Varkribbetjies
WegSleep #4 | Augustus 2007
RESEPTE: Annette le Roux FOTO'S: Dawie Verwey

Hier’s jou kans om die familielid te word met ’n geheime resep wat selfs jou vegetariese niggie se mond sal laat water. As jy vrygewig is, kan jy hierdie heerlike marinade maar in jou familie-resepteboek neerskryf.

Jy kan steeds die groot geheim van lekker ribbetjies vir jouself hou, naamlik dat jy die vleis eers moet gaar stowe. 

Jy benodig

  • 2 heel varkribbetjies
  • 1 teelepel fyn kaneel
  • 3 teelepels fyn gemmer
  • ’n halwe koppie heuning
  • ’n halwe koppie sojasous
  • ’n halwe koppie appelkooskonfyt
  • ’n kwartkoppie asyn (verkieslik appelasyn)
  • ’n kwartkoppie olie
  • ’n kwartkoppie tamatiepasta
  • fyn gerasperde skil en sap van 2 lemoene (of 2 koppies lemoensap)

Só maak mens

  • Voeg al die marinade-bestanddele saam in ’n kastrolletjie en kook dit vir ongeveer ’n halfuur sonder ’n deksel totdat die marinade verdik het. As jy nie asyn het nie, kan jy suurlemoensap gebruik.
  • Sit die rib in ’n plat oondbak en bedek dit met liggies gesoute water. Maak die bak met foelie toe.
  • Sit die rib op ’n rooster oor matige kole tot die vleis tussen die beentjies sag is, maar nie uitmekaarval nie. Dit neem ongeveer 2 uur.
  • Laat die ribbetjies effens afkoel.
  • Haal die ribbetjies versigtig uit die water en sit dit in ’n droë bak. Bedek dit met die marinade vir so lank as wat jy tyd het.
  • Braai die gemarineerde ribbes oor matige kole (Onthou, die vleis is klaar gaar, jy soek net daai rokerige braaivleisgeur).

WegSleep sê:

Koue ribbetjies is ook heerlike padkos – maak dus sommer genoeg.

Jy moet ingeteken wees om oor hierdie storie to gesels. Klik hier om aan te meld.

© Kopiereg 2010 WegSleep. In Suid-Afrika uitgegee deur Media24.