt op die roete aan.
Daar’s niks by die baken wat ’n mens dadelik opval nie, maar die gidsboekie vertel van drie struikgewasse in die onmiddellike omgewing wat so saam-saam koning kraai bo-op die berg: die wilde-appelkoos, bergmispel en stamvrug. As jy ’n veldskool agter die blad het, weet jy dit is almal wilde plante met eetbare vrugte.
Die nr. 2-baken lê langs nr. 3. iemand het dit seker opgetel en hier kom neersit – die “Verhaal van die rotse” (soos wat nr. 2 se verduideliking in die gidsboekie heet) het dus voete gekry tot knap langs die uitsigpunt oor Rustenburg.
Soos jy stap, wys die volgende paar bakens nog interessanthede uit, maar waar die endemiese Magaliesbergaalwyn moet wees, staan net ’n baken. Hier is geen teken
van dié plant nie. Volgende is ’n knewel van ’n rots met ’n onnatuurlike plat sykant wat van die berghang afgebreek het, en daarna volg ’n transvaalse boekenhout. Dan is daar ’n vetplantjie wat in die winter in die kwartsietrots wegkruip, en uiteindelik ’n kristalhelder stroompie.
Die laaste baken is by die paddastoelrotse: ronde rotsmassas wat op ’n piepklein wigpunt balanseer – dit lyk of die geringste bries die rotse gaan omwaai. ’n entjie verder wag nog ’n interessante klipvorm: ’n jakkals uit klip – die slinkse dier se gewaad is in die rotsformasie van die Magaliesberg vasgevang.
Wat kan ek hier doen?
Die sable-sirkelroete is ’n smal paadjie wat met ’n wye draai van die besoekersentrum af oor die vlakte bo-op die berg loop. die ereveldwagters het my verseker hier is baie wild, maar soms ry ’n mens hier rond sonder om enigiets te sien. die swartwitpense beweeg oor ’n gebied van 53km², saam met sowat 300 voëlsoorte, 56 reptielsoorte, 16 amfibiese spesies en meer as 80 soorte soogdiere.
Daarom waardeer ’n mens die groep jong rooibokkies wat rustig in die lang gras rondstaan, al is hulle op plekke soos die Krugerwildtuin ’n algemene gesig. ’n Entjie verder staan twee volgroeide rammetjies. ’n Voël sluip voor die motor se neus verby, so asof hy nie wil hê ons moet hom raaksien nie. Toe hy van die pad af is, sien ek eers dis ’n laeveldpatrys. Hy kry skielik spoed en verdwyn ritselend in die gras.
Twee witborskraaie duik wild op ’n groot boom langs die pad af, vlieg dan verby, maar draai vinnig om en bly die boom teister. Tussen die takke sit ’n rooiborsjakkalsvoël hulle ongeërg en dophou totdat die twee kraaie die aftog blaas.
Die diere hou hulle inderdaad skaars vandag. Maar doer in die verte gewaar ons hom tog in die geil gras, net die een: ’n swartwitpens met sy sekelhorings afgeëts teen
die agtergrond.
Hoe lyk die badkamers?
Silwerskoon. Die geelkoperkrane en dele van die afvoerpype buite die ablusieblokke blink Asof hulle nou net gepoets is.
Daar is twee ablusiegeboue in die kamp en twee vir dagbesoekers. Elkeen van die ablusieblokke (een vir mans en een vir vroue) is baie eenvoudig, maar mooi skoon binne-in.
Hier is vlekvryestaal-wasbakke met gesigspieëls teen die muur. Die storthokkies (warm en koue water) se binnekant spat heeltemal nat wanneer jy die krane oopdraai, maar gelukkig is daar ’n haak agter die deur waaraan jy jou handdoek, T-hemp en kortbroek kan ophang. Die res van jou klere moet jy maar op die betonblad langs die wasbakke los. Die vensterbank in die stort is jou rakkie vir die sjampoe en seep.
Naby die badkamers is die opwasplek met drie wasbakke (ook warm en koue water) en ’n betonblad waarop jy jou skottelgoed kan neersit.
WegSleep sê: Dis ’n netjiese, goedkoop kampplek met min geriewe – net ’n uur se ry van Pretoria en Johannesburg af.
Die swartwit wát?
Die swartwitpens kom al ’n lang pad hier in die Magaliesberg.
Sir Cornwallis Harris, ’n Britse weermagingenieur, het in 1836 een van hulle op ’n jagekspedisie geskiet. Die gekromde horings was vir hom só interessant dat hy ’n beskrywing van die bok gestuur het na die Londense soölogie-genootskap, wat die “nuwe” spesie gelys en dit“Harrisbuck” gedoop het.
Later is die naam verander na die meer beskrywende“sable antelope”(Hippotragus niger).
Peglerae-voetpad
Hoe ver? Sowat 5km.
Staptyd: Twee uur (teen ’n rustige pas).
Hoe lyk die voetpad? Klipperig met steil dele. Gaan maak voor die tyd ’n draai
by die besoekersentrum waar die roete op ’n skaalmodel van die reservaat uitgelê is.
Is hier nog staproetes? Ja, die Summit- (25km) en Baviaanskransroete (19km).
Sable-wildbesigtigingsroete
Hoe lank? Sowat 10km.
Hoe lyk die pad? Dit is ’n smal teerpaadjie, soms geplavei of met beton gelê. Die spore is hier en daar effens uitgery, maar ’n sedan sal dit baasraak.



