Sangria
WegSleep #6 | Feb - Apr 2008
RESEPTE: Nettie Pikeur FOTO'S: Ruvan Boshoff

Dié rooiwyndrankie is so Spaans soos kastanjette en kitaarmusiek en hy kan skop soos ’n bul in ’n stiergeveg, maar met báie sodawater kan jy heeldag daaraan teug. Onder die talle weergawes tel dié klassieke een met lemoene. Die brandewyn is opsioneel... gebruik jou eie oordeel.

Jy benodig

  • 1 liter ligte rooiwyn
  • 100 ml brandewyn
  • suiker na smaak
  • 1 ryp lemoen, in dik skywe gesny
  • 200 ml sodawater (of meer)
  • gebreekte ys, mentblare en lemoenskilrepies

 

Só maak jy

  • Gebruik ’n lekker groot langnekfles wat meer as ’n liter vloeistof kan vat.
  • Gooi die rooiwyn daarin en voeg soveel brandewyn by as waarvoor jou geselskap kans sien.
  • Gooi die suiker versigtig deur die fles se nek en roer dit dan met ’n houtlepel se steel.
  • Druk die lemoenskywe deur die nek en laat dit vir twintig minute staan.
  • Gooi dan sodawater by.
  • Rond die sangria af met gebreekte ys, gekneusde mentblare, repies lemoenskil en dalk nog ’n knertsie sodawater.

 

WegSleep sê

As jy na twee glase jou lyf stiervegter wil hou en jou buurman met ’n strandhandoek tart, het jy dalk te min sodawater bygegooi.

Jy moet ingeteken wees om oor hierdie storie to gesels. Klik hier om aan te meld.

© Kopiereg 2010 WegSleep. In Suid-Afrika uitgegee deur Media24.