Varksosaties
WegSleep #8 | Jul - Aug 2008
RESEPTE: Topsi Venter FOTO'S: Ruvan Boshoff
Enige sagte, deurwaste (dit beteken maar net streaky) varkvleis is geskik vir dié resep, maar die ontbeende dikrib (of pork belly) werk uitstekend. Vra jou slagter om dit in repe van sowat 2 cm dik te sny.
Jy benodig
- 4 kwepers, geskil en in wiggies gesny
- halwe koppie water
- 150 ml suiker
- 12 dik repe varkvleis
- sout en peper na smaak
- 8 rape, geskil en in dik skywe gesny
- halwe koppie witwyn
- 4 eetlepels botter
- 1 suurlemoen, in dun skyfies gesny
- rys van jou keuse
- 1 teelepel borrie
- kweperjellie
Só maak jy
- Kook die kweperwiggies in die water (met die deksel skuins) totdat dit sag is. Gooi die suiker by en kook dit verder totdat die kwepers ligpienk word.
- Geur die varkrepe met sout en peper na smaak.
- Braai die rape liggies in die witwyn en botter totdat dit mooi bruin en gaar is.
- Kook die rys gaar, los die borrie in ’n bietjie water op en roer dit deeglik deur totdat al die ryskorrels geel is.
- Ryg een suurlemoenskyfie op elke stokkie. Sny elke stuk varkvleis middeldeur.
- Ryg dan ’n stukkie varkvleis, ’n stukkie kweper en ’n stukkie raap op elke stokkie. Herhaal totdat al die bestanddele op en die stokkies vol is.
- Braai die sosaties in ’n pan oor die kole. Sit dit dan warm voor met geelrys en kweperjellie.
WegSleep sê
Nou’t jy sommer klaar gesnyde suurlemoene vir jou skemerkelkie.
Wenk
Week die kwepers in soutwater nadat jy dit geskil en opgesny het. Dit sal keer dat die vrugte bruin word.
Jy moet ingeteken wees om oor hierdie storie to gesels. Klik hier om aan te meld.



