Augrabies | Sleep na waar die Oranje raas
Die terrein van Augrabies, een van Suid-Afrika se klassieke parke, is onlangs opgekikker. Kom kyk wat jy nou alles kan sien en doen.
Augrabies is uitkykwêreld, hier waar die Oranjerivier se bruin waters – nadat dit deur die Drakensberg, Vrystaat en Noord-Kaap gekronkel het – in ’n wit sproei afbulder voordat dit voortstu op die laaste skof Atlantiese Oseaan toe.
Dié waterval bly een van Suid-Afrika se gewildste toeristebestemmings. Maar hou dop hoe baie besoekers kom loer vinnig by die waterval, neem ’n kiekie en val dan weer in die pad, salig onbewus van hoeveel ander dinge daar in die park om te sien en doen is.
Daar is die Eggohoek-uitkykpunt, sowat 5 km stroom-af, waar die Oranje se waters weer effens tot bedaring kom en groen in die son bak. Dan is daar Oranjekom en Ararat, waar jy uit ’n hoogte kan kyk hoe die rivier onder deur ’n paar stroomversnellings bruis.
’n Entjie terug kamp se kant toe lê die Maanrots wat lyk soos ’n groot rooi albaster wat uit die hemele geval het en waarvan net die boonste helfte nou bo die grond uitsteek.
Op pad na al die plekke ry jy op ’n grondpaadjie deur ’n barre landskap met kokerbome plek-plek geanker en ’n klipspringertjie hier en daar, amper stiller as die klippe self. Kom vroeg soggens, wanneer die landskap sag en die lug vars is.
Ja, jy gaan nie leeus, olifant, en renosters hier sien nie, maar dis nie waarvoor jy Augrabies toe kom nie. Jy’t minstens drie dae nodig om die park tot sy reg te laat kom: gaan soek bakoorjakkalsies op ’n nagwildsrit, verken die plek te voet op die 5 km-Dassiestaproete en gaan kyk vroeg soggens na die waterval en sommer laatmiddag weer.
Verken die waterval 
Deesdae, met die nuwe plankpaadjies en vier houtdekke, waarvan drie rolstoelvriendelik is, kan jy die waerval uit elke hoek bekyk.
Ek stap saam met ’n groepie Europese toeriste – in kakie en met die jongste Canon-kameras om die nek – op een van dié houtpaadjies wat kronkel oor ’n vlei na ’n houtdek wat in die waterval se valpoel afkyk.
Iewers het ek gelees daar lê en glinster ’n hoop diamante op die bodem, maar al wat nou te siene is, is ’n paar uitgevrete swart visse, wagtend op die vissies wat die groot plons gevat het.
’n Entjie stroom-op is die hoogste uitkykpunt, met die wasmasjienwater van die rivier amper onder jou voete. Die voetpaadjie na links bring jou by twee ander uitkyk- dekke, een met ’n mooi uitsig op die klipravyn wat stroom-af horison toe strek.
As jy jou kinders hierheen bring, begin doer onder en stap stroom-op. Hou die waterval self as ’n laaste verrassing.
En nou, die res van die park...
Vat vroegoggend die grondpaadjie uit die kampterrein, sommer in jou gewone kar. Hier en daar is sandplaat en ’n steil bult, maar niks wat jou skoonma na haar asma-pompie sal laat gryp nie.
Jy ry eers oor ’n laagwaterbruggie en dan, skaars ’n kilometer verder, is jy in die wildkykgebied.
Die kans is goed dat jy ’n trop springbokke, ’n duikertjie en ’n ledige sebra of drie uit die hoek van jou oog gaan sien. Neem vinnig ’n foto en mik uitkykpunte toe, want die uitsigte is soggens mooier daar. Daar is Maanrots, Ararat, Oranjekom en Eggohoek, en die roetes na elkeen is duidelik gemerk.
Besluit self waarheen jy eerste wil gaan: Ararat en Oranjekom, die twee kloofuitkykpunte, of Eggohoek, die uitkykpunt die naaste aan die rivier waar die groenighede teen die klipheuwels uitslaan.
In party opsigte is die ravyn onder die waterval – plek-plek 240 m diep en 18 km lank – amper so indrukwekkend as die waterval self. Doen moeite om dit te beleef.
Die grondpaaie wat verby die Eggohoek-afdraai strek, vat ongeveer drie uur om te ry en daar is ’n uitgebreide roete van nóg drie uur (altesame ses uur) wat vir veldvoertuie bedoel is. Die park beslaan deesdae meer as 550 km². Gaan benut die oopte.
Onthou jou Hi-Tecs
Die brosjure wat jy by ontvangs kry, sê die Dassie-sirkelstaproete is ’n “rustige” wandelstappie van 5 km wat ongeveer drie uur neem om te voltooi en waar jy “plek-plek oor ’n paar rotse moet klouter”.
Dis inderdaad ’n lekker roete met sandpaadjies langs, oor klein bruggies, deur ’n vlei en stroompie, verby ’n uitkykpunt tot in die kampterrein, waar dit begin het.
