Lamsribbetjie met marinade
Jy benodig
1 lamsribbetjie
’n hand vol vars tiemie
’n hand vol vars roosmaryn
’n halwe koppie olyfolie
’n halwe koppie sojasous
’n halwe koppie tamatiesous
swartpeper
1 eetlepel gerookte paprika
2 knoffelhuisies
Só maak jy
1 Laat die kruie klets. Meng al die bestanddele saam en laat staan die marinade eenkant totdat jy dit gaan gebruik.
2 Is dit te warm, my lam? Geur die ribbetjie met sout en peper en braai dit oor medium kole tot hy begin kleur kry.
3 Moenie skaam wees nie. Verf nou elke keer wanneer jy die rib omdraai, ’n dík laag marinade bo-oor.
4 Werk daai voorarms! Wees versigtig, want die tamatiesous kan gou begin brand – draai die rooster van nou af meer gereeld om.
5 Bene in die lug. Sodra die ribbetjie gaar is, kan jy dit afhaal en vir ’n rukkie laat rus.
6 ’n Lam ter slagting. Dan kom die knipmesse uit!
WegSleep sê: Vra die slagter om die beentjies aan die onderkant deur te saag sodat jy die gaar ribbetjies maklik van mekaar kan lossny.
.jpg)



