Golden Gate | Goue seun van die Vrystaat

In vergelyking met die Krugerwildtuin is die Golden Gate Hoogland- nasionale park aan die voetheuwels van die Malutiberge ’n kleintjie. Dié park van 116 km² laat hom egter nie sommer in ’n dag se tyd kafdraf nie. Dink weer as jy gedink het dis net ’n kwessie van ’n foto neem van die kinders wat teësinnig saam met Buks, die worshond, voor die bekende Brandwagrots “pose”.
Nee, hier in die vars berglug meer as 2000 m bo seevlak, kan ’n mens dae lank die berge, rotspieke, valleie en grasvlaktes verken en dan het jy nog nie eens die diere-, voël- en plantlewe ontdek nie.
Wat kan ek alles sien?
Of jy nou die omgewing uit ’n voertuig betrag of voetslaan, hier is baie diere om aan te teken.
Wie mis die Groot Vyf as jy van ’n krimpvarkie,’n Burchell-sebra, ’n swartwildebees en ’n otter tot ’n tierboskat en ’n gouemol hier te sien kry. Buiten die park se 44 soogdierspesies is hier ook 10 soorte wildsbokke waaronder die eland, grys duiker en oorbietjie.
Dit is veral voëlkykers wat lighoofdig raak van opgewondenheid met die gedagte aan ’n naweek in Golden Gate. Met 140 aangetekende voëlsoorte kan ’n mens jouself vir ’n hele paar dae besig hou met ’n verkyker en ’n voëlboek .
En so tussendeur merk jy ook allerhande boomsoorte op, waaronder die witstinkhout, karee, kiepersol en veral die ouhout met hulle verwronge stamme is nogal volop in die park. Sou jy die stam en bas van een van hierdie bome van nader bekyk, sal jy kennis maak met van die 117 soorte besies wat graag op dié houtsoort hou.
Met die baie water is die park ook ’n veldblomparadys en ’n mens loop rankplante, kruie en bolplante in die veld raak – om nie te praat van die klomp paddas wat in die nattigheid rondplas nie!
Dié ekosisteem lok weer ander inseksoorte soos naaldekokers en skoenlappers.
Twee soorte skoenlappers, die Golden Gate Blue en die Golden Gate Widow, kom nêrens anders in die land as hier voor nie. Hulle verkies die grasvelde, maar is ook al aan die voet van die Brandwagrots gewaar.
Hoog in die wolke
Uit die grootpad wat deur die park loop draai twee geteerde sirkelroetes die berge in. (Al die paaie in die park is geteer en jy kan met gemoedsrus met jou nuwe tweedeur-Peugeot daar ry.)
Die eerste sirkelroete, Die Blesbok-sirkelroete (6,7 km), bring jou by drie uitkykpunte oor valleie en heuwels. Doer onder kan jy die Langtoondam sien lê en op ’n mooi dag kan jy Platberg, 60 km verder by Harrismith, gewaar.
Die tweede sirkelroete, die Oorbietjie, (4,2 km), loop na die park se aasvoëlrestaurant, ’n broeiprojek vir die bedreigde kransaasvoël en lammergeier. Hier is ook ’n skuiling van waar ’n mens die roofvoëls kan dophou.
Skaars 500 m verder is die Drakensberg-uitkyk, met ’n uitsig oor die noordelike Drakensberge en Sentinel.
Wat kan ek hier doen?
Vyf staproetes wat jou berg-in lei, begin sommer by die kampplek.
Stappers kan besluit of hulle vir ’n uur, vier ure of twee dae en ’n nag in die berge wil wees. Die roetes na die groot Paddastoelrots, wat bo die kampplek uittroon, en na die Eggoravyn – albei neem sowat 45 minute – is maklik genoeg vir die kleinspan om saam te stap. Die Boskloof- en Brandwag-roetes neem elk ongeveer ’n uur om te voltooi en houttrappies vergemaklik die dele waar ’n mens ’n bietjie moet klim. Dit is nie te veeleisend nie en as Klein-Koos al sy Huggies Pull-Ups ontgroei het, sal almal kan saamgaan – selfs Oupa en Ouma ook.
