Karoo Nasionale Park | Die springbokke spring

Vir die meeste reisigers op die N1 is Beaufort-Wes nie veel meer as ’n padkos- en brandstof-plek met baie padwerke en spoedkameras nie, maar as jy van die noorde Kaap toe reis, is dit ’n goed geleë oornagplek.
Jy’s nou so naby aan die Kaap jy kan al amper die mense op Nuweland hoor juig. (Of sug. – Red.)
Aan die Kaapse kant van die dorp lê die Karoo Nasionale Park se lowergroen karavaankamp tussen die vaal Karoo-koppies.
Nadat jy by die kantoor aangemeld het, sleep jy nog ’n paar honderd meter verby die park se gastehuisies voordat jy die afdraai na die staanplekke kry. Die kamp lê in ’n laagtetjie en word só deur die ruie skadubome versteek dat jy dit glad nie van ’n afstand af kan sien nie.
Teen vyfuur die middag is dit al redelik vol. Kinders ry op skaatsplanke op die sementpaadjie om die ablusieblok en ’n bielie van ’n bergskilpad wei rustig op die grasperk.
Reg langs die ablusieblok is ’n gemeenskaplike kombuis, toegerus met opwasbakke en tweeplaatstowe waar ’n tentkampeerder staan en kos maak.
Nic en Marie Vos van Kliprivier naby Alberton sit op hul kampstoele onder ’n boom en betrag die wêreld. Hul Palma is nog aan die Colt-Bakkie gehaak; die hoekstutte is net laat sak en die kragdraad ingeprop.
Nic sê hulle is op pad Mosselbaai toe vir hul jaarlikse vakansie.
“Ons kom dikwels hier oorbly wanneer ons see toe gaan. Dis ’n lang pad van Alberton af hierheen, maar ons het vroeg gery en nou kan ek ontspan.
Ek kan môreoggend rustig verder ry, want dis nog net ’n kort entjie tot op Mosselbaai en ek sal nog baie tyd in die dag oor hê wanneer ek daar aankom.”
Lank ná donker slaan Hennie Olivier, ’n wildboer van Swartruggens se geweste, ook hier kamp op.
Hy was nie van plan om hier te kom oornag nie en wou deurdruk Stilbaai toe, maar die noodlot het hom ingewag. Sy bakkie het op ’n plat sleepwa agteraan ’n ou Ford F250 hier aangekom, sy Gypsey Regal steeds gehaak.
“My bakkie se top gasket het tussen Britstown en Victoria-Wes geblaas. Toe laat kom ek maar die breakdown om my hierheen te sleep.
Daar is mos nie ordentlike karavaanparke tussen hier en daar nie,” sê hy.
Hy kom jare lank reeds hierheen en onthou toe daar nog ’n makkerige rooikat was wat homself sommer in die karavane kom tuismaak het.
“Hulle (die parkbestuur) het hom later gevang en ver weg van die kamp gaan vrylaat, want die mense het hulle boeglam geskrik as hulle by hul karavane instap en ta lê daar op die bed opgekrul.”
Volgens die inligtingspamflet by die ontvangslokaal is die rooikat maar net een van 58 soogdierspesies in die park. Dit sluit die bedreigde oewerkonyn en swartrenoster in.
As jy nog altyd gesukkel het om te verstaan waarom mense liries raak oor die Karoo, is dit ’n goeie plan om met die Klipspringerpas op te ry tot by Rooivalle.
Die pad is geteer tot op die plato, maar selfs die gruispad daarheen is goed genoeg vir ’n sedan.
Van bo af het jy ’n uitsig oor die park. Veral teen sonop is dit pragtig.
WegSleep sê: Dis ’n oase in ’n halfwoestyn.



