Kerrielamsblad
RESEPTE: Annette le Roux FOTO'S: Dawie Verwey

’n Lamsblad is nie ’n mooi snit nie, en met sy snaakse been is hy moeilik om te sny. Maar dis baie geuriger as ’n lamsboud en ek verkies dit bo enige ander snit. Dis egter ’n snit wat baie meer geskik is vir stowe as vir braai, daarom stowe ek hom eers sag en sit hom dan op die kole.

Jy benodig

  • 1 heel lamsblad (vra jou slagter om dit vir jou op drie plekke tot op die been te saag sodat die marinade goed kan intrek)
  • sout na smaak
  • ’n wortel, ui en ’n paar knoffelhuisies
  • 1 houer (500 ml) Bulgaarse jogurt
  • 4 lepels kerriepasta (Tandoori Curry Paste met tamaryn en gemmer)
  • 1 teelepel sout
  • suurlemoenwiggies en fyngekapte koljanderblare vir voorsit

Só maak jy

  • Sit die lamsblad in ’n kastrol of oondbak. Bedek dit met genoeg water sodat hy kan sag stoom en geur dit met sout.
  • As jy ’n verdwaalde wortel, ui en ’n huisie of wat knoffel het, was dit goed af en voeg by die vleis. Dis nie nodig om dit te skil nie.
  • Sit die deksel op of bedek dit met foelie en bak of stowe die vleis vir ongeveer 3 uur teen 180˚C of totdat die vleis sag is en jy maklik ’n vurk daarin kan steek. (Die groente kan jy weggooi.)
  • Laat die blad afkoel.
  • Meng die jogurt met die kerriepasta en proe of dit vir jou sterk genoeg is.
  • Gooi die sout by die mengsel en vryf die lamsblad goed daarmee in. Laat dit vir minstens 2 uur, maar verkieslik oornag (tot 24 uur) in ’n koel plek marineer.
  • Vryf die meeste van die marinade van die blad af en begin dit dan oor matige kole braai totdat die lamsblad plek-plek skroei.
  • Bedien met suurlemoenwiggies en vars koljander, óf sommer net so sonder tierlantyntjies.


WegSleep sê

Dis wonderlik om jou eie kerriespeserye te meng, maar as jy die speserye nie gereeld gebruik nie, word dit net smaakloos. Kerriepasta is al wat jy nodig het om ’n goeie kerrie te maak, én dit hou baie lank in die yskas. Jy kan natuurlik enige ander marinade gebruik. Vars suurlemoensap met ’n bietjie roosmaryn en olyfolie is ook heerlik.
 

Jy moet ingeteken wees om oor hierdie storie to gesels. Klik hier om aan te meld.

© Kopiereg 2010 WegSleep. In Suid-Afrika uitgegee deur Media24.