Riffelpanwafels
WegSleep #16 | Oktober 2009
RESEPTE: Arina du Plessis FOTO'S: Ruvan Boshoff

Hierdie mini-wafels is maklik om te maak. Sorg net dat jou pan goed warm is voordat jy die beslag inskep.

Jy benodig

  • 375–410 ml koekmeel
  • 15 ml bakpoeier
  • 2 ml sout
  • 15 ml strooisuiker
  • 280 ml melk
  • 2 eiers
  • 3 ml vanieljegeursel
  • 45 ml gesmelte botter
  • gouestroop, heuning of sjokoladesous
  • roomys, indien verkies

 
Só maak jy

  • ’n Basiese beslag. Meng die meel, bakpoeier, sout en strooisuiker saam. Klits die melk, eiers, vanieljegeursel en gesmelte botter goed saam en roer by die droë bestanddele tot glad.
  • Geelkaart vir jou! Laat staan die deeg vir 10 minute.
  • Brandmerk hom. Verhit intussen ’n riffelpan op die gasstoof tot lekker warm. Smeer ’n bietjie olie met ’n kwassie in die pan en skep eetlepels vol van die wafelbeslag in die pan.
  • ’Sop vir flop. Braai tot borrels vorm en die wafel goudbruin aan die onderkant is. Draai die wafel om en braai die ander kant ook tot goudbruin en deurgaar.
  • Stroopsoet. Skep die wafels uit die pan en drup gouestroop, heuning of sjokoladesous oor. Sit net so voor of met ’n skep roomys.

 
WegSleep sê

As jy nie lus is vir deeg aanmaak nie, kan jy ook ’n kitsbeslag vir plaatkoekies of wafels in die supermark koop.

 

Jy moet ingeteken wees om oor hierdie storie to gesels. Klik hier om aan te meld.

© Kopiereg 2010 WegSleep. In Suid-Afrika uitgegee deur Media24.