Die Ribbok-voetslaanpad strek oor 28 km en stappers voltooi dit binne twee dae. Daar is ’n oornaghut in die berge, met beddens, ’n klein kombuisie, ’n donkie, spoeltoilette en ’n braaiplek.
Op die eerste dag stap jy tot bo-op Brandbergrots en volg aan die anderkant Boskloof se kronkelende stroompie tussen die mooiste rotse deur wat al vir miljoene jare deur water en wind weggekalwe word. Dag twee lei die paadjie jou teen Generaalskop uit van waar stappers ’n uitsig oor Lesotho het, en daarna weer die steilte af tot onder by die kampterrein. Dit is noodsaaklik om vooraf plek te bespreek, en slegs 18 mense mag gelyktydig op die roete wees. Dit kos R70 per persoon.
Onthou om genoeg kos, water en warm klere vir die aand in ’n klein rugsakkie saam te neem – die kwik kan snags laag daal. In hierdie deel van die land is dit nat in die somer met dikwels donderstorms in die namiddag. Die winter is bibberkoud en die temperatuur kan tot -15˚C daal. Die gemiddelde reënval is 760 mm per jaar (September tot April), maar in baie nat jare val hier tot 1250 mm reën.
In die somer kan jy die handdoek oor die skouer gooi en heerlik in ’n groot, natuurlike swemgat agter die die Glen Reenen-ruskamp gaan afkoel. Dit is sommer binne stapafstand van die kampplek.
By die hoofingang van die park is die Golden Gate-dam en -voëlskerm en die grafte van die Van Reenen-familie wat die destydse plaas Vuurland in 1878 gekoop en dié plek, waar die son die sandsteen goud verf, die eerste keer Golden Gate genoem het.
Diegene wat ’n bietjie meer wil sweet, kan perdry. Jy kan vir jou ’n merrie bespreek by * 058 225 0951.
As Mammie se senuwees nie sterk genoeg is vir wanneer die kinders op perde rondjaag nie, kan julle tweetjies gerus by die Brandwag-hotel gaan rolbal, tennis, tafeltennis of snoeker speel.
Jy sal aanhou terugkeer
Op ’n vlug saam met Joggie Prinsloo, vlieginstrukteur en ambulansvlieënier van Bethlehem, oor Golden Gate se Rooiberge verf die son se strale die indrukwekkende Brandwag-rots met die einste kleure wat aan dié berg sy naam gegee het.
Agter die stuurstok van die Tsjeggiese tweesitplek-Samba mymer Joggie: “Dit is God’s country hierdie...God’s country.”
Hy het 65 somers agter die rug en is een van min vlieëniers met 20 000 vliegure op sy kerfstok. Hy is lief vir die natuur, vertel Joggie, en vlieg die wêreld vol. “Maar hier waar ek bly en elke dag vlieg, kry julle my nooit weg nie,” sê hy terwyl sy oë oor die berge onder hom gly.
Praat jy onder op die grond met kampeerders in Golden Gate se karavaanpark, die Glen Reenen-ruskamp, sê hulle dieselfde ding: Dit is die omgewing wat hulle weer en weer Golden Gate toe bring. Baie van hulle het al meer as een keer die karavaan hier kom staanmaak en tent opgeslaan.
“Jy kom hierheen vir die natuur. En dit is die ideale beginpunt vir ’n reis deur die Oos-Vrystaat,” beaam Neels de Klerk van Kempton Park, langs sy 1981 Sprite Shift onder een van Glen Reenen se groot bome. “Golden Gate is ’n plek wat ’n mens móét sien.”
