Gebruikerstories
Bergwoning – die rustigheid vanself
Ingestuur deur:
Stephan Pienaar
Ons was die afgelope naweek (05-07 Maart) gelukkig genoeg gewees om net ‘n vinnige wegbreek te kon neem en omdat ons so baie van die Oos-Vrystaatse omgewing hou, het ons besluit om by Bergwoning uit te span.
Bergwoning is geleë tussen Clarens en Golden Gate en beskik oor ‘n lekker klein kampterrein (maksimum 25 mense) en twee chalets. Die kampterrein word uitstekend onderhou met lowergroen kikoejoe en genoegsame skaduryke bome.
Ons was die enigste mense in die kamp en die stilte was amper hoorbaar na die stadsgewoel van die week. Die uitsig is onverbeterlik, met die terrein wat omring word met berge. Thys Maritz van Bergwoning het ons persoonlik ontvang en ook later weer kom inloer om te hoor of alles nog in orde is.
Ons het gehou van die besonderse stilte van die plek, want alhoewel daar ook abseiling, vierwielmotorfietsritte, perdryritte, tesame met ‘n 4x4 roete (in jou eie voertuig) aangebied word, word laasgenoemde drie op ‘n stuk grond aan die ander kant van die R712 gedoen, glad nie naby aan die kampterrein nie en ook nie hoorbaar nie. Die Saterdagoggend het ons die 4x4 roete gedoen en die middag ‘n twee uur lange rit met Basoetoe-ponies.
Die ponies is besonder mak en het die Vrydagaand sommer by ons staanplek ingeloer (letterlik). Veral een met die naam Lion is so gemaklik soos 'n huishond. Hy moes nog net op ons skote klim.
Die ablusiegeriewe is basies (stort, wasbak en toilet), maar netjies en skoon en word daagliks skoongemaak. By die besprekingskantoor is ook ‘n koffiewinkel waar regte vars koffie (nog in die perkoleerder) bedien word en ligte geregte en soetgoed beskikbaar is.
Indien jy iets by die huis vergeet het, is die winkeltjie by Glen Reenen net omtrent 4/5 km met die pad af, andersins is Clarens (17 km) die ander opsie.
Jy moet ingeteken wees om oor hierdie storie to gesels. Klik hier om aan te meld.



