Soet Ribbetjie
WegSleep #7 | Apr - Jun 2008
RESEPTE: Nettie Pikeur FOTO'S: Ruvan Boshoff
As ’n lamsrib na jou kant toe kom, huppel ’n mens van blydskap. Selfs ’n skapie s’n is nie te versmaai nie. Hoe dit gebraai word, is die braaier se geheim, maar niks keer jou om jou stempel op die marinade af te druk nie.
Dié een is Amerikaans, uit die Suide. Die vleis hoef nie te lank gemarineer te word nie, maar hou ’n bakkie vol daarvan eenkant met ’n kwassie om die vleis verder oor die kole te bedruip.
Jy benodig
- 1 eetlepel klam bruinsuiker
- ’n halwe koppie brandewyn
- ’n halwe koppie dik sojasous
- sap van 2 suurlemoene
- ’n halwe koppie bier
- sout en peper na smaak
Só maak jy
- Meng al die bestanddele saam. Siedaar! Jy het die marinade.
- Verf die marinade oor die vleis en sit dit vir ’n paar uur of oornag in die yskas.
- Braai die ribbetjies soos jy dit gewoonlik braai, maar verf dit ná elke omdraaislag met nog ’n bietjie marinade.
- Pasop dat die vleis brand – met die suiker in die marinade is dit geneig om swart te brand as die kole te warm is.
- Wanneer die rib gaar is, laat dit eers vir 10 minute rus sodat die vleissappe nie verlore gaan nie.
- Laat die ribbetjie ’n bietjie afkoel voor jy dit voorsit. Gooi nog sout oor indien nodig.
WegSleep sê
Skaapribbetjie eet jy met jou knipmes en vingers. Skraap de laaste krieseltjie vleis van daai bene af, Meneer. Hou die bene vir die honde.
Jy moet ingeteken wees om oor hierdie storie to gesels. Klik hier om aan te meld.