Die Sprite se deur is vol plakkers van plekke waar hy en sy vrou Rina al was. Hulle het al die hele land deurkuis – meer as 200 000 km met dié Sprite wat hy in 1990 tweedehands gekoop het.
En dit is al hulle sesde keer in Glen Reenen. (Hierdie keer lei hy vir die Suid-Afrikaanse Woonwa-assosiasie (SAWA) ’n toergroep van 15 afgetrede egpare op ’n toer deur die land.)
Een van sy toermaats, Frikkie Benecke van Ermelo, kom gesels saam: “Dié omgewing is regtigwaar ’n lieflike deel van die Skepping.” Dit is sy derde keer hier.
Louis van der Sandt, ’n afgetrede polisieman van Mosselbaai, en sy vrou, Rosa, het ’n tweede keer hulle karavaan hier kom staanmaak. “Ons is op pad Wildtuin toe. Ek hou van hierdie park omdat jy alles wat te sien is, maklik kan bereik. Jy hoef nie kilometers en kilometers daarheen te ry nie. Ons het hierdie keer baie wild gesien. Die staanprys is ook aanvaarbaar.”
Ja-nee, as jy eers een keer hier was, wil jy terugkom.
“Dit is net so,” sê Joggie. In sy 65 jaar het hy een keer vir ’n kort rukkie by die see gaan kampeer, maar hy was gou terug.
Waar bly ek?
Die kampterrein se staanplekke is onder reuse-koeltebome wat sekerlik al van lank voor Piet Retief en die Voortrekkers se dae af hier staan.
Die kampterrein het ’n netjiese groen grasperk en op van 50 die staanplekke is sementblaaie gegooi. Nie al die staanplekke (daar is 45 in totaal) het permanente braaiplekke nie, maar draagbare braaiers word verskaf.
Voorheen was hier klagtes oor die ablusieblokke en nou onlangs ook oor ’n bouery aan nuwe ablusieblokke. Die goeie nuus: Die bouwerk staan einde se kant toe. Twee ou ablusieblokke is afgebreek en met drie nuwes vervang. Dit is 50% groter as die ou badkamers en volgens die parkhoof, Jan Taljaard, word die kampterrein self ook binnekort opgeknap.
Rondom die kampterrein is groen bergveld en ’n mens is deurentyd bewus van die massiewe rotsformasies wat hier digby die staanplekke uittoorn. Asof dit bedoel is om die buitelugervaring net nog meer te beklemtoon, kabbel die Klein-Caledonrivier boonop langs die kampterrein verby.
Indien jou grênd niggie en haar snob-man vir ’n paar dae by julle wil aansluit, maar hulle neuse optrek vir ’n tent of karavaan, is daar ander opsies. Die park het ’n hotel, ’n gastehuis, chalets en rondawels en selfs luukse houthutte hoog in die berg.
’n Effense las is die hoofpad tussen Clarens en Qwaqwa wat reg deur die park en knap langs die kamppeerterrein verbyloop. By tye dreun ’n motor, bakkie of minibus en soms selfs ’n vragmotor verby, maar dit is gelukkig nie ’n konstante stroom verkeer nie.
Alles in Glen Reenen is binne loopafstand. Die ablusieblokke is sentraal geleë en net oor die pad van die kampplek is ’n vulstasie, die kantoor en ’n parkwinkel waar jy seeppoeier en Stuyvesants kan koop.
Die Brandwag-hotel het ook ’n restaurant wat oop is vir kampeerders.
Grasieus
Prof. Rodney Moffatt van Kestell se boek Grasses of the Eastern Free State, is by die kampterrein se kantoor te koop. Met Moffatt se boek en die park se inligtingsblaadjie kan Pa, Ma, Boet en Sus sommer lekker rondloop en die verskil tussen gomgras, krulblaargras, dekgras, besemgras, rooigras en fluitjiesriet leer. (Dink net hoe insiggewend sal Sussa se opstel oor haar vakansie wees.)
Het jy geweet?
