Citrus Creek | Die negentiende putjie
|
|
|
|
|
|
Citrusdal is ’n klein dorpie; jy kan die Citrus Creek-kampeerterrein byna as ’n woonbuurt beskou – een met ’n goeie ligging, op die oewer van die Olifantsrivier, reg langs die gholfklub.
Dis ’n klein kampterrein sonder fieterjasies, maar ’n goeie basis van waar jy die Olifantsriviervallei en Sederberge kan verken. Die oord is netjies en daar waar nie karavane staan nie, spuit die sproeiers om die gras mooi groen te hou.
Die kampterrein is byna vierkantig, met ’n ry chalets op die een rand en die ablusiegeriewe (“die skoonste in die Wes-Kaap”, aldus Terrie Brooks, die eienaar) reg in die middel, met die swembad net langsaan.
Ek moet erken, die Ladies was elke keer silwerskoon wat ek daar was en die nuwe teëls, potplante en vrolike ligblou kosyne laat die plekkie vars lyk.
Die swembad se water word met sonkrag warmer gemaak en daar is ’n heining om te keer dat die kleingoed tydens jou middagslapie in die moeilikheid beland. In die een hoek van die oord is ’n paar swaaie, ’n klimraam en ’n ou rooi trekker wat die woelwaters ook vir ’n tydjie sal besig hou.
Die staanplekke is nie gemerk nie en vullisdromme, krane en ’n paar braaidromme staan verspreid oor die grasperke. Daar is ’n groot lapa waar kampeerders ’n vuurtjie kan opsteek. Jy kan self besluit wat vir jou die belangrikste is, die skadu van die bloekoms aan die een kant van die terrein, of die uitsig oor die eerste bof van die Citrusdalse gholfbaan. Dis net anderkant die draad en jy kan jou gholfsak sommer straatlangs omsleep soontoe.
Op die baan het jy ’n uitsig oor die Olifantsrivier aan die een kant en die Sederberge aan die ander kant. Nie-lede betaal tussen R50 en R90, afhangende van die dag van die week en of jy nege of agtien puntjies speel. Kontak die klubhuis (*022 921 2544) indien jy tydens jou verblyf op Citrusdal dalk aan ’n toernooi wil deelneem.
Kampeerders kan in die rivier gaan lyn natmaak. Hiervoor moet jy egter ook van die gholfbaan se hek gebruik maak en agterom die klubhuis loop, omdat die rivieroewer reg langs die kampterrein deesdae ’n dig begroeide sandbank is.
Citrus Creek lê sentraal, naby ’n supermark en slegs twee blokke se stap van die Citrusdal-inligtingsburo af.
WegSleep sê: Die tweede skof van die Olifantsrivier-kanomarathon eindig op Sondag 2 Augustus by die brug langs Citrus Creek. Gaan kry gerus ’n staanplekkie en kyk hoe die ouens so van 11:45 se kant oor die wenstreep roei.



