Sjokoladepoeding in 'n swartpot
WegSleep #14 | Jul - Aug 2009
RESEPTE:Tiaan Langenegger FOTO'S: Ruvan Boshoff

Dis die perfekte afronding van ’n lekker warm bord kos. Waarsku jou gaste vooraf om tog ’n gaatjie vir nagereg te los!

Jy benodig

  • 50 g botter
  • 200 ml strooisuiker
  • 1 eier
  • 250 ml koekmeelblom
  • 25 ml kakao
  • 15 ml bakpoeier
  • ’n knippie sout
  • 175 ml melk

  
Vir die stroop

  • 250 ml water
  • 250 ml bruinsuiker
  • 25 ml kakao
  • 2 ml vanielje-ekstrak

 
Só maak jy

  • Meng die botter en die strooisuiker, voeg die eier by en klits dit tot dit glad en romerig is.
  • Sif die meel, kakao, bakpoeier en sout saam.
  • Roer melk by die bottermengsel in en meng dit dan deeglik met die droë bestanddele om klonte te voorkom.
  • Meng die water, suiker en kakao en kook dit in jou swartpot.
  • Gooi die deeg in die sous en sit die pot vir 45-50 minute oor ’n lae hitte met die deksel op tot dit gaar is.
  • Pas op vir te veel kole onder die pot inkrap, die poeding gaan brand. Moet ook nie die deksel binne die eerste kwartier oplig nie, al is jy geweldig nuuskierig.
  • Skep die porsies sommer net so uit die swartpot en bedien dit warm met ’n skeppie roomys of vla.

 
WegSleep sê

Jy ontwikkel mettertyd ’n aanvoeling vir hoeveel hitte dié potpoeding nodig het. As jou eerste poeding flop, pluk jy bloot ’n pak malvalekkers uit en doop dit in die loperige sjokolademengsel – ’n nagereg-fondue!
 

Jy moet ingeteken wees om oor hierdie storie to gesels. Klik hier om aan te meld.

© Kopiereg 2010 WegSleep. In Suid-Afrika uitgegee deur Media24.