Witsjokolade-trifle met turksvye
WegSleep #2 | Maart 2007
RESEPTE: Annette le Roux FOTO'S: Dawie Verwey
Ek het hierdie poeding uitgedink toe ek in 'n stadium net een blik kondensmelk, een plak sjokolade en 'n paar verlore koekies in die kas gehad het.
Italiaanse tiramisu is heerlik, maar ek verkies Engelse trifle én ek hou ook van wit sjokolade. Hierdie resep is iets van alles.
Jy benodig
- 1 plak wit sjokolade (Milky Way)
- die sap en fyn gerasperde skil van 2 lemoene (gebruik LiquiFruit as jy nie vars lemoene het nie)
- 2 sopies brandewyn
- 12 Boudoir-koekies
- 1 blikkie gekookte kondensmelk
- 250 ml room (geklits)
- 1 houer mascarpone of roomkaas
- Turksvye
Só maak mens
- Kook 'n blikkie kondensmelk in water vir een uur en laat afkoel.
- Smelt die sjokolade in 'n bakkie in die son of in 'n metaalbakkie met 'n bakkie kookwater onder dit.
- Klits die room en hou dit koud.
- Gooi die kondensmelk en sjokolade in 'n mengbak en roer dit met 'n lepel of handklitser ('n elektriese klitser maak die roomkaas loperig).
- Voeg laastens die geklitste room by die mengsel en sit dit in die yskas.
- Meng die lemoensap en die brandewyn en doop die boudoir-koekies een vir een daarin.
- Skep 'n derde van jou roommengsel onderin 'n houer ('n broodpan of ronde glasbak). Plaas ses gedoopte koekies op die roomlaag. Skep nog 'n laag room op die koekies en pak weer 'n laag koekies. Dan skep jy nog een roomlaag bo-op.
- Sit dit in die yskas vir sowat 'n uur, of as jy haastig is kan jy dit in die vrieskas sit.
Annette sê
Jy kan die brandewyn uitlaat as jy wil, maar ek dink dit helder die gesleskap op... Jy kan dié poeding ook vries soos 'n roomyskoek.
Jy moet ingeteken wees om oor hierdie storie to gesels. Klik hier om aan te meld.



