De Hoop-natuurreservaat | Tussen die branders en die bokkies
Dis een van die grootste gebiede wat deur Kaapse Natuurbewaring beheer word. Dink net: 340 km², met ongeveer 1 500 plantspesies, 86 soogdierspesies, meer as 260 voëlspesies en minstens 250 visspesies in die beskermde mariene gebied.

’n Mens is effens onwillig om die wêreld te vertel van die De Hoop-reservaat aan die kus tussen Bredasdorp en Witsand, want dis een van daai plekke wat jy net vir jouself wil hou.
Dis eienaardig dat dié reservaat nie elke naweek deur mense uit die stad oorstroom word nie – miskien is dit omdat hier nie ’n waterglybaan, trampolien, ’n mini-gholfbaan en ’n roomyskarretjie is nie.
Maar jy word tog op ’n ander manier vermaak. Dis soos ’n tuin van 360 km2 met troppe bontebokke, elande, bergkwaggas, volstruise en skilpaaie wat amper soos mak troeteldiere rondloop, soms selfs tussen die mense.
En op die rand van die tuin, teen die kus, sien jy sommer gereeld skaars swarttobies en walvisse van naby.
Die hoë duine en kranse langs die see by Koppie Alleen is sekerlik een van die beste plekke in Suid-Afrika van waar jy kan kyk hoe die noorkapperwalvisse in die winter en vroeë somer speel. Boonop is die getypoele langs die strand van die beste plekke in die Wes-Kaap vir snorkelduik. Jy hoef niks te weet van duik nie – kry net ’n goedkoop duikbril en druk jou kop onder die water in.
Jy sal sukkel om nader aan die natuur te kampeer as op een van die tien kampeerplekke so 8 km van die see af, aan die oewer van die De Hoop-vlei, net langs die pragtige ou plaasopstal. Hier is nou wel nie kragpunte nie, maar as jy in die nag wakker lê, hoor jy soms bontebokke wat naby jou tent kom wei of twee jong kwaggahingste wat mekaar laat les opsê.
As jy vooraf bespreek, kan jy vra vir ’n staanplek onder melkhoutbome wat mooi koelte gooi, of een van die staanplekke wat oor die vlei uitkyk sodat jy die bleshoenders en eende sommer so van langs jou kampvuur af kan dophou.
Hier’s nie ’n winkel op De Hoop nie, maar jy kan vuurmaakhout by ontvangs koop. Daar’s ’n plaaswinkeltjie met basiese kosmaakgoed by Ouplaas, so 15 km buite die reservaat.
Een van die lekker dinge van De Hoop is dat die bewaringsmense jou nie keer om te stap net waar jy wil nie, solank jy nie die plante vertrap nie. Die kusfynbos, wat die meeste van die reservaat bedek, is veral in die lente pragtig – wees net versigtig vir pofadders en beneukte volstruise.
Doendinge: Vier dagstappe en die bekende Walvisroete (5 dae) is ’n trekpleister. Daar is verskeie sirkelroetes wat jy met ’n motor kan ry – die bekendste een is ’n 11 km-draai van ontvangs af en die 15 km-roete tot by Koppie Alleen.
Dis ’n bergfietsparadys en fietsryers word op al die paaie en dienspaaie toegelaat. In die oostelike deel van die reservaat is ’n bergfietsroete uitgelê waarvoor ’n mens twee tot drie dae sal nodig hê. Jy kan ook enige plek langs die kus snorkelduik of wag vir ’n walvis om uit die see te spring. Visvang word ongelukkig nie toegelaat nie.
WegSleep sê: As dit vrede is wat jy soek, is De Hoop jou plek. Dit kan moeilik wees om met baie klein kindertjies strand toe te gaan omdat die entjie tussen die parkeerplek en die strand by Koppie Alleen nogal vermoeiend is.