- Die poort staan altyd oop. Een voordeel van die hoofpad wat deur die park loop, is dat hier nie hektye is nie.
- Hier raak dit hoog. Die hoogste piek in die park is Ribbokkop (2 829 m bo seespieël). Ek wonder, het die Carpenters dalk hier gestaan toe die lirieke ‘I’m on top op the world, lookin’ down on creation’ by hulle opgekom het?
- Ons gras is g’n grap nie. Met sy biodiversiteit, rotskuns-erfenis, hoë graslande, geologiese wonders en ’n Basoeto-kultuurdorpie in die aangrensende Qwaqwa-natuurpark is dit ’n unieke park. Golden Gate is nie net Suid-Afrika se enigste volwaardige nasionale bergpark nie, maar met 60 grasspesies ook die enigste park in land wat hom spesifiek op die bewaring van die grasland-bioom toespits.
- Steen en been. Die oudste dinosourusembrio’s (Massospondylus, sowat 190 miljoen jaar oud) in die wêreld sowel as die oudste oorblyfsels van ’n gewerwelde landbewoner is hier gevind. Hier is talle voorbeelde van gefossileerde dinosourusbeendere, wortels, varings en voetspore.
- Klein mensies, groot kunswerke. Khoisan-rotskuns kan hier en op plase in die omliggende gebied gesien word.
- In sy middeljare. Die park is in 1963 tot ’n nasionale park geproklameer en die aanvanklike area van sowat 48 km² het mettertyd tot 116,3 km² toegeneem.
- Die groter prentjie. Dit is deel van die Maluti-toerismeroete, ’n oorgrensroete wat van Memel in die Noordoos-Vrystaat, al langs die Oos-Vrystaatse grens met Lesotho, deur Lesotho en deur Lady Grey en Rhodes in die Oos-Kaap kronkel en naby Underberg eindig.
- Môre Juffrou, Môre klas. Die Wilgenhof-omgewingsopvoedingsentrum in die park akkommodeer groter groepe wat dan onder toesig kan gaan abseil of roei. Die sentrum is ideaal vir skoolkinders én volwassenes wat graag meer oor die veld, die fossiele en die park se natuurlewe in die algemeen wil leer, en kan groepe van tot 92 mense akkommodeer. Skakel die sentrumbestuur by * 058 255 0907 of stuur ’n e-pos na * gvigoldengate@sanparks.org.
Wat is daar nog?
Golden Gate ’n ideale oorblyplek waarvandaan jy die res van die Oos-Vrystaat kan verken – selfs tot in die Drakensberg en die pragtige Lesotho.
Die park lê reg langs die toeristedorpie Clarens. Ander dorpe in die omgewing is Qwaqwa, Harrismith, Bethlehem, Reitz, Fouriesburg en Ficksburg.
Dit is ’n wêreld van berge, kosmos, sonneblomme, sandsteen, graanlanderye, veeboerderye en kersiebome.
Al dié plekke kan in ’n dag of minder besoek word en elkeen het sy eie skoonheid en ryk geskiedenis.
Die gebied is ook bekend vir sy staproetes, forelhengel en hengel, wildplase, 4x4-roetes, natuurtoere, kunsgalery, eetplekke, perderitte, wildewater-ry, dinosourfossiel-roetes, rotskuns en leeuplase. Agtien kilometer buite Bethlehem is Lions Rock, ’n wildbewaringsgebied van 12,42 km² waar sebras, wildehonde, elande, rooihartbeeste en nog ’n paar spesies voorkom.
Die internasionale dierewelsynorganisasie Four Paws het ook op die terrein ’n veilige toevlugsoord vir hawelose en verwaarloosde leeus, luiperd en Bengaalse tiere, Lions Rock. Dit is oop vir besoekers. Wildritte kos tussen R50 en R80, afhangende van die grootte van die groep, en kinders jonger as vyf ry gratis saam.




