Rice Krispies-kasteelkoek
WegSleep #16 | Oktober 2009
RESEPTE: Arina du Plessis FOTO'S: Ruvan Boshoff
Dié kasteel se bakstene is alles Rice Krispies-koekies, maar jy kan dit ook met ander boublokkies soos lamingtons, klapperys, fudge en wafelbeskuitjies afwissel.
Jy benodig
- 7 x 250 ml gesnipperde malvalekkers (een kleur)
- 7 x 250 ml pofrys (Rice Krispies)
- 30 ml botter of margarien
- ’n paar druppels koekkleursel (dieselfde kleur as die lekkers)
- helderkleurige lekkers van jou keuse
Vir die botterversiersel
- 125 g sagte botter of margarien
- 500 ml versiersuiker, gesif
- 10 ml vanieljegeursel
- ’n paar druppels koekkleursel
- kookwater
Só maak jy
- ’n Taai kalant. Verhit die malvalekkers en botter stadig saam oor lae hitte in ’n pot. Roer gereeld sodat die lekkers nie aanbrand nie.
- Wys jou ware kleure. Sodra al die lekkers gesmelt het, kan jy dit van die hitte verwyder en die kleursel bymeng.
- Maak dagha. Voeg nou die pofrys by en roer die mengsel goed deur voordat jy dit effens laat afkoel.
- Pan-o-rama. Skep die mengsel in ’n gesmeerde bak of koekpan van 20 x 20 cm. Smeer jou hande liggies met gesmelte botter of olie en druk die mengsel stewig en egalig in die pan vas.
- Sny stene. Verkoel die mengsel in die yskas tot heeltemal gestol en sny dit dan in blokke. Een pan lewer ongeveer 25 groot Rice Krispies-koekies.
- Grrts-grrts tot glad. Verroom die versiersel se botter en suiker.
- Rev hom nou. Klits die geursel, kleursel en ’n bietjie kookwater by om die mengsel smeerbaar te maak. Hou aan klits tot dit lig en romerig is.
- Pofrys-paleis. Stapel die koekies in ’n toring bo-op ’n skinkbord of ’n stewige stuk karton wat jy met tinfoelie oorgetrek het, met lae botterversiersel tussenin. Versier dit dan met die lekkers wat jy ook met die versiersel vasplak.
WegSleep sê
Druk ’n sosatiestokkie van binne af deur die onderpunt van ’n omgedopte roomyshorinkie en plak ’n papiervlaggie aan die punt vas vir “wagtorings” rondom die koek.
Jy moet ingeteken wees om oor hierdie storie to gesels. Klik hier om aan te meld.



