Mieliebroodjie
WegSleep #11 | Jan - Feb 2009
RESEPTE: Nettie Pikeur FOTO'S: Ruvan Boshoff

Die meeste supermarkte verkoop rou brooddeeg. Al wat jy moet doen, is om die deeg een keer af te knie en te laat rys voor jy dit bak. Onthou om vroeg die vakansie drie blikkies uit te was en te hou sodat jy dit nou as broodpannetjies kan gebruik.

Jy benodig: (vir 3 broodjies)

  • 1 pak (600g) brooddeeg
  • 1 blikkie pitmielies, gedreineer
  • ’n koppie gerasperde cheddar-kaas
  • sout en peper na smaak
  • botter

 

Só maak jy

  • Grawe ’n gat in die grond, ongeveer so diep soos een en ’n halwe blikkie en groot genoeg sodat al drie blikkies regop daarin kan staan, sonder om aan mekaar te raak.
  • Maak ’n vuur in die gat en laat die hout uitbrand tot kole.
  • Smeer die blikkies se binnekant deeglik met botter.
  • Die deeg moet vogtig genoeg wees sodat dit ’n bietjie aan jou vingers vasklou. Indien die deeg te styf is, kan jy ’n titseltjie water byknie, totdat die verlange tekstuur verkry is. Knie die mengsel van gerasperde kaas en pitmielies by die deeg in, verdeel dit in drie gelyke dele.
  • Rol elkeen van die drie stukke deeg in ’n bal en laat val elkeen in ’n aparte blikkie. Laat dit vir ’n uur staan om uit te rys.
  • Wanneer die deeg uitgerys het, kan jy die meeste van die kole uitskep en solank eenkant daarop braai, maar ’n paar los kole moet in die gat agterbly.
  • Maak elke blikkie nou toe met tinfoelie. Moenie die foelie onder die blikkie invou nie, want die broodjie moet dit nog kan opstoot soos wat dit bak. Vorm met jou vingerpunte ’n klein holtetjie bo-op elke blikkie se tinfoelie en skep enkele kooltjies daarin.
  • Pak nou die blikkies versigtig in die gat en pak ’n paar ekstra kole rondom sonder dat dit aan die blikkies raak.
  • As jy jou hand so drie tot vier tellings bo die gat kan hou voor dit te warm raak, is jou “oondjie” se hitte reg. (Nee, nie ’n meter bokant die gat nie.)
  • Die broodjies kan enigiets van 20 minute tot ’n driekwartier neem voor hulle gebak is. Toets die broodjies ná 20 minute met ’n pen. En skuif hulle gereeld rond sodat die eenkant van ’n blikkie nie die heeltyd langs ’n kool staan nie. As jy die brood kan ruik, het dit reeds verbrand.
  • Hou die blikkie met ’n vatlap vas en wikkel die kante van die brood met ’n mes uit die blikkie los voor jy dit uitskud.
  • Sny in ringe en sit warm voor met botter en konfyt.

 

 WegSleep sê

Jy kan ook ander vulsels – soos songedroogde tamaties,  olywe en fetakaas – by die deeg inmeng.

 

Jy moet ingeteken wees om oor hierdie storie to gesels. Klik hier om aan te meld.

© Kopiereg 2010 WegSleep. In Suid-Afrika uitgegee deur Media24.