22 Watervalle | Porterville
Kamp in die koringlande
As ’n mens die Swartland se dor stoppels ná oestyd so kyk, is dit moeilik om te glo dat daar in dié vaal landskap ’n lowergroen klofie skuil waarin ’n bergstroom kabbel en oor ’n klompie watervalle stort. Altesame 22 van hulle, om presies te wees.
Dié mooi gesig lê 4km noord van Porterville weggesteek op ’n plaas wat ook 22 Watervalle heet.
Hier is dit só ruig ’n mens kan jou maklik verbeel jy sit iewers in die Tsitsikamma – maar dis net ’n uur en ’n half se ry uit Kaapstad.
Op soel somersaande sit die kampeerders met kaal voete in die waterstroom en kuier. En so ver as wat jy tussen die digbegroeide boomtakke deur kan sien, lag en gesels mense in die sagte gloed van braaivleisvure. Maar hulle stemme hoor jy nie. Nee, die stroom wat hier vlak by die tente se ankertoue verby druis, het die laaste sê.
Hoe lyk die plek?
’n Mens ry so gou uit die stad tot op 22 Watervalle, jy voel nie eens lus om bene te ek wanneer jy op die plaaswerf uitklim nie. In die ontvangskantoortjie handel Jan Bresler, die plaas se administrasieman, gou die papierwerk af, gee ’n elektroniese skyfie aan waarmee jy die hek na die kampterrein self kan oop en toemaak, en wys die posbus waarin jy die skyfie moet los as jy weer huiswaarts keer.
Op pad hierheen het ons verby ’n trop springbokkies in ’n wildkamp gery, en hier onder om die plaashuis swenk jy op pad kampterrein toe verby ’n kraal waarin boerbokke lui lê en proes. Die snuifgetrapte grond en mis ruik sommer pure plaas.
Die groen klofie waarin die kampterrein uitgelê is, strek in ’n smal strook teen die berghang op. Die meeste van die ongeveer 40 staanplekke lê teen die stroom se suidoewer, met die 10 woonwastaanplekke – met groot grasperke en ’n soompie koeltebome – op linkerhand. Regs staan die twee ablusieblokke en snoepwinkel, en in die middel van die kampplek loop ’n grondpad teen die skuinste uit totdat dit in ’n sirkel van staanplekke doodloop – soos huise in ’n cul-de-sac. Hier groei die boomtakke teen snaakse hoeke op soek na ’n repie sonlig, en slegs tente pas op dié staanplekke in. Plek-plek is ’n oop kol vir ’n bakkie met ’n daktent.
Twee houtbruggies oor die stroom loop elk na ’n beskutte klos tentstaanplekke aan die ander kant – die een heet Lêbos, vanweë die ruigtes en klompie omgevalde rooi-els-stompe wat daar lê, en die ander een Die Eiland, omdat die stroom vertak en reg rondom dié stukkie grond loop.
Die bopunt van die doodloopstraat is skaars tien treë van die onderste waterval af. Hier onder die digte bome is daar nie gras nie, maar die sanderige grond is netjies gehark. Jy pas maar jou staanplek se uitleg by die natuur aan en dit kos ’n bietjie rondskuif om die ankertoue tussen die boomwortels ingekap te kry. Maar ’n paar knewelklippe rondom die braaibak maak dit onnodig om die kampstoele uit te pak.
’n Vullisdrom – mét ’n swart sak daarin – staan net ’n paar treë weg, en van die staanplekke het elektrisiteit (vra net vooraf as jy met krag wil kamp).
Maar die staanplekke het nie krane nie. Tog, die stroom met sy skoon bergwater loop net hier langs jou verby, en as jy nou regtig verkies om eerder water by ’n kraan te tap, kan jy tot by een van die opwasbakke stap (daar’s een teen elke ablusieblok se buitemuur). Maar dit bly presies dieselfde water – direk uit die fonteine waar die stroom hoog bo in die Olifantsrivierberge ontspring.