Langs die pad is tien merkers wat plante soos ’n vyeboom, en natuurlike verskynsels soos kolkgate in die klippe langs die rotsagtige paadjie vir jou uitwys.
Rus by die stroompie om ’n toebie of twee te eet en jou kop nat te maak, voor jy die laaste 2 km terug kamp toe aanpak.
Soek die klein goedjies: akkedissies met geel bene, ’n rooi lyf en ’n blou kop wat van klip tot klip agter muggies aanskarrel.
Dié stappie is egter nie heeltemal kinderspeletjies nie. Daar is ’n paar gladde, alg-bedekte rotse by die riviertjie, ’n nou rotspaadjie wat jy moet oorsteek en ’n hele paar rotse waarteen jy moet uitklouter. Jy gaan nie dié roete sommer in jou visplakkies kafdraf nie. Dra ’n paar draftekkies of stap-skoene en bring genoeg water en sonroom. Stap dit laat-middag, wanneer die kraaie ophou gaap.
Stappers met ’n bietjie ekstra petrol in die tenk kan die driedag Klipspringer-roete aanpak (die roete is in die somermaande gesluit weens die hitte).
Kamp nes jy wil
Die Augrabies kampeerterrein se staanplekke om my is vol, al is dit nie vakansie nie. Jy ontmoet uiteenlopende kampeerders hier – ’n oom en tannie in
’n tent, twee mense langs hulle in ’n Jurgens, en ’n paartjie van Oostenryk in ’n gehuurde ryhuis wat van Kaapstad af op pad is Namibië toe. Eenkant is daar ook twee Duitsers met een van daai monstertrokke wat frommelfoelie van jou dubbelkajuit sal maak.
Daar is staanplekke op sagte gras vir jou tweemantentjie, gelyk staanplekke
vir jou woonwa, en private staanplekke onder digte bome op regterhand soos
jy inry.
Ja, dit raak in die somer bloedig warm in hierdie geweste, maar daar is drie swembaddens in die park, twee by die chalets en een in die dagbesoekersdeel.
Blouapies kom kry elke nou en dan ’n slukkie swembadwater as hulle moeg raak om met mekaar op die gras te stoei. (Ek vermoed hulle stoei nie, Sven. – Red.)
Die meeste van die staanplekke het ’n skottelbraaiplek op ’n staander, met genoeg plek vir almal om rondom die vuur te kan sit. Daar is ook ’n sementbladtafel by van die staanplekke. Die opwas- en kombuisgebied in die kampterrein het stowe as jy moeg raak vir vuurmaak en lus kry vir ’n pot kookkos.
Die winkel verkoop alles waaraan jy kan dink, en bondels hout vir R11 wat genoeg kole vir môreoggend se eiers sal maak. Jy kan steak, hoendersosaties, chakalaka-wors, en ’n biertjie of ’n bottel wyn hier koop.
As jy op pad is Kgalagadi toe en net vir die dag wil inloer, gaan dit jou R22 per persoon kos. Die dagbesoekersdeel is buite die kampterrein nes jy die wildgebied binnery. Daar is braaiplek met ’n swembad ’n paar treë daarvandaan. Slaap egter ’n aand of twee oor om die park ten volle te ervaar.

Die Oranje speel nie...
Die Oranjerivier vloei teen ’n gemiddelde 313 000 ℓ per sekonde by die Augrabies-waterval af – maar dit kan vinnig verander.
In ’n “relatiewe klein vloed” in Maart 2006 het die rivier se vloei binne twee dae viervoudig van 400 000 ℓ tot 1 600 000 ℓ per sekonde toegeneem: Dit is meer as die helfte van ’n Olimpiese swembad wat elke sekonde by die waterval in ’n sop van wit water gestort het.
Die foto’s van dié vloed op die inligtingsborde buite die park se ontvangskantoor wys jou presies hoe lyk vloedwaters van dié omvang: mense in rooi, swart en kakie staan voor berge witwater wat die diep ravyn skielik baie vlakker laat lyk. Die rivier vál nie dan oor die afgrond nie; dit spuit en spoel deur die kloof soos
’n groot waterwurm.
Die parkbestuurder, Steven Smith, sê die laaste groot vloed was in 1988, toe daar amper sewe keer meer water as in 2006 in die ravyn afgedruis het. Twintig watervalle het aan die oorkant van die uitkykdekke die kloof binnegestroom.
Die hoofopvanggebied van die rivier is in die Drakensberg, ’n somerreënvalstreek. Jou kanse om die rivier in een van sy buie te sien is dus beter in die somer.
Maar selfs as die Oranje op sy gemak vloei, is die valle se gedruis amper soos dié op Loftus ná ’n Bryan Habana-onderskepdrie.
Die Khoi het dié plek Aukoerebies gedoop: “Plek van groot geraas”. Ja, omring deur groot stilte.




