(Pa)askoek
WegSleep #7 | Apr - Jun 2008
RESEPTE: Nettie Pikeur FOTO'S: Ruvan Boshoff

Dis ’n vinnige deeg wat min moeite verg – en die eindproduk smaak soveel beter as winkelbrood. Jy kan dit op die rooster braai, óf sommer in die as.

Jy benodig

  • 1 pakkie (30 g) kitsgis
  • 1-2 koppies louwarm water
  • 1 kg witbroodmeel
  • 1 teelepel sout
  • 1 eetlepel suiker
  • 1 eetlepel gesmelte botter of olie
  • 200 g korente of pitlose rosyntjies

 

Só maak jy

  • Los die kitsgis in ’n bietjie water op totdat dit skuim.
  • Gooi die meel, sout, suiker en botter of olie in ’n diep bak, voeg die water bietjies-bietjies by en meng en knie totdat die deeg sag en elasties is.
  • Laat die deeg op ’n warm plek tot dubbeld die volume.
  • Smeer jou hande met ’n paar druppels olie en knie die deeg af.
  • Laat die deeg nog ’n slag rys.
  • Knyp stukke deeg so groot soos jou handpalm af en maak plat, ronde koeke.
  • Maak met die steel van ’n houtlepel op elke bolletjie twee voortjies wat mekaar kruis en druk korente daarin vas.
  • Bak die koeke direk in lae asbedekte kole (óf op die rooster) vir sowat 40 minute. Draai dit 3 of 4 keer om totdat dit ligbruin is, maar steeds met as bedek.
  • Sny die koek. Moenie skaam wees nie en smeer lekker dik botter en appelkooskonfyt op.


WegSleep sê

Vir die laatslapers: Die meeste supermarkte – ja, ook die 7 Eleven waar jy noodvoorraad soos Coke en Lucky Strike gaan kry – het ’n bakkery waar jy rou brooddeeg in sakkies kan koop. En dié klein supermarkte ís oop op Goeie Vrydag.

Jy moet ingeteken wees om oor hierdie storie to gesels. Klik hier om aan te meld.

© Kopiereg 2010 WegSleep. In Suid-Afrika uitgegee deur Media24.