Die twee ablusieblokke is eenvoudig ingerig met ’n paar storte, wasbakke en toilette. Daar is warm water, maar as die geiser soggens ná die stormloop leeg roggel wanneer jy die kraan oopdraai, moet jy maar so ’n halfuur wag voordat jy kan gaan stort. Die een badkamer het aantrekplek voor sy storte, terwyl die ander een se storte slegs deur ’n gordyn van die res van die badkamer geskei word. Daar is nie neersitplek in die oop gedeelte nie en jy moet maar met jou badkamersakkie onder jou arm staan en tande borsel.
Wat kan ek daar doen?
By 22 Watervalle speel kinders én grootmense heeldag buite. Langs die kampterrein, agter die ablusieblokke, is ’n gronddam waarin die kleingoed op tjoeps kan baljaar, en vir die hengelaars wag swartbaars in die dam anderkant die plaashuis op ’n happie aas.
Van die kampeerders het hulle motorfietse vir die naweek saamgebring om die ou trekkerpad teen die berg aan te durf, en volgens die eienaar, Mac Jordaan, kan 4x4-geesdriftiges hulle staal wys op ’n paar roetes op die plaas.
Hier is ook bergfietspaaie, vertel Mac. Dié is in totaal amper 20km lank en loop oor 22 Watervalle en die buurplaas Laatson (ook die Jordaans s’n). Die moeilikheidsgraad wissel – die kinders kan op die plat aarde in die los sand esse kap, terwyl die hardebaarde dalk eerder van die bergpaadjies wil aandurf waar ’n mens plekplek jou fiets oor die stroom moet dra.
Die groot kokkedoor Die eintlike attraksie is natuurlik die staproete langs die 22 watervalle op. Die 2km lange voetpad volg die loop van die stroom en swenk elke nou
en dan oor die water. Daar is geel merkers wat jou wys waarlangs om te stap, maar omdat dit so ruig is, moet jy af en toe ’n bietjie stilstaan en rondkyk om te sien watter kant toe volgende.Nie dat ’n mens hoegenaamd omgee nie, want dis só mooi jy wil soms sonder rede hurk om die duisendpote, blare en die fyn sypeling van waterdruppels tussen varingvoete deur te bekyk.
Die roete loop oor ruwe terrein, maar waar dinge regtig moeilik raak, is daar gelukkig bruggies en houtleertjies. Moet egter nie verwag jy gaan die res van die tyd op gelyk grond stap nie – dit is ’n geklouter oor rotse en boomwortels, en plek-plek sien jy jou alie wanneer jy jou met ’n gladde klip misgis.
Net soos onder in die kamp, doof die water se gedruis die meeste ander klanke uit en jy kan hoor wanneer die volgende waterval naby is. Elke keer as jy langs die poel aan die onderpunt van nog ’n val vassteek, dink jy dié een is die mooiste tot dusver – maar dan sien jy vyf minute later nog een, en nóg een...
Dis moeilik om te skat hoe ver jy al gestap het, want die watervalle is nie almal genommer nie. As jy egter rustig aankruie en elke nou en dan vir ’n foto of wat vassteek, behoort dit jou so drie uur te neem om tot bo te stap waar die terrein afplat. Maak jou waterbottels hier vol as jy die agt uur lange sirkelroete oor Laatson verder wil volg. Die meeste stappers draai egter ná die laaste groot watervalle om en stap op hulle spore terug.
Kyk ’n bietjie verder as die mooi watervalle om jou rond. Volgens Mac groei hier 47 inheemse boomsoorte in die kloof – mooies, soos die wildeamandel, olienhout, wildevy, sybas, smalblaar en rivierwilg. Op party plekke is die stamme al glad gevat deur baie hande wat oor jare heen vashouplek gesoek het waar die roete bedrieglik raak.
Af en toe bereik jy ’n kruin langs die bopunt van ’n waterval, en dan is die sonlig buitengewoon skerp. Maar die meeste van die tyd stap jy boslangs op die klam blaartapyt, met die plesierige gefluit van voëls wat iewers hoog in die ruigtes agter goggas en wurms aan rinkink.
Dis asof ’n mens se sintuie in die skemerte van die kloof verskerp. Jy ruik naderhand die water in die lug, en ek wil-wil my verbeel die vrugbare aarde kom lê ’n grondsmakie op my tong. Hier moet waarlik feetjies wees...




