Greystoke Adventures | Maak lyn nat

Die 113 km van Johannesburg na Parys is nou wel nie sewe dae te perd ver nie, maar as jy laat by die huis wegtrek, of op jou eerste skof net eers die stadsverkeer agter die rug wil kry en jou sleepkombinasie toets, is dit ’n goeie oornagplek. O ja, dan is daar nog die viswaters ook.
Drie kilometer voor Parys, van die N1 se kant af op die R59, lê die Parys-vliegveld aan jou linkerkant.
’n “Vaal-Eden”-rigtingbord met ’n pyl wat regs wys, is voor die lughawe geplant. Dan is daar nog net 9 km se tande kners op ’n sinkplaatpad tussen jou en die Klein Paradys op die oewer van die Vaalrivier.
By die park se ontvangskantoor lê Spottie die vloer vol. Dit lyk asof daar iewers ’n foxterrier in sy bloedlyn kan wees, maar al wat ’n mens met sekerheid oor sy voorsate kan sê, is dat albei sy ouers honde was.
Die hele kampeerterrein is grasgoen. Die staanplekke is so groot ’n mens sou byna ’n U-draai met ’n ou army-lorrie op ’n staanplek kon maak. En die manne wat die hande-arbeid gedoen het, het die staanplekke boonop mooi waterpas gemaak.
Die pad van die ontvangskantoor verdeel die kampterrein in twee: Die rivierkant en nie-rivierkant. Aan die rivier se kant is daar ’n laning bome, maar aan die ander kant is die lower maar yl. Om dit meer aantreklik te maak, glo ek, staan die waterkrane daar.
Wanneer jy ’n kampplek kies, hou die “reistyd” na die ablusieblokk in gedagte, want ek sou skat dat jy van die meeste staanplekke ’n goeie 300 m moet aflê. Dis glo alles die rivier se skuld, want die badkamers moes bokant die Vaalrivier se 100 jaar vloedlyn gebou word.
Die badkamers is eenvoudig en basies. Die groterige swembad is langs die badkamers en daar’s ook ’n paar chalets verder aan.
Klein Paradys is ’n private natuurreservaat, maar hier loop nou nie juis troppe wildsbokke rond nie. Ons sien wel ’n paar bedrywige koringvoëls wat maak asof die plek aan hulle behoort.
As jy wonder waar al die kampeerders is, stap rivier toe: Daar sit almal op ’n ry en visvang. “Ons vang vis vir die sport,” sê Betsie Miles van Vereeniging. “Ons gee alles terug aan die natuur.” Sy en haar man, Neil, het hul Land Rover langs ons kampplek getrek en is van plan om vir twee weke te bly.
“Man, dis lekker om te kamp, maar dit moet in ’n tent wees.
As jy in ’n karavaan bly, kan jy net sowel in ’n chalet bly. Ons het ons dubbel- opblaasbed saamgebring,” vertel Neil.
Betsie byt op haar onderlip en loer na die hemelruim: “Tranquility, ” sê sy stadig.
“Ek maak vetkoekies in die oggende en lees daardie boeke wat ek nie by die huis gelees kry nie. Hier ontspan jy nog in die natuur. Ons maak ook baie vriende deur die kampery.”
Neil wys my later ’n bordjie wat hy by sy braaiplek gaan plant: “Skilpad-braai: min vleis, baie dop.”
Mark en Elmien Barkhuizen en hul kinders Jireh (9) en Jethro (6) is Oos-Randers wat ook lief vir kampeer is. “Ons het albei grootgeword met kamp,” sê Mark.
“Ek het ’n heavy job en my vrou ook, so hier kom ons weg van die hustle en bustle. Dis hier waar jy werklik na aan die natuur kom en hier is geen TV nie! Ons het van Klein Paradys gelees; die pryse het goed geklink en hier was plek, toe kom ons.”
Doendinge: Jy kan ’n staproete of ’n 4x4-roete volg, gaan hengel, of teen R35 per uur ’n kajak huur.
WegSleep sê: As jy eers hier kamp, vergeet jy straks waarheen jy op pad was.



