Cango Bergoord | Almal is welkom

Dis ’n Saterdagagtermiddag en met die stilhou by die Cango Bergoord se indrukwekkende hek, kom die diep basnote uit die oop kattebakke van talle voertuie op die grasperk anderkant die hek aangedryf.
Daar is honderde mense wat swem, blitskrieket speel en vleis braai. Dit lyk heerlik, maar dit klink nie na ’n rustige ontspanplek nie. “Moenie bekommerd wees nie, meneer, dis net die dagbesoekarea daai en daai mense moet nietemin teen sesuur die park verlaat,” sê die ontvangsdame.
Die park is in drie verdeel: Daar’s die chalet-deel, die dagbesoekarea en die kampplek.
Of al die dagbesoekers wel teen sesuur die oord verlaat het, sal ek nie weet nie, want teen die tyd dat ons kamp opgeslaan het, kon ons die dagbesoekarea nie meer sien of hoor nie – salig.
Die meeste van die staanplekke het kragpunte, maar is nie afgebaken nie en terrein lyk soos ’n groot rugbyveld. Aan die verste punt is ’n swembad waarin kinders baljaar, terwyl ander op hul fietse spring om gou ’n roomys by die winkeltjie by die hoofhek te gaan koop.
Hennie van den Berg, ’n motorverkoopsman van George, staan by ’n ribbetjie oor die kole. Hy het sy opvou-braaidrommetjie saamgebring. “Hier was voorheen braaiplekke, maar ek weet nie wat daarvan geword het nie,” sê hy.
As jy wil braai , maar nie sak en pak wil opruk na die gemeenskaplike braaiplekke langs die swembad nie, moet jy ’n paar klippe bymekaar pak en jou vuurtjie daar op die grond aansteek, maar dit voel te aardig om op sulke mooi grasperke ’n vuur te maak.
Hennie en sy vrou, Marissa, en hul kinders, Zamari en Henlo, het agt jaar lank in ’n 8m lange Winnebago gewoon terwyl hulle sendingwerk in Afrika gedoen het.
Deesdae sleep Hennie ’n veel kleiner karavaantjie agter sy 1600 Jetta. Die woonwa herinner aan ’n ouerige Sprite-model en lyk asof dit net ’n raps oor die 2 m lank is. Skuins onder die karavaan se ruit staan daar Slabbert 2 geskryf.
“Ek het dit op George gekoop, maar iemand het my vertel dat dit ’n man in Zimbabwe was wat die Slabbert-karavane gebou het, voor sake so versleg het daar. Ek weet nie of dit waar is nie. Wat ek wel weet, is dat my karavaan oral aandag trek. Ek kan dit sommer met een hand skuif en mense staan altyd belangstellend nader.”
Doendinge: Hengel; swem en daar is ook ’n speelparkie met klimrame vir die kinders. Jy kan van hier na die Rust en Vrede-waterval stap.
- Besoek die Kango-grotte. As jy hier kamp, is jy sowat 7km van die grotte. Sit sowat 2 ure opsy vir ’n deeglike besoek.
- Ry die Swartbergpas. Jy is ook sowat 4km van die begin van die “Prins van passe”. ’n Uitstappie tot by die kruin en terug sal jou sowat twee ure vat. Of ry oor die pas tot by Prins Albert.
- Gaan Hel toe. Die afdraaipad is net anderkant die Swartbergpas se kruin. Jy kan dit met ’n gewone motor doen, maar sit ’n hele dag opsy.
- Ry De Rust toe. Die grondpad waarop die kampterrein geleë is, slinger al langs die Swarberge tot net buite De Rust. Die pad het pas ’n nuwe grondlaag gekry en jy kan enigiets daarop sleep.
WegSleep sê: Dis ’n rustige familieoord, wat ver genoeg uit die dorp is, sodat dit nie soos ’n munisipale karavaanpark voel nie, maar tog naby genoeg is dat jy nie van verlatenheid vergaan nie.



