Pampoenplatbrood
WegSleep #2 | Maart 2007
RESEPTE: Annette le Roux FOTO'S: Dawie Verwey
Ek hou baie van vars gebak en dink daar is geen verskoning hoekom mens nie self kan bak nie. Vir dié brode het jy nie eens 'n oond nodig nie; dit word sommer op 'n plaat oor 'n gasvlam, of oor 'n paar kole gerooster. Die Portugese knie dikwels patat of pampoen in hulle brooddeeg in vir kleur en geur en sodoende bly die brood ook langer vars.
Jy benodig
- 1 koppie gaar pampoen
- 1 teelepel sout
- 1 teelepel suiker
- 2 koppies meel
- 3 teelepels olyfolie (of gesmelte botter)
- 1 sakkie kitsgis (opgelos in 'n ¾ koppie louwarm water)
- Vars salieblare
Só maak mens
- Knie die pampoen, meel, suiker, olyfolie, kitsgis en sout tot dit 'n sagte deeg vorm. Sit die deeg in 'n bak wat met botter gesmeer is.
- Maak die deeg met 'n vadoek toe en laat rys tot dit dubbel in grootte word. Hoe warmer dit is, hoe vinniger sal dit rys. Jy het sowat 'n uur nodig.
- Knie die deeg versigtig af en verdeel dit dan in 12 stukke. Laat rus dit op 'n oppervlak wat met meel bestrooi is tot dit weer gerys het.
- Verhit intussen 'n plat, geriffelde plaat, of kry 'n vuur aan die gang.
- Bak die deeg vir sowat 5 tot 7 min. aan elke kant.
- Maak vir jou 'n "kwassie" van salieblare en smeer warm botter oor die brode vir 'n lekker geur.
Annette sê
Dié brood is 'n kruis tussen roosterkoek en pitabrood. Dit kan as ontbyt, middag- of aandete geniet word. Sny dit oop soos 'n koevert en pak dit vol kouevleis, eier en spek of kaas en stroop.
Jy moet ingeteken wees om oor hierdie storie to gesels. Klik hier om aan te meld.



