Pampoenkoekies met lemoenstroop
RESEPTE: Nettie Pikeur FOTO'S: Ruvan Boshoff

Slegs die woord pampoenkoekies laat harde manne swymel van verlange. Dié klassieke resep kom van Lienkie Mohammedtstet van Montagu, maar die salige sousie is ’n sameflansing van lemoene en muskadel – hoe dan anders in die Klein-Karoo?

 

Vir die stroop benodig jy

  • die sap van 2 lemoene
  • ’n halfkoppie suiker
  • 125 ml rooi muskadel of portwyn

 

Só maak jy

  • Giet die lemoensap by die suiker in ’n potjie en roer totdat al die suiker opgelos het, en die stroop begin borrel.
  • Gooi die wyn by en kook vir nog vyf minute.
  • Hou die stroop eenkant warm totdat die pampoenkoekies klaar gebak is en drup dan oor.

 

En vir die pampoenkoekies benodig jy

  • 5 koppies gaar pampoenblokkies, fyn gedruk
  • 2 koppies koekmeelblom
  • 1 teelepel bakpoeier
  • ’n knippie sout
  • ½ teelepel vanielje
  • halfkoppie suiker
  • 1 koppie kookolie

 

Maak dan só

  • Meng al die bestanddele behalwe die olie saam in ’n bak.
  • Verhit die olie in ’n ysterpan op kole.
  • Skep die pampoenmengsel met ’n eetlepel in die warm olie en druk die skeppies plat om koekies te vorm.
  • Draai die koekies herhaaldelik om sodat dit egalig bruin word. Skep dit dan uit in ’n bak, klad effens met handdoekstof, en giet die stroop dadelik oor.

 

WegSleep sê

Pampoenkoekies is ook ’n heerlike nagereg met ’n strooiseltjie bruinsuiker en kaneel. In dié geval kan die soetwyn sommer so skoon in ’n klein glasie daarmee saam bedien word.
 

Jy moet ingeteken wees om oor hierdie storie to gesels. Klik hier om aan te meld.

© Kopiereg 2010 WegSleep. In Suid-Afrika uitgegee deur Media